“In the presence of death poets speak with particular urgency. Our own impending deaths or those of others generate a language of mystery while the things of the world, in their poignant ordinariness, call us back to life and the known.” So skryf Ingrid de Kok in Daily Maverick van 29 Junie 2020 in haar rubriek Unlocked: Poems for Critical Times (Series Two, Part Eight). In hierdie rubriek (een van verskeie wat tydens die Inperkingstyd verskyn het) bespreek sy enkele Breyten Breytenbach-gedigte, onder andere “It is called grieving for the present” uit die bundel op weg na kû (Human and Rousseau, 2019):
nou weet jy wat dit is
om dood te gaan:
dat alles en almal en dit en dié
hier vir wie jy lief was
sonder om daarvan bewus te wees
moes sterwe terwyl jy nog leef
(Fragment)
Dit lyk inderdaad asof hierdie voorheen ongekende tye in baie opsigte lei tot ‘n herondersoek en herwaardering van dinge wat voorheen alledaags of vanselfsprekend was en ‘n fokus op ménse met wie ons ons lewens deel. In ‘n ander rubriek haal de Kok byvoorbeeld ‘n gedig van Patrick Cullinan aan:
To have love
To have love and then lose it:
the white hail in the orchard
lying with leaves it has stripped
and the storm moving away.
In hierdie gedig word die skok verwoord wat mense ondervind wat ‘n groot ramp oorleef het en daarvoor is die beeld van ‘n vernietigende haelstorm besonder gepas. Dit sou die moeite loon om ook die ander rubrieke van Ingrid de Kok uit dié tyd te lees waarin sy die problematiek van identiteitskepping in die vreemde tye waarin ons tans leef, ondersoek.
Fassinasie met, vrees vir en besinning oor die Virus kenmerk die Grendeltyd in baie opsigte, ook in die poësie. So sê die digter Cas Vos byvoorbeeld dat hy die gedig “Corona” ter elfder ure nog ingevoeg het in die bundel Beskut teen vrese wat ook in die Koronatyd by Naledi verskyn het, maar reeds voor die uitbreek van die virus finaal gekonseptualiseer was. In dié gedig word God as ‘n soort Grim Reaper uitgebeeld:
“Waar is God in dié doodsbleek dae? Kyrie eleison!”
Sonder visum is Hy Italië toe om haweloses
op te spoor.
Dit blyk uit verskeie gedigte wat tydens die Inperkingstyd ontstaan en iewers gepubliseer is, dat mense onder andere aan hulle geloof begin twyfel. Die boek Hooflyn wat ek onlangs ontvang het, is saamgestel deur Fanie Marais en deur Cordis Trust uitgegee. Dié boek bevat insigte wat die skrywer oor jare daagliks neergeskryf het, veral na aanleiding van sy dogter se dood in 1989. Dit is interessant dat die skrywer juis tydens die Grendeltyd besluit het om dié jare lange opgetekende gedagtes uit te gee. Soos in die bo-aangehaalde reëls van Cas Vos, kom vrae aan en oor God ook hier voor:
Ek het God gebid om antwoorde
In die plek meer vrae.
Hy het in die wind vertrek
en my met die leegheid
van ‘n studeerkamer gelaat.
en:
Jou God praat met jou
myne hoor my nie eens nie –
diskriminasie?
Desnieteenstaande is daar egter in dié boek heelwat meer bepeinsings oor die aard van liefde, vergifnis, dankbaarheid en hoop. Dit sien mens ook in talle ander publikasies en gedigte uit die Covid-19-tyd, naamlik dat basiese menslike waardes weer onder die vergrootglas kom en herwaardeer word. Baie mense wend hulle in dié tyd opnuut tot geloof in die Onsienlike. Op 20 Augustus publiseer Petro LM Gordon byvoorbeeld ‘n gedig in die Son met die volgende toewensing: “My hartsgebed is dat wanneer dit voel of alles vir jou te veel en te klein raak, jy iemand sal hê by wie jy swak kan wees. Bowenal onthou: Daar is altyd hoop.” Wat hier vir my interessant is, is dat gedigte oor die Koronavirus op allerlei forums (soos o.a. op Algoagemeenskapskerk) verskyn. ‘n Vinnige soektog het gewys dat talryke gedigte op Facebook verskyn, in hoofstroomkoerante, soos Media24 se koerante én in gemeenskapskoerante soos die Potchefstroom Herald. Ook vir kinders word op 17 Julie 2020 “oulike liedjies of gediggies om jou te help om jou kinders van COVID 19 te leer” op Media 24 geadverteer.
Dat die dodetal van Covid 19-slagoffers daagliks in die media uitbasuin word, het onteenseglik ‘n belangrike invloed op die tematiek van gedigte wat in dié tyd gepubliseer word. ‘n Mens vind genoeg getuienis daarvan op sosiale mediaplatforms. In ‘n bloemlesing, Sonstorie-digreis, wat tydens die Grendeltyd verskyn, kom dié gedig van Jopie Koen voor:
vyf verdiepings
was vyf verdiepings ver genoeg
op ‘n Sondagaand
in die eerste maand
vyf verdiepings op ‘n Sondagaand?
