‘n Vry vrou deur Antjie Krog, Human & Rousseau, 2020
Resensie: Heilna du Plooy
Dit is gebruiklik dat daar van tyd tot tyd versamelbundels verskyn waarin ’n seleksie uit die werk van belangrike en prominente digters bymekaargebring word. Antjie Krog is gewis een van die Afrikaanse digters wie se statuur versameling en heruitgawe vereis en daarom is die verskyning van ’n Vry vrou. Gedigte van Antjie Krog ’n welkome en tydige publikasie.
Daar is verskeie aspekte wat so ’n bundel met ’n seleksie van gedigte uit die oeuvre van een digter belangrik en noodsaaklik maak. Dit is in die eerste plek ’n erkenning van die status van ’n digter asook van die gehalte en gewildheid van die digter se werk. Die herpublikasie van gedigte uit bundels wat lank terug verskyn het, of selfs uit druk is, bring verder spesifieke gedigte opnuut onder die aandag en bevestig hulle waarde. So ’n publikasie bring dus die digter self en haar werk opnuut onder die aandag van lesers.
Vanselfsprekend maak so ’n publikasie ’n stelling – ’n stelling wat onvermydelik direk of indirek met kanonvorming of kanonbevestiging te make het. Die waarde en belang van die digter en haar werk word daardeur opnuut beklemtoon, bevestig, herbevestig en uitgebrei, wat ookal die maatstaf van die samesteller was by die seleksie en ordening van die gedigte. Samestellers maak soms ’n keuse met die oog op die gedigte self (enkelgedigte wat deur die samesteller as voortreflik beskou word wat die literatuurbeskouing van die samesteller sal weerspieël); soms is die oogmerk om ’n oorsig oor die digter se werk te gee en dan word gedigte wat as verteenwoordigend beskou word uitgesoek; soms word ’n keuse gemaak met die oog op populêre smaak waar die samesteller ’n inskatting maak van waarvan lesers sal hou op ’n bepaalde tydstip in die geskiedenis. Al hierdie soorte samestellings word ook gemaak teen ’n bepaalde historiese agtergrond, hetsy ideologies of literêr-teoreties en kan die bestaande siening van die digter en haar werk (d.w.s. haar plek in die kanon) bevestig of kritiseer of selfs ondermyn.
Die ander belangrike feit is dat die samesteller ’n belangrike rol speel in hoe die werk van ’n digter beskou en onthou word en dat die maatstawwe wat aangelê word by die keuse en die ordening wat gebruik word in die versameling ook die posisie en waarde van die digter en haar werk beïnvloed.
In sy boek Love and its Critics waarin ’n oorsig oor die ontwikkeling van liefdespoësie oor die eeue heen bespreek word, beskryf Peter Bryson (2017) kritici en samestellers en navorsers oor die letterkunde as “those our culture has entrusted with the authority to perpetuate the understanding, and the memory, of poetry” en gaan verder om te sê dat hierdie mense weerstand moet bied daarteen dat die poësie gereduseer word tot blote allegorie of ideologie. So ’n opmerking is vir my belangrik omdat die poësie kan dra wat gewone diskoers of openbare gesprek nie kan dra nie, veral as dit gaan om die intensiteit en kwaliteit en aard van belewenis. Soos Seamus Heaney dit gestel het in “Crediting poetry”, sy Nobelprysrede uit 1995:
I credit poetry … both for being itself and for being a help, for making possible a fluid and restorative relationship between die mind’s centre and its circumference … I credit it because credit is due to it, in our time and in all time, for its truth to life, in every sense of that phrase.
Die verantwoordelike sameseller hou al hierdie dinge waarskynlik gelyktydig in gedagte: die oeuvre, die voortreflike enkelgedig, die digter as digterspersoonlikheid en die leserspubliek. Nogal ’n jongleurskunstenaar moet so een wees! Nogtans is daar steeds mense wat hierdie moeilike werk aanpak en uitvoer ter wille van die liefde vir die poësie, mense wat die slaggate sien en systap, wat weet dat hulle in ander slaggate sal trap maar wat nogtans voortgaan en ’n produk van waarde probeer aflewer. ’n Vry vrou is so ’n bundel wat getuig van insig in die oeuvre van die digter en wat die digter self asook ’n verteenwoordigende aantal gedigte weer onder die aandag bring. Die bundel is ’n waardige bestek van ’n oeuvre tot in hierdie stadium.
