Dis ʼn Jammerte, Ons was so ʼn Goeie Uitvindsel
deur Yehuda Amichai (soos vertaal deur Bester Meyer)
Hulle het ons bene
By die heup afgesit.
Wat my aanbetref
Is hulle almal snydokters. Almal van hulle.
Hulle het ons ontmantel
Van mekaar vervreem.
Wat my aanbetref
Is hulle almal ingenieurs. Almal van hulle.
Dis ʼn jammerte.
Ons was so ʼn goeie
En liefdevolle uitvindsel.
ʼn Vliegmasjien geskep uit man en vrou.
Met vlerke en ieder al.
Ons het bo die aarde gesweefhang.
Ons het selfs ʼn bietjie gevlieg.
*
Die Uitvindsel van Woordsweef
deur Bester Meyer
miskien kon ons vlieg
toe ons jonk was –
voor die ek en die jy
die jood en die arabier
die wit en die swart
die ons en die hulle (?)
(in die Utopia van ʼn God)
miskien was daar vryheid in ons vlug
soos wanneer twee vreemdelinge vlug
om mekaar te vind
deur in hulle verdwynende liggame
Een te word, dit:
as dit nie vir afwesigheid was nie
(as dit nie vir teenwoordigheid is nie)
kyk, óók die hulle is deur die vlug geskep
deur die rook en die oker
is die ons deur die hulle vervang
en die amputasie bloot ʼn onvermydelikheid
ʼn wending om ons finaal te leer
‘mense is voëls
wat nie kan vlieg nie’
en digters herhalers
van dit wat glo
nie gesê mag word nie –
maar nee, ons mag nie die vlug versaak nie
want die kuikens moet nou weer leer om te vlieg
in hierdie eeu van niksseggende (bo?)menslikheid
in hierdie outonome vervreemdingslandskap
waar die strewe na eenwo(o)rding
uitgewis word na gelang van (geval)
(geld en goed(ge)koop(te) weelde −)
en as dit dan beteken
dat die ons
(soos die ons van ouds)
vir oulaas die hand
van hulle arm moet afkap,
laat dit dan so wees
en laat die hand altyd aanhou
om ʼn paar woorde (na gelang van geval) neer te pen
in die sagte sand van (ʼn nuwe) medemenslikheid
wat dan straks weer môre deur die see uitgewis sal word:
ons moes swewe om te kon vlieg
en skrywe om te kon leef
A Pity, We Were Such a Good Invention
Yehuda Amichai
They amputated
Your thighs off my hips.
As far as I’m concerned
They are all surgeons. All of them.
They dismantle us
Each from the other.
As far as I’m concerned
They are all engineers. All of them.
A pity. We were such good
And loving invention.
An aeroplane made from man and wife.
Wings and everything.
We hovered a little above earth.
We even flew a little.
Amichai, Y. 2015. The Poetry of Yehuda Amichai. Farrar Straus and Giroux. Soos vertaal in Engels deur Assia Gutmann.