Nini Bennet gesels met Johann de Lange.
Johann de Lange en Goodenough Mashego is die redakteurs van I wish I’d said … Volume 3. Die AVBOB-Poësiekompetisie wat uiteindelik sal kulmineer in ‘n vierde volume van dié gedigte, het Maandagnag ten einde geloop. Daar lê nou ‘n harde pad voor van keuring vir al die redakteurs wat die gedigte wat vanjaar ingeskryf is, moet keur. In dié verband het Nini Bennet gesels met Johann de Lange.
Nini Bennet: Johann, baie geluk met I wish I’d said (volume 3). Jy is sedert 2017 betrokke as hoofredakteur by die AVBOB-Poësieprojek se I wish I’d said-bloemlesings. Hoe verskil die digters se inskrywings van jaar tot jaar – is daar byvoorbeeld ’n soort Zeitgeist wat begin uitkristalliseer?
Johann de Lange: Daar is definitief ‘n groei nie net in die hoeveelheid inskrywings nie (ons het vanjaar 41 149 inskrywings ontvang) maar ook in die gehalte van die skryfwerk. Soos die bekendheid van die projek toeneem, trek dit ook meer gevestigde digters aan. Ek dink vir baie van ons digters is die kompetisie ‘n eerste kennismaak met die kultuur van skryf & deur te lees wat ander digters doen, is ‘n nuwe geslag digters besig om hulleself te skool. Daar is soms natuurlik eksterne faktore ook in die inskrywings, soos die pandemie byvoorbeeld. Daar is baie gedigte wat dit konfronteer.
Op ‘n ander meer indirekte manier is die invloed van die keurders sigbaar oor tyd. Ek praat nou spesifiek van Engels omdat ek dit nougeset volg. Daar is ‘n merkbare verbetering in die kwaliteit van verse wat ontvang is oor die afgelope vier jaar. Ek dink digters lees die verse wat die poësiebiblioteek gehaal het om te leer wat hulle onderskei van die wat gefaal het & bewustelik of onbewustelik begin hulle daardie stemme emuleer. Die redakteur se seleksie & praktyd oefen as’t ware ‘n soort exolusionêre druk uit op die digters & hulle lewer sterker werk. Hulle leer meer van vorm, tegnieke, prosodie & groei. Ek glo dit is waar ook vir die ander redakteurs.
NB: Vertel ons gerus meer van die frustrasies – én vreugdes – wat jy as redakteur van so ‘n groot projek daagliks agter die skerms beleef.
JdL: Baie van die frustrasies het te doen gehad met ons pogings om die proses van keuring vlot te laat verloop. Daar was veranderinge wat aan die back end van die webwerf gemaak moes word. Maar dit is nou die 4de jaar & daardie probleme is iets van die verlede. Werk aan hierdie projek is louter vreugde. Watter digter sou nie heeldag met gedigte wil werk nie, ‘n ononderbroke stroom gedigte te kan lees, & beste van alles, om nuwe stemme te ontdek, & nuwe werk van bekende stemme.
NB: As dit by die bevordering van meertaligheid in Suid-Afrika kom, kan die AVBOB- Poësieprojek as monumentale onderneming en enig in sy soort beskou word; óók wêreldwyd. Vertel ons asseblief meer.
JdL: Wel, ek dink die Avbob-projek is uniek al net deur die hoeveelheid tale wat in een land betrek word, & dan is die kompetisie ook oop vir alle ouderdomme. So dit gooi ‘n baie groot worp uit. Ek dink ook wat die hoeveelheid inskrywings betref, is hierdie kompetisie uniek. Aan die begin het ons gehoop op so 5 000 inskrywings & toe kry ons 20 774, & elke jaar groei die kompetisie. In 2018 het ons 29 133 inskrywings gekry & in 2019 was dit 30 573. Ons het gehoop om ná vanjaar se kompetisie globaal 100 000 inskrywings te haal vir die vier jaar. Maar ons stoutste verwagtings is oortref met 121 629 inskrywings oor die vier jaar.
NB: Met die vertaling van poësie word die sosiale konteks van die een taal na ’n volgende taal oorgedra en vind daar ’n multikulturele kruisbestuiwing op linguistiese vlak plaas. Lersers ontwikkel begrip vir ander lesers se kultuur deur vertaalde poësie te lees. Die AVBOB Poësieprojek het ook ’n sterk antropologiese fokus. Wat is jou siening van bogenoemde?
JdL: Vertaling is uiters belangrik in ‘n multikulturele, veeltalige land soos ons s’n. Die droom was natuurlik om elke vers wat op die webblad geplaas word ook te vertaal, maar dit was eenvoudig nie finansieel moontlik nie. Kan jy jou voorstel wat 14 449 vertalings sou kos? Daarom vra ons die digters sélf om waar moontlik hulle verse te vertaal. Ons kry in ‘n ander sin báie vertalings in die vorm van Engelse gedigte deur sprekers van inheemse tale. Die kultuur & tradisie word op die manier oorgedra. Die Engelse kategorie is verreweg die grootste. Ek meen ons het vanjaar om & by 17 000 Engelse verse ontvang. Kan jy jou indink hoe voos die arme Engelse redakteur aan die einde van hierdie kompetisie was.
Wat vir my báie opvallend is, is hoe sterk die kulturele, rituele aspek in verse rondom die dood deur die verskillende taalgroepe is. Daar is ‘n sterk religieuse inslag. Rituele, tradisies ens. Die verse is ‘n ryk bron wat tradisionele, kulturele aspekte aanbetref, die tradisie van die praise song, bv waar die léwe van die gestorwene gevier word. Ek kry ook glimpse van die verskil in die tale self. Die nood wat daar is vir formalisering van spelling & grammatika in van die tale.
Die demografie van die verskillende taalgroepe bepaal egter nie die aantal inskrywings wat ons per taalgroep ontvang nie. Ek sou wou sê dit lyk vir my of sommige tale ‘n sterker poëtiese tradisie het as ander, maar dit sou gevaarlik & misleidend wees. Sommige tale het ‘n hoë aantal inskrywings, soos bv. isiZulu, isiXhosa, Tshivendi, Xitsonga, Sesotho, terwyl ander soos Sepedi of Siswati & isiNdebele kleiner getalle trek.
NB: ’n Mens leer uit jou foute. Is daar dinge wat jy nou – met Volume 3 – beter, ánders doen as voorheen?
JdL: Die jaarlikse bloemlesing het van jaar een sy beslag gekry & niks het verander sedertdien nie. Ons vra ‘n aantal gevestigde digters uit elke taal om vir ons splinternuwe verse te skryf rondom die dood, die idee van sterflikheid ens & die redakteurs vertaal dan daardie gedigte in Engels. Ons plaas ook die eerste drie wenners van elke taal se gedigte, weer eens met vertalings. En dan voeg ek elke jaar ‘n paar ‘verse’ in uit van ons sterwende of gestorwe tale om die idee van tradisie & van kontinuïteit te beklemtoon.
NB: Watter rol speel Westerse godsdiens in die hantering van die doodstematiek in die ingeskrewe gedigte?
JdL: Ek sien ‘n baie sterk Christelike komponent in die verse uit inheemse tale. Daar is aan die ander kant verse waarin die tradisie en geloof ‘n rol speel, voorvaders, gode etc. Dis ‘n baie belangriker aspek as by Afrikaanse & Engelse verse.
NB: Die tematiese kategorieë behels liefde, dood, geboorte en hoop. In watter kategorie ontvang julle die meeste inskrywings, en waarom dink jy is dit so?
JdL: Ons gedigte biblioteek op ons webtuiste www.avbobpoetry.co.za staan nou op 14 449 & verreweg die grootste aantal daarvan, 5 482, is in die Dood kategorie. En dit is verstaanbaar, dit is die sentrale tema van die projek, maar dit is ook omdat die dood, ons sterflikheid, een van die heel groot temas in die poësie is, dit is die een ding wat almal van ons regoor die wêreld verenig: dat ons gebore is, liefhet & hoop, & dat ons sal sterwe.
NB: Suid-Afrikaanse poësie is ’n heterogene register van ’n magdom style, invloede en tradisies. Daar is performance poetry, die inheemse orale tradisies van lofsangers en die kruisbestuiwing van rap en Amerikaanse hip-hop. Hoeveel van hierdie nuanses gaan verlore in geskrewe poësie, of kan ’n goedgeskrewe gedig die afwesigheid van die gesonge/gesproke medium oorleef?
JdL: Ek dink al daardie style word in die gedigte weerspieël in mindere of meerdere mate. Dit is dikwels die geval dat performance poetry nie altyd die tog na die papier ewe suksesvol aflê nie, maar gedigte is veronderstel om voorgelees te word, & nie net in die leser se gedagtes nie. Daar is dikwels goeie gedigte wat ons moet afkeur omdat dit nie by die tema of etos van die kompetisie hou nie. Die riglyne vir die kompetisie is dat die verse oor die dood, sterflikheid, oudword, etc. moet handel. Verse wat dus sterk eroties of polities is, sal afgekeur word. Ek dink dit sal ‘n wonderlike idee wees as ons sulke digters na ander webtuistes soos Versindaba kan verwys sodat hulle daardie gedigte geplaas kan kry. Iets waarna ons moet kyk. Daar is ook heelwat baie ontstellende verse oor Gender Based Violence wat ook nie geplaas kan word nie. Ons het planne daarvoor volgende jaar, dis ‘n belangrike kwessie wat aandag verdien & wat meer onder die aandag van die breër publiek gebring moet word.
NB: Die bundel is keurig verdeel in 66 opdraggedigte (6 in elke landstaal), die 33 AVBOB Poësiekompetisiewenners, en dan 3 gedigte in ƖXam, wat op die rand van uitsterwing staan – die lot van heelparty Khoisan-tale. Waarom het julle (in volume 3) juis op ƖXam besluit?
JdL: Die keuse van |Xam het in die eerste plek te doen gehad met die beskikbaarheid van materiaal. Die werk van Lloyd & Bleek het baie gedoen om groter bekendheid met daardie vertellers se werk te bring. Vir volume 4 wil ek na Khoikhoi kyk.
NB: ’n Goeie gedig moet verruk; moet die leser verras. Gee asseblief ’n voorbeeld van so ’n vers wat jou persoonlik bybly.
JdL: Daar is soveel goeie verse wat ek sou kon opnoem, maar een wat by my bly steek het om die eenvoud & veral om die humor is die volgende vers van Geoffrey Haresnape, nogal gepas in dié jaar van die vrou:
Tom Southcross Considers Eden and After
in the terrestrial paradise
Eve plucked a hanging fruit
upon a tree that waved its green
from an assertive root
in sampling it she found a world
that made her taste buds zing
she took it to her man and said
“you’ve got to try this thing”
Adam agreed to take a bite
and found that she spoke true
he felt a psychedelic charge
that shook him through and through
but god the father was not pleased
with what the pair had done
he nabbed them in the fading light
and sent them on the run
they had to leave the garden’s peace
where they drew easy breath
digging and spinning were assigned
until eventual death
the delver laboured with his wife
to prosper and beget
until at last her moment came
to pay a dreadful debt
and Adam, too, grew tired and soiled
from red earth work so dirty
the old hand tallied at his end
nine-hundred years and thirty
as for Eve’s total when she died
the ur-text does not tell
its patriarchal narrative
does not treat women well
NB: Baie dankie vir ’n prikkelende onderhoud, Johann.
I wish I’d said…vol. 3. Editors: Johann de Lange & Goodenough Mashego, Naledi, 2020. Die bundel kan bestel word by Naledi. E-pos: tertiaswart@naledi.online. Telefoonnommer: 0786488616
Oor die rariteit van /Xam-gedigte-uit-2020: Wys ons dan tog een of twee? Selfs ‘n stukkie van?