Die heraanbieding van gedigte, treffende goeie gedigte, vanuit ’n nuwe invalshoek wat nuwe insig en ’n nuwe vervreemdende blik op elke spesifieke gedig rig, is en bly dus nodig en prysenswaardig. En in die geval van ’n digter soos Krog is dit hoog tyd vir ’n nuwe versamelbundel aangesien Digter wordende reeds in 2009 verskyn het. Nie net het daar nog twee bundels van Krog daarna verskyn nie, maar die wêreld van waaruit lesers na haar werk kyk, het verander en hoewel dit die gedigte anders kan laat lyk, toon dit ook dat die gedig as gedig sy seggingskrag behou. ’n Vry vrou oorvleuel dan ook glad nie met Digter wordende nie en maak ’n bydrae daarin dat ander gedigte hier weer onder die aandag gebring word.
Die belangrikste aspekte wat aandag verdien by so ’n hersamestelling van gedigte is die seleksie van die gedigte uit al die bundels van die digter en dan veral die ordening in die versameling. Dit is ongetwyfeld so dat ’n ander “tekstuele omgewing” nuwe insig in gedigte moontlik maak, dat die leser met nuwe oë kyk wanneer gedigte in ’n ander verband te staan kom en dat daar nuwe verbindings en assosiasies deur ander binnetekstuele verhoudinge gegenereer word.
Soos die titel aandui, val die klem in hierdie versameling op gedigte wat handel oor vroulike ervaring en vroulike sienings van sake. Krog se gedig “Paternoster” waarin sy haarself as ’n “vry fokken vrou” verklaar, het immers al ikoniese status verwerf en die sterk persoonlike en individualistiese aanslag in Krog se oeuvre maak ’n fokus op vroulikheid in ’n wyer sin sinvol. Die bundel bevat vyf afdelings, elk met ’n poëtiese aanhaling as opskrif. In die eerste afdeling “sink my man sy tong in my” word liefdesgedigte uit al die bestaande bundels byeengebring en in die volgende deel “ek wou ’n ark skep in my arms” handel die gedigte oor die verhouding van vroue tot kinders en kleinkinders, meeestal die kinders in die digter se eie lewe, maar ook ander vroue word betrek.
Die gedigte in die derde deel van die bundel met die opskrif “die wilde olyfbome blom” sou ek beskryf as gedigte wat verband hou met Afrika, die fisiese plek, die geskiedenis en die mense en spesifiek die vroue van Afrika. Die skryfproses kom aan die orde in “ek skryf omdat ek woedend is” en die laaste afdeling bevat gedigte oor ouerword en siekte en die die konfrontasie met die naderende dood soos wat vroue en die digter self dit ervaar. Nogtans moet mens in gedagte hou dat gedigte betekenis in uitwaaierende sfere aktiveer en dat die gedigte uiteraard tematies oorvleuel: ’n liefdesgedig kan ook elemente van die verhouding tot die land bevat, ’n skryfgedig of poëtikale gedig kan ook oor die liefde handel en ’n gedig oor die dood ook na skryf of oor die kwellinge van die land verwys. Dit gebeur ook in hierdie bundel en versterk sodoende die eenheidskarakter daarvan omdat die gedigte oor en weer met mekaar praat en die leeservaring vir die leser saambind.
In elke afdeling is daar gedigte uit vroeë en latere bundels en dit onderstreep die gedagte dat Krog van die begin af met bepaalde temas besig was en steeds is: die liefde en die erotiek, die verhouding tussen ’n mens en haar allernaaste, kinders en eggenoot en geliefdes, die land waarin sy leef met sy kenmerkende politieke en historiese kwessies, die skryfhandeling en die noodsaak om te dig. Dit is ’n bekende feit dat Krog se werk sterk outobiografies is en dat opeenvolgende bundels telkens gehandel het oor die lewensfase waarin sy haar bevind het. En nou blyk dit duidelik dat sy nogtans in elkeen van daardie lewensfases deur verwante kwessies aangegryp was tot so ’n mate dat sy daaroor geskryf het. So kom ’n gedig soos “oorsprong” uit Januarie-suite (1972) te staan langs “begrafenis” uit Lady Anne (1989) en “bergmeditasie : sondag 24 januarie” uit Verweerskrif (2006). Al drie gedigte het met die dood en verganklikheid te make en soos in die ander gedigte in die afdeling, skryf Krog van die begin af met dieselfde passie en intensiteit daaroor.
Die afdeling met die liefdesgedigte begin met twee verse uit die negentigerjare en dan kom “ons dorp, XI” uit 1985 en “’n ver-af trein” uit 1972. Die bewoording van liefdeservaring is in vroeë en later verse ewe oorrompelend, van “my geliefdaantige ondergang” en “jy skiet my vol blomme/ blitsende kalkblank asters uit jou loop” tot by “jou nat snoet in my lies”, “tot die sinne toe verruk, is ek ’n vrou van wortelskiet” en “hoe meer ek jou vernietig/ hoe meer hink ek self ten gronde” is die leser uitgelewer aan taal wat jou oorwoeker en insleep in die gedig.
Wat ook na vore kom waar Krog se gedigte tematies gerangskik is, is wat Bernard Odendaal (2013) in ’n artikel assosiatiewe bondeling (“associational clusters”) genoem het, d.w.s. eienskappe wat die gedigte aan mekaar verbind, wat ooreenstemmende gedagtes beklemtoon en versterk, hetsy deur middel van inhoudelike of tegniese middele. Ek dink hier, om ’n enkele voorbeeld te gee, aan die opvallende gebruik van voornaamwoorde: dis deurgaans duidelik in ’n gedig oor wie dit gaan en wie aan die woord is of dit ’n ek-gedig of ’n sy-gedig of ’n hulle-gedig is. Die gedig is dus meestal baie sterk gekoppel aan persone of ’n mens, dikwels aan ’n spesifieke mens wat aan ’n bepaalde gedig ’n samehang gee deur die vers as’t ware vanuit die “fokalisasie” van daardie een karakter te laat praat. Die voornaamwoorde word ook baie herhaal in ’n gedig: of dit nou ’n “ek” en “jy” is, ’n “sy” of “my man” en daarin sien ek ’n gerigtheid op mense: die gedig is nie liriese swewend nie, maar geanker in menswees al is die taal intens liries. Krog bly regdeur haar oeuvre ’n digter wat diep bewus is van verhoudinge tussen mense en mense en hulle omgewing.
Dit sou ’n omvattende studie verg om Krog se voorkeur vir bepaalde terme en soorte uitdrukkings in diepte uit te wys en na te trek, woorde soos “lyf” liewer as liggaam, grond en ondergronds wat in verskillende kontekste gebruik word (vir skryf of vir die fisiese land), ’n voorkeur vir dieperliggende dele van die liggaam soos bloed en murg, d.w.s. ’n voorkeur vir die meer intense woorde, die grondigste die onontkenbaarste en onontkombaarste woorde wat aan hulle referente dieselfde intensiteit en onontkenbaarheid verleen. En afgesien van waaroor sy skryf, hou Krog hierdie intensiteit vol. Ek het aanvanklik gedink die digter se taalgebruik en oorgawe aan emosie in vlammende woorde word intenser in die later bundels. Dalk is dit wel so (veral as mens dink aan ’n gedig soos “sonnet van die warm gloede”), maar selfs in die vroeër gedigte verlustig die digter haar in die skepping van woorde wat intensiteit oproep. Hierdie intensiveringtegnieke in ’n enkelwoord of in ’n frase kenmerk Krog se werk dus deurgaans en word as ’t ware haar merkteken: “swyn”, “sanik ’n sent” “jou kop gehael”, “kielhaalaard”, “fynmasige wade”, “drummelend” en nog vele meer.
As die samesteller, en sekerlik die uitgewer ook, wou hê mense moet hierdie versamelbundel lees op ’n manier waardeur hulle die gedigte met mekaar laat praat en ook op ’n ander manier laat praat as wat die gedigte in hulle oorspronklike publikasie in bundels met hulle tekstuele kontekste gepraat het, dink ek die versameling is ten opsigte van seleksie en ordening suksesvol. Dit bied ’n oorsig maar dit lok die leser ook uit tot insigsoekende lees. Krog die minnares, die verkennende reisiger van binne- en buitewêrelde van ervaring, die sorgsame, selfs treurige moeder, die een wat kan identifiseer met ander vroue en kinders, die ideologies besielde onmaskeraar van die foute van die verlede, die ouerwordende vrou – al hierdie beelde staan herhaaldelik helder belig voor die leser op.
In ’n studie oor die konsep van “swerf” of “swerwer” in die gedigte van Duitse en Engelse digters van die romantiek suggereer Julian Scutts (2019) dat swerf of reis of dwaal as begrip en vele ander afleidings en variante daarvan met ’n kernaspek van die poësie as sodanig verband hou. “Swerf” en “swerwer” (“wandern” en “Wanderer”) is veel meer as ’n onderwerp of ’n tema, maar dui op ’n bewustheid van verhoudinge en veranderende verhoudinge. Verhoudinge kan nie bestaan sonder mense en dinge wat met mekaar in verband gebring kan word nie sodat verhoudinge die uiteindelike materiaal van die poësie is. Dit verskaf die onderwerpe en die temas waaruit digters put. Inherent aan reis en swerf en soek is die vermoë om te kan herposisioneer, om te kan draai en te kan omdraai, om uit ander hoeke te kan kyk en om transformasies te kan raaksien of kan bewerkstellig. Swerf is dus vir Scutts die bewussynstoestand, die poëtiese ingesteldheid wat idees voed wat dan in woorde tot uiting kom.
Hiermee wil ek nie beweer dat Krog ’n romantiese digter is nie, daarvoor is sy te konkreet en direk ten spyte van haar liriese byna oordadige taalvermoë. Nee, dit gaan daaroor dat Krog ’n werklik poëtiese ingesteldheid het, dat sy van ’n gewone ding of situasie ’n diamant kan maak omdat sy ’n ander faset daaruit kan uitslyp of inslyp, omdat sy die kameleontiese van die daaglikse bestaan kan insien en poëtiese transformasies kan bewerkstellig. Miskien is sy selfs op haar beste as sy oor menseverhoudinge skryf en nie oor die politiek nie al is die politiek vir haar so belangrik as die merker van die inhoud van mense se ideologiese onderbewuste.
Vir my was die lees van hierdie bundel opnuut soos ’n reis deur Krog se oeuvre, ’n ander en nuwe reis op’n ander manier wat die raaksien van ander verhoudinge tussen temas en tegnieke oopgemaak het. Dit is ’n genoeglike reis omdat dit ’n bestaande gesprek verder voer, omdat dit aansluit by wat bekend is, maar dit tog weer nuut maak.
Die bundel is netjies en goedversorg uitgegee in hardeband deur Human & Rousseau met ’n foto van Krog wat die leser nogal stoer, direk en ferm in die oë kyk op die voorblad.
Bronne:
Bryson, Michael & Movsesian, Arpi. 2017. Love and its Critics. Cambridge, UK: Open Book Publishers.
Odendaal, Bernard. 2013. “Eenheid-in-veelheid as struktuurstramien in die poësie van T.T. Cloete, met klem op bundelbou”. Literator; 34 (1).
Scutts, Julian. 2019. A Defense of Wandering. Academia.edu. Datum geraadpleeg 13 November 2020.
Van Coller, HP. 2002. Die saamstel van bloemlesings as kanoniserende handeling. Deel 1 en Deel 2. Tydskrif vir geesteswetenskappe, 42(1): 66-78 en 117-127.