soos altyd was die stad vol liggies
maar dit was nie lig genoeg nie
en agter al die mure was bure
maar hulle was nie naby genoeg nie
Januarie was ‘n nat nat maand
en jou laaste gedig het juis van reën gepraat
maar ons het nie jou taal geken nie
dalk wou jy ons tóg iets vertel
van ‘n eensame woonstel
van vyf verdiepings
op ‘n Sondagaand
Hoewel dié gedig kennelik nie binne die Inperkingstyd geskryf is nie, is dit veelseggend dat dit tydens dié tyd in ‘n versamelbundel verskyn wat pyn, lyding, hoop, besinning en identiteitsondersoek as tema het. Dit is ook opmerklik hoe dié gedig die temas van depressie, eensaamheid en afsondering ten spyte van bure of vriende met wie egter geen kontak moontlik is nie, verwoord – ‘n tema wat telkens sentraal staan in die wêreld van Covid-19. Dit is opmerklik dat selfondersoek in dié tye aan die orde van die dag is – so asof mense verwag om te sterf en hul lewens in oënskou neem ten einde onreg reg te stel of vergifnis aan te bied. Van Marie Bredenkamp verskyn in dieselfde bundel die gedig “’n mens moet” met die slotstrofe:
‘n mens moet eenkeer
op jou knieë kan gaan
en onbeskroomd
in skamelwoorde stil verklaar
dat jy verkeerd was
sodat jy éénkeer
kan vergifnis vra.
Hoewel verlies, pyn en nood van mense wat geliefdes aan die virus afgestaan het, die media oorheers, is dit treffend hoeveel gedigte van hoop en troos in dié tyd verskyn:
Te laat
Ek wou nog vir jou sê
hoe die dag in verf
gaan lê,
maar toe is dit al nag.
Ek wou nog vir jou sê
hoe ek seerkry
van allenig lê,
maar toe is dit al dag.
(Beaudhien Mozart – In: Sonstorie-digreis)
Hierdie gedig roep natuurlik onmiddellik die AVBOB-poësieprojek, I wish I’d said … op, met die programreeks Ek wou nog sê … wat weer vanaf 14 Desember 2020 om 19:30 op VIA, DStv-kanaal 147 aangebied word (https://versindaba.co.za/2020/11/26/ode-aan-n-lewende-monument-vir-meertalige-poesie/). Hoewel die AVBOB-kompetisie niks met Covid-19 te make het nie, sluit dit tematies aan by gedigte wat in die Tyd van die Virus verskyn, in dié sin dat dit pyn en verlies, maar ook liefde, troos, hoop en lewe as tema het. Die volledige versameling wat tans 13 686 gedigte in al die amptelike tale bevat, kan besoek word by https://www.avbobpoetry.co.za/Poem/ViewAll
Om op te som: ‘n Mens kan nie ‘n tydvak waarin jy tans lewe, volledig beoordeel nie. Dit sal later gedoen word wanneer skrywers meer afstand gekry en insig verwerf het. Nóú kan ons sekere fasette en kenmerke probeer beskryf, wat beslis later, wanneer die Tyd van die Virus beskryf en beoordeel word, insiggewend (en dalk ironies) sal wees. Ek wil ten slotte ‘n gedig van Ronel de Goede aanhaal wat onlangs op Versindaba verskyn het en wat, myns insiens, ‘n akkurate beeld verskaf van dit wat ons tans sien en beleef, naamlik dat skrywers konsentreer op die alledaagse, dit wat ons van die lewe gewoond was en wat gaan verander of reeds verander het, dat mense bestek opneem van hulle lewe en die dood as deel daarvan aanvaar – en dat medemenslikheid opnuut belig word:
Ballade van die honderd dae
’n Wintervers
Die branders suis, die dae sleep.
Ek sit aan tafel en lees koerant:
“Syfers styg”. “In virus se greep”.
Wat gaan word van die siekes in ons land?
Hul “spartel om asem” en “verdrink” op ’n streep.
’n Malariapil maak mens glo “bestand”.
Kom ons drink maar ’n glas op die valreep!
Wat gaan word van die virus in ons land?
Die wêreld verstom: “Ekonomie in sy maai”.
“Miljoene ly honger”. “Gebrek aan kontant”.
Die radio rep: “Kospakkies geskaai”.
Wat gaan word van die armes in ons land?
“Miljarde vir noodhulp”. “Vingers in die laai”.
“Werkloosheid neem toe”. “Dromkrappers astrant”.
’n Stad onder beleg – boekaniers in Valsbaai!
Wat gaan word van die kapers in ons land?
Die skedelvlag die waai: “Baba verkrag”.
“Boer vermoor”. Selfone gons: “Iemand
wat ons ken”. “Rowers skiet geldwag”.
Wat gaan word van die mense in ons land?
“Bejaardes gemartel”. “Seuntjie val in skag”.
“Vrou gesteek”. En so gaan dit voort, want
dis ’n gekkeskip – sonder kwarantynvlag!
Wat gaan word van die moordplaag in ons land?
L’Envoi
Hoe kan ’n mens dit alles verklank?
Wat gaan word van die siekes van ons land?
Ek sit aan tafel en lees koerant –
vol selfverwyt; een voet op die loopplank.
Wat gaan word van die armes van ons land?
Wat gaan word van die ménse van ons land?
Bronnelys:
De Goede, Ronel. 2020. allade van die honderd dae. Versindaba. https://versindaba.co.za/2020/10/21/ronel-de-goede-ballade-van-die-honderd-dae/
De Kok, Ingrid. Unlocked: Poems for Critical Times (Series Two, Part Eight). https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-04-27-unlocked-poems-for-critical-times-part-eight/
De Kok, Ingrid. 2020. Unlocked: Poems for Critical Times (Series Two, Part Eight).
Gordon, Petro LM. 2020. https://www.son.co.za/Blog-Jou-Ore/Kykie-Hoorie/hoop-te-midde-van-covid-19-20200827
Marais, Fanie. 2020. Hooflyn. Pretoria: Cordis Trust.
Marais, Fanie (Red.) 2020. Sonstrorie-digreis. Pretoria: Cordis Trust.
Media 24. 2020. https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/uitenhage-digter-skryf-oor-pandemie-20200716
Vos, Cas. 2020. Beskut teen vrese. Pretoria: Naledi.