Resensie: Veldboek (Johann Lodewyk Marais)

 

 

 

Veldboek deur Johann Lodewyk Marais. Imprimatur, 2020. ISBN 978-0-620-90396-7

 

Resensie: Joan Hambidge

 

Die mens moet die aarde bewoon:

die helder, onbekende hier.

 

I

Johann Lodewyk Marais se gedigte moet gelees word asof die digter werk aan een groot oeuvre. ‘n Mens dink hier aan T.T. Cloete se opmerking met Allotroop dat hy ‘n katedraal bou en selfs mindere gedigte word binne die katedraalwêreld belangrik.

Telkens is daar temas – soos oor insekte byvoorbeeld of oor die ekologie – waarby hy stilstaan. Hy is bekroonde digter, reisbeskrywer, historiese navorser en samesteller: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, medesamesteller Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006).

Sy gedigte is ondersoekend en fenomenologies. Hy staan stil by die “dinge” soos J.H. van den Berg, die metabletikus. Hy is terselfdertyd nostalgies en intellektueel-besinnend. Hy kyk térug na sy plaasagtergrond as ‘n ouer, gedistansieerde persoon.

Sy verse werk dikwels met die litotes, dus met die eenvoud of enkelvoudigheid van die understatement.  Vormbeheer is hier (soos “Bobbejaanoor”) en sy vers oor Diego Maradona bly ‘n wenner. 1.

Sy gedigte word gekenmerk deur spaars, min woorde. Soms is dit dalk te min, maar wanneer hy die gedig laat balanseer tussen suggestie en uitvoering, is die gedig ‘n klein meesterstuk soos:

 

Atlasseder

Cedrus atlantica

In die Atlasberge van Marokko

het die sade in goeie grond geval

en uit die molm onder die ruigte

verskyn dan klein, stekelige boompies.

Penwortels wat diep in die berg indring,

anker die seders aan die donker eeue

wat in die ewige lewe verskiet.

 

Hoe sou ‘n mens sy digkuns opsom? ‘n Moderne Leipoldt? ‘n Voortsetting van Opperman se Afrika-bemoeienis?

Een van die vreugdes van die afgelope semester was om weer Leipoldt te doseer saam met Opperman. Hoe digters by mekaar aansluit en mekaar “voltooi”, bly vir hierdie leser ‘n invalshoek. Ons dink hier aan Opperman se “Mukene” (uit Dolosse van 1963) met sy slot:

 

Stiltes stippel in dié land

klippe tot voormalige verband.

 

Die metaforiese sintese in hierdie gedig (om Henning Snyman aan te haal uit Mirakel en muse, 107) is eweneens aanwesig in Marais se werkswyse.

Ons vind dan by Marais die verkenning van verskillende Afrika-ruimtes via bome o.a. soos hierdie vers oor Namibië:

 

Witgat

Boscia albitrunca

Die lokale en gemoedelike

tussen die verknotte witgatbome

wat vroegaand oor hulle skaduwees hurk,

word versteur wanneer die trop slagbokke

tussen die skewe stamme deur beweeg,

na die laaste blare en takkies reik

en gedwee verby die hekpale tou.

Okahandja, Namibië

 

Die ikonisiteit van die gedig is vernuftig: die vorm van die gedig stel die beweging van die bokke verby die hekpale voor.

Die wetenskaplike naam en die volksnaam van die boom bring ‘n verdere spanning na vore en die digter verkies ook in sy vers noemname vir bome.

Die vader het o.a. ‘n peul uit ‘n ander landskap, die ou Suidwes, saamgebring en nou is hierdie boom besig om die koue van die Vrystaat in eensaamheid te trotseer:

 

Kameeldoring

Vachellia erioloba

My pa het ’n peul soos ’n bok se oor

uit die kameelveld saamgebring en tuis

oopgebreek om die pitte uit te skud.

Nou trotseer hierdie reus van ou Suidwes

met sy plat kroon en harde, rooibruin hout

en kleure van die diere van dié land

die Vrystaatse winters alleen en koud.

 

Dikwels is daar personifikasie en in die hand van ‘n mindere digter sou dit steurend kon wees, maar die ou reus trotseer die koue winters soos ‘n mens.

Wanneer Marais dan oor hierdie landskap skryf, tree hy in gesprek met Kobus Lombard en Hendrik J. Botha wat in hul gedigte hierdie wêreld verken.

Landskapdigters skryf uiteraard meer as oor landskap. Dikwels word dit personifikasie of ‘n spieël van die innerlike van die digter wat identifiseer met die wêreld om hom.

