PEN Afrikaans. Nuusbrief: November

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

Tuin van Digters 2020

Die huldiging van die Afrikaanse digter en vertaler Daniel Hugo, die voortsetting van die impak van Ampie Coetzee op die Afrikaanse letterkunde, die belangrikheid van vertaling van Afrikaanse digbundels, gesprekke met nuwe jong opkomende digters, die inspirerende kombinasie van Afrikaanse poësie en musiek,  die bekendstelling van en gesprekke met nog onontdekte digters in Afrikaans, en ’n stylvolle haikoebundel en die Ingrid Jonker-pryswenner.

Dit is wat onder meer wag op liefhebbers van die Afrikaanse digkuns wanneer die negende Tuin van Digters-fees, die tuiste van die Afrikaanse digkuns, op 27, 28 en 29 November 2020 by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasvind.

 

Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry weer vanjaar gratis toegang tot Tuin van Digters. Baie dankie aan Francois Lötter van die Breytenbach Sentrum.

Ons sien uit daarna om op Saterdag, 28 November, ’n besonderse produksie met die finansiële ondersteuning van PEN International by dié fees aan te bied.

’n Aangepaste uittreksel uit Smeltkroes, ’n NATi-ondersteunde produksie wat in 2021 sy debuut maak, is om 13:00 te sien in die Akkoordtent, met onder andere Luna Paige, Ramon Alexander, Frazer Barry, Jolyn Phillips en Shirmoney Rhode:

Afrikaanssprekendes van die Kaap vind hul wortels wyd en syd. Hier is nou ‘n Smeltkroes van tekste (lief en leed) met die oorsprong uit Afrika, Europa en die Verre-Ooste. Het die dice vir jou sus of so geval? Smeltkroes speel met lied en woord en wys ons dat ons deur veel meer as taal aan mekaar verbind is. “Afrikaans sing in ‘n duisend stemme”… en dit is goed so.

Moet dit nie misloop nie. Opbetaalde lede se name sal op ‘n lys by die deur wees. Navrae oor ledegeld kan vooraf na penafrikaans@gmail.com gestuur word.

Laai die volledige program hier af.

 

Wenners van die ATKV-Woordveertjies aangekondig

Die ATKV-Woordveertjies, wat reeds vir meer as ’n dekade uitmuntende skrywers, digters en dramaturge bekroon, het vanjaar ’n splinternuwe baadjie aangetrek met die aanlyn bekendmaking van die wenners.

Hartlik geluk aan die wenners in die onderskeie afdelings. Dit is welverdiende erkenning.

Hier is die persverklaring oor die wenners vir poësie, dramatekste en woordeboeke, en hier is die wenners van die Veertjies vir prosa, niefiksie en spanningslektuur.

Algemene jaarvergadering

PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering het op 21 Oktober via Zoom plaasgevind. Dankie aan almal wat ingeskakel het om saam met ons terug te kyk op ’n buitengewone jaar. Daar was ook tydens die vergadering ’n stemming om ons lede se mening te hoor oor PEN Afrikaans se moontlike betrokkenheid by regsaksie teen die onregmatige verspreiding van e-boeke.

Klik gerus onder vir die notule en jaarverslae:

 

Aansoeke ingewag: PEN Afrikaans Vertaalfonds

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds is daarop gemik om die Afrikaanse letterkunde in die buiteland te bevorder deur vertaalkoste te subsidieer. Ruim finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys maak dit moontlik om twee maal per jaar aansoeke te ontvang en oorweeg.

Die volgende sluitingsdatum by die Vertaalfonds wink. Aansoeke moet teen 15 November na penafrikaans@gmail.com gestuur word. Slegs buitelandse uitgewers kan aansoek doen, nie vertalers of ander rolspelers nie. Die volledige reglement met aansoekvorm is hier beskikbaar.

 

Outeursreg en toegang tot boeke vir siggestremde lesers

Die organisasie Blind SA het onlangs aangekondig dat hulle beoog om op Wêreldmenseregtedag te betoog teen die onbeskikbaarheid van boeke in Braille en ander formate wat vir siggestremde lesers toeganklik is.

Die Suid-Afrikaanse regering versuim al vir jare om die Marrakesj-verdrag, ’n internasionale verdrag oor kopiereguitsonderings vir siggestremde lesers, te bekragtig. Blind SA was ten gunste van die omstrede Wysigingswetsontwerp op Outeursreg omdat die wetsontwerp bepalings bevat wat daarop gemik is om dié leemte te vul. Helaas is die bepalings, soos menige in die wetsontwerp, nie in lyn met internasionale standaarde nie.

Alhoewel PEN Afrikaans gekant is teen die aanvaarding van die wetsontwerp weens die voorsiene nadelige uitwerking op skrywers en uitgewers, ondersteun ons siggestremde lesers se reg tot toegang tot boeke ten volle. Dit is ’n jammerte dat dié saak verstrengel geraak het in die moeras van problematiese bepalings wat in die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg vervat is.

Lees hier meer oor Blind SA se beplande betoging.

Lees gerus ook hier ‘n artikel deur Chola Makgamathe, voorsitter van die Kopieregkoalise waarvan PEN Afrikaans deel is.

 

Maandelikse resensie-oorsig


Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Oktober 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in November 2020

Met die feestyd wat naderkom, is die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn veral ’n gepaste manier om mee te sluit.

Die publikasielys kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Baie geluk en alle sukses aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Mag die boeke oor die feestyd en verder groot byval vind.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •