Aantal jeuginskrywings in die AVBOB Poësiekompetisie skiet die hoogte in

 

 

 

MEDIAVERKLARING
Uitgereik: 10 Desember 2020

 

’n Rekordgetal inskrywings is ontvang in die vierde jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie wat van 1 Augustus tot 30 November 2020 aangebied is. Dit vertel ’n gerusstellende verhaal oor die siel van Suid-Afrika.

In haar lof vir die kompetisie, noem die bekroonde Afrikaanse digter Antjie Krog dit “’n verstommende gebeurtenis wat jaarliks in ons midde ontplof: duisende gedigte in al die tale van ons land! Geskryf, gelees en vertaal! Ek kan aan geen ander kompetisie in die wêreld dink wat so omvangryk is in terme van taal, wat so versorgend uitreik na elke gedig, en so uniek is in effek nie as die AVBOB Poësiekompetisie.”

Kompetisiedata toon dat geen digter te jonk of te oud is om die pen op te neem nie: Vanjaar was ons jongste deelnemer sewe en die oudste 98. Ons het ook ontdek dat daar ’n skerp toename is in kwaliteitgedigte in Siswati en Setswana, met onderskeidelik 254% en 118% méér inskrywings. Ons het gesien dat mense hul gevoelens en vrese, hul ideale en hunkeringe met ons deel – ondanks (of dalk as gevolg van?) die jaar van die pandemie – deur ’n verstommende totaal van 41 139 gedigte; ook dat digters wie se werk gekies is vir publikasie in die AVBOB Poësiebiblioteek gesamentlik R1,23 miljoen aan publikasievergoeding verdien het.

Die kompetisie het voorts gewys dat die ware uitblinkers die jeuginskrywings is, want byna 75% van die totale getal is dié van skrywers jonger as 35.

Die hoofredakteur, Johann de Lange, sê dít is ’n werklik opwindende verskynsel. “Dié syfers dui op ’n passievolle begeerte by jongmense om hul ervarings te verwoord en om ’n rol te speel in die vestiging van ’n lees- en skryfkultuur. Dis ’n uiters positiewe ontwikkeling wat bewys dat poësie lewendig is onder die jonger generasie, deur dié belangstelling in en toewyding aan skeppende skryfwerk. Indien ons aanvaar dat poësie die kanaal vir die uitbeelding van ons diepste menslikheid is, kan ons ons hoop stel op ’n beter toekoms, omdat jongmense die poësie as ’n band tussen mekaar sien en as ’n manier om vir hulself ’n bepaalde stem te gee.”

Die toename in die belangstelling in Siswati- en Setswana-poësie is belangrik vir die poësiegemeenskap. Vir De Lange beteken dit dat ’n literêre tradisie besig is om as ’n kulturele verskynsel te ontwaak. “Inheemse tale was histories nooit ten volle verteenwoordigend binne die literêre kanon nie, maar ’n splinternuwe tradisie is besig om te ontwikkel. Dis betekenisvol, omdat jong digters nou hul unieke stem op ’n oorspronklike manier ontdek. Dit verskil van dié van hul voorvaders wat die struggle as bevryding beskou het, want hierdie uitdrukkingswyse – in die tyd van COVID-19 – dui op nuwe, energieke vasbeslotenheid en moed.”

Die kategoriebeoordelaar, prof. Stanley Mdonsela, het die gemeenskap Siswati-digters gelukgewens met die merkbare verbetering in die gehalte en die selfvertroue van hul inskrywings. “Dis omdat digters nuanses verstaan dat hul vaardige taalgebruik die beskouings en waardes van die Emaswati weerspieël,” sê hy. “Wanneer iemand sy moedertaal gebruik, is dit ’n hartsboodskap. Siswati-digters is besig om ’n nis vir hulself in die wêreld uit te kerf. Hulle het standpunt ingeneem – en dit is dat die Emaswati nie uitgesluit sal word van hierdie merkwaardige geleentheid om troos aan die treurendes te bring nie.” Madonsela voeg by: “Die aantal en gehalte van die gedigte is ongelooflik! Ek is heeltemal oortuig daarvan dat, as jy die getal jeuginskrywings in ag neem, die toekoms van ons taal veilig is in hul hande.”

Die Xitsonga-digter en akademikus, prof. Ximbani Eric Mabaso, besing die lof van die kompetisie: “AVBOB Poësie is ’n verwesenliking van veeltaligheid en multikulturaliteit op ’n ongeëwenaarde skaal – een wat moeilik geklop sal word in die dekades vorentoe. AVBOB het binne enkele jare ’n hele klomp debuutdigters gepubliseer: Dit het ’n onverwagse skeppendheid ontlok op terreine wat jare lank onontgin was. AVBOB Poësie het daarin geslaag om ’n behoefte aan mededinging na vore te bring, waar nuwelinge en gesoute digters ’n verhoog kan deel. Terselfdertyd trek hulle nie net geldelik voordeel uit die publikasie van hul werk nie, maar kan ook toekennings inpalm. Hierdie projek beteken digkuns vír gewone mense, déúr gewone mense – ’n inisiatief wat ook, deur papierpublikasies, die digitale kloof oorbrug. Lank leef AVBOB Poësie!”

Carl van der Riet, uitvoerende hoof van AVBOB, deel die positiwiteit oor dié betekenisvolle, bemoedigende neigings. Die inskrywings wat tydens die afgelope viermaandetydperk ingedien is, het met meer as 25% gestyg teenoor die 30 573 wat verlede jaar ontvang is. Dit is meer as dubbel die getal inskrywings in 2017, die eerste jaar van die kompetisie.

“Hierdie ongelooflike toename is ’n teken dat al hoe meer Suid-Afrikaners sin in poësie vind. Ons voel geëerd deur hul belangstelling in die kompetisie en deur die indrukwekkende gehalte van inskrywings,” sê hy. “Een van die belangrikste doelwitte van die kompetisie was nog altyd om toegang te hê tot ’n vryelik toeganklike biblioteek van gedigte in al 11 amptelike tale. Elke gedig wat as deel van hierdie biblioteek aanvaar word, ontvang onmiddellik R300 (elektroniese oordrag) sodra die gedig gepubliseer word. Vanjaar het ons beoordelaars altesame 4 100 gedigte vir publikasie gekies. Dit beteken dat AVBOB Suid-Afrikaanse digters ondersteun het deur uitbetalings van altesame R1 230 000 as publikasievergoeding.”

Van der Riet kom tot dié gevolgtrekking: “Om die kunste te ondersteun, is inderdaad iets waaroor ons kan juig! Die statistiek wat hierbo genoem is, is getuienis van die ontwikkeling van ’n lewende monument. Dié sielvolle en dinamies groeiende projek bring hulde aan die mense vir wie ons lief was en wat ons verloor het. Dit bring ook eer aan dié wat nog lewe, dat ons hul skeppendheid in ’n ernstige lig beskou, en dat ons die kunste ondersteun met lewegewende energie en toewyding.”

Die wenners van die AVBOB Poësieprys van R10 000 vir elk van die 11 taalkategorieë word aangekondig by die vierde AVBOB Poësie-galageleentheid middel-2021. Die digters wat die kortlys haal, sal in die eerste helfte van volgende jaar daaroor ingelig word. Digters word aangemoedig om die AVBOB Poësieprojek op sosiale media te volg om meer te wete te kom oor kompetisieverwante aankondigings, of besoek die kompetisiewebblad-blog by www.avbobpoetry.co.za

  

BYKOMENDE ONDERSTEUNING WAT ONTVANG IS

“Ek was ’n Engels-onderwyser vir die grootste deel van my professionele loopbaan – en ek het daarin geslaag om aan te hou klasgee, selfs toe ek ’n skoolhoof geword het. Ek het altyd geweier om taalonderrig en literatuuronderrig van mekaar te skei. Letterkunde is tog niks anders nie as taal in sy verbeeldingrykste vorm. Dit het beteken dat ek ook skeppende skryfwerk aangebied het, want pogings om sélf iets te skep wat jy op die bladsye voor jou bewonder, laat jou waardering vir dié proses styg. Maar dis ook so dat, om jou gevoelens in woorde te omskep, ’n manier is om dit wat binne jou is te definieer en duidelik te maak. Want totdat jy dít wat jy dink verduidelik, weet jy nie werklik wát jy dink nie. Die AVBOB Poësiekompetisie is ’n briljante manier om ’n groot groep mense aan te moedig om hul gedigte in hul moedertaal te skryf – iets wat húl lewens verryk, sowel as dié van die mense om hulle.”

JONTY DRIVER

Jonty Driver, wat in Kaapstad gebore is, was voorheen hoof van Wellington College in Brittanje. Hy het vyf romans, vyf nie-fiksie-boeke (biografieë en memoirs), nege poësiebloemlesings, vier poësiebundels en ’n gedigteboek vir kinders gepubliseer.

*

“Sedert sy begin in 2017, het die jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie (wat – verstommend – in al elf amptelike tale aangebied word) al hoe meer inskrywings gelok. Dat meer as 41 000 gedigte in 2020 ingeskryf is, getuig van die enorme menslike behoefte om denke te verwoord, om ervaring te orden, om emosionele perspektief en verfyning te soek, en om uit te reik na en kontak te maak met lesers. Vir my lyk dit of die kompetisietema, ‘Ek wou nog sê …’, ’n geïnspireerde keuse is. Jy staan verstom oor die getal en buitengewone reikwydte van die gedigte wat reeds deel is van die kompetisie se Poësiebiblioteek. Dít is ’n teken van mense se behoefte en begeerte om te skryf, asook die genot wat hulle daaruit put.”

MOIRA LOVELL

Moira Lovell was voorheen hoof van die departement Engels by Wykeham Collegiate, Pietermaritzburg. Haar werk het al in verskeie tydskrifte en bloemlesings verskyn, en sy het vier digbundels gepubliseer. Sy het ook ’n aantal kortverhale en verhoogstukke geskryf en in 2002 die Olive Schreiner-prys gewen vir haar drama Bedtime Stories.

*

“Poësiekompetisies het in Klassieke Griekeland ontstaan. Om die waarheid te sê, daar is geen méér demokratiese, gelykmakende manier om die digkuns te evalueer en te bevorder as deur dié soort mededinging nie. Veral twee dinge maak die AVBOB Poësiekompetisie vir my spesiaal. Eerstens die taalkundige omvang: Ek kan nie dink aan enige ander kompetisie wat soveel verskillende nasionale tale tot skeppendheid inspireer nie. Dié versiendheid is asemrowend, en die jaarlikse bloemlesing, wat die beste werk van al hierdie tale bevat, is besielend – ’n voorbeeld in verdraagsaamheid en inklusiwiteit. Tweedens verleen die fokus van die kompetisie op die ernstige, hartroerende temas van dood, hoop, liefde en geboorte ’n sfeer van waardigheid en empatie aan die projek. Daar is by my geen twyfel nie dat dié wonderlike instrument van demokrasie – om mense tot hul eerste literêre skryfpogings aan te moedig – van die beste nuwe Suid-Afrikaanse digters van die toekoms gaan oplewer.”

BASIL DU TOIT

Basil du Toit, wat in Kaapstad gebore is, het ’n nagraadse kwalifikasie in filosofie aan die Universiteit van Edinburgh verwerf. Kort nadat hy in 1980 na Skotland verhuis het, het hy ’n prys in die Nasionale Poësiekompetisie daar gewen. In 1989 deel hy die Sanlam-prys met die digter Douglas Livingstone. In 2015 is hy een van die wenners van die Poetry Business Book & Pamphlet-kompetisie (VK). Sy werk het al in verskeie poësietydskrifte verskyn, waarvan die mees onlangse die Poetry Salzburg Review is, en hy het twee digbundels, Home Truths en Older Women, die lig laat sien. Onlangs is sy mini-digbundel, Old, deur Smith/Doorstop in Sheffield gepubliseer.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.