Die hele kwessie van migrasie en die huidige politieke kwessies rondom mense wat nie meer geborge in ‘n hul wêreld voel nie, vind ons hier:

 

Peulmahonie

Afzelia quanzensis

’n Onwettige immigrant

van Mosambiek bring die sade

van ’n mahonie oor die grens,

voel met sy vingers in ’n sak

die gladde, blink omhulsels

en gewaar met die terugkyk

in ’n blik deur die taxi-ruit

agter hom op die horison

die dik rook van ’n houtskoolvuur.

 

Verder is daar verse oor Gaboen en ander onbekende Afrika-streke voorheen nog nie besoek in ons digkuns nie.

 

II

 

Hierdie beeldvers oor Pierneef is betowerend mooi.

 

J.H. Pierneef

1886–1957

In Afrikakuns ontdek hy

lyn, sirkel, driehoek en vierkant

en herhaal twee of drie kleure

ritmies in suiwer samehang.

 

Hy teken bome oor en oor:

getuie van die lewenskrag

tussen hemel en aarde

net soos die natuur dit beskik.

 

Stroop bome van hulle blare,

skep soetdoring en maroela

teen die aandrooi spel van wolke

geëts bo die hart van die land.

 

Blaai vinnig na sy ex libris

en sien ’n monnikefiguur

staan by ’n hoë, steil esel

teen ’n duistere kremetart.

 

III

 

Dit is ‘n boeiende bundel wat bekoor, ontroer en die leser imponeer met navorsing wat oënskynlik moeiteloos tot gedigte getransformeer is.

Die vierde afdeling heet dan Geestelike eskarp en ‘n mens vind hierdie digter ‘n soeke na spirituele sin.

Marais is ‘n tydgenoot – soos Johann de Lange – en hul verse is en bly vir hierdie leser en digter ‘n belangrike verslag van hoe ontwikkeling plaasgevind het. 2. Die gesprek met Willem Boshoff registreer ook iets hiervan in die slotvers “Verklaring”.

Jeugherinneringe, grondhervorming, Afrika-belewenisse, die migrasieroetes van mense en plante (as peule saamgeneem word) en ‘n uitgebrande boom, en die gedig  as ‘n totem, vind ons hier. Die ouer digter kyk telkens terug na sy ongeskonde plaasbestaan en met helderheid kan hy nou daardie mense en sy wêreld verstaan. Die plante en bome en swamme en grasse  en ligene aktiveer dus meer as net die natuur. Neil Cochrane noem dit tereg op die agterplat “digterlike botanie”. Hierom dan ‘n vers oor Thomas Pakenham soos ander botaniste en navorsers.

Die digter as nomaad, maar geborge in sy jeugervarings (bykans ‘n idille).  ‘n Gedig soos “Inkblom” is dan ook ‘n ars poetica en “Rooi-ivoor” is beeldend mooi:

 

Rooi-ivoor

Berchemia zeyheri

Rooi-ivoor, ek skryf by die lig

van ’n lampstaander uit jou hout

gedraai deur ’n kundige hand

en soek woorde om jou te eer.

 

Rooi-ivoor, ’n naakte byl het

jou gevel, wolframversterkte

saagtande deur jou bas geklief

en ’n beitel jou afgesplyt.

 

Rooi-ivoor, ná die ritseling

van jou blink, geskulpte blare

stil geword het, klink jou naam op

in ivoordraers se donker bloed.

 

Imprimatur het met hierdie bundel ‘n belangrike digter, sowel tematies as tegnies, vir ons gegee. ‘n Mens kan net die hoop uitspreek dat ander boetiekuitgewers hierby kan leer met betrekking tot versorging en gehalte.

 

Nawoord:

  1. Die vers oor Diego Maradona speel met die idee van die vlugvoetigste … hy wat met passie die nommer 10 dra. Ons vind dieselfde passie en vlugvoetigheid in hierdie bundel.
  1. Hierdie bundel het die volgense vers geïnspireer:

 

Geestelike eskarp

vir Johann Lodewyk Marais

 

Die landskap

van my jeug:

‘n aalwyn,

bloekoms, wilgers.

 

Aalwyne oorleef,

bloekoms ruik verdrietig,

wilgers treur

in ‘n waterspieël.

 

Onvermeld:

die sipresse

langs ons huis

posmeesters van die dood.

 

(Joan Hambidge, 2020)

 

Bibliografie

Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.

Bookmark and Share

Comments are closed.