De Waal Venter. Uit die Merseburgerse towerspreuke

 

 

 

Uit die Merseburgerse towerspreuke

’n Towerspreuk is in 1841 ontdek in ’n manuskrip uit die jaar 10. Die spreuk word verdeel in drie dele – ’n vertellende deel, die “spell”, en die eintlike towerspreuk. Die drieledigheid van die towerformule word verklaar deur die helende krag van die getal Drie.

Phol (ander naam vir Balder) en Wodan (Odin) ry in die woud en Balder se perd beseer sy een been. Vier godinne probeer die besering besweer en genees, maar tevergeefs. Dan kom die hoogtepunt: (Da besang ihn Wodan) “Toe besweer (en genees) Wodan hom”. Hierdie towerspreuk is ook in Oudindies bekend. Skaapwagters het probeer om hulle diere met beseerde pote met hierdie spreuk te genees (vert. DWV).

Bron: “Aus altdeutscher Zeit – Von den Anfängen bis zur Dichtung des Barock”.

Outeur: Rosenhagen-Röttger. Neubearbeitet von Johannes Rudolph.

Ernst Klett Verlag Stuttgart 1966

Wodan se towerspreuk

Vol en Wodan                                    ry in die woud

en daar raak Balder se vul                se voet verstuit;

toe besweer Sinthgunt                       en Sunna haar suster, hom

en besweer Frija                                en Volla haar suster, hom.

Maar toe besweer Wodan hom         wat die ding verstaan;

of dit beenverstuiting is                      of bloedverdunning

of ledemaat verstuit:

been na been                                     bloed na bloed

ledemaat na ledemaat                       alles weer bymekaar!

Oudgermaanse teks

 

Phol ende Uuodan                             vuorun zo holza.

dû uuart demo Balderes volon          sîn vuoz birenkit.

thû biguolen Sinthgunt                       Sunna era suister;

thû biguolen Frîia                               Volla era suister;

 

thû biguolen Uuodan                         sô hê uuola conda:

sôse bênrenkî                                    sôse bluotrenkî

sôse lidirenkî:

bên zi bêna                                        bluot zi bluoda

lid zi geliden                                       sôse gelîmida sîn!

 

Vertaal uit Oudgermaans via moderne Duits deur De Waal Venter

 

Opmerking

Afrikaans word bestempel as die wêreld se jongste volwaardige taal. Anders gesien, kan Afrikaans beskryf word as ’n vorm van ’n baie ouer taal, Oudgermaans. En dit kan nog verder teruggevoer word na Indo-Germaans.

Hierbo is ’n weergawe van ’n Oudgermaanse teks en ’n vrye vertaling daarvan in Afrikaans. Die taal het baie verander deur die eeue en verskeie vorme aangeneem, maar die situasie, as mens dit ontmitiseer, het ongeveer dieselfde gebly. Hiermee ’n vertelling van ’n soortgelyke denkbeeldige situasie in Afrikaans.

Oom Osie kan toor met perde

Oom Osie ry die dag in die veld saam met sy seun Barend en dié se twee niggies, Sonja en Sintie. Barend se jong hings was nog ’n bietjie wild en daar trap hy in ’n erdvarkgat voor Barend hom kon keer. Een agterpoot het seergekry.

Almal klim af. Sonja en Sintie voel en vryf aan die perd se been en probeer paai, maar die perd wil nie stilstaan nie.

Wag, sussies, sê oom Osie en haal ’n rol growwe lint uit sy saalsak. Hou vas, beveel hy. Hy bind die lint styf om die perd se enkel en maak dit goed vas. En daar kan die perd weer trap op die poot! Hulle ry stadig huis toe waar koffie en beskuit vir  hullewag.

 (De Waal Venter)

 

Onderskrif by die kunswerk:

Wodan heilt Balders Pferd” deur Emil Doepler

Bookmark and Share

3 Kommentare op “De Waal Venter. Uit die Merseburgerse towerspreuke”

  1. Helize van Vuuren :

    “Grimoire” (in Marlene van Niekerk se KAAR, 2013:27-28)gebruik die tweede Merseburg towerspreuk oor die genesing van die perd se gebreekte been. Dit word ‘n sesstrofige liefdesvers vir die saamvoeg van geskeide geliefdes, wat so begin:

    hoe anders as jy ver weg slaap
    kan ek jou naderraak
    as met middernagsillabes (…)

    In die vierde strofe gebruik sy die spreuk uit die tweede van “die twee ontdekte gedigte uit die tyd van die Duitse heidendom” (deur die broers Grimm opgeteken in 1842, uit die Merseburg Domstiftbiblioteek, geskryf in Karolingiese minuskels – bron: https://nl.wikipedia.org/wiki/Merseburger_toverspreuken):

    sose benrenki
    sose bluotrenki
    sose lidirenki
    ben zi bena
    bluot zi bluoda
    lid zi geliden
    sose gelimida sin
    =======
    Als botkwetsuur,
    als bloedkwetsuur,
    als ledemaatkwetsuur:
    bot tot bot,
    bloed tot bloed,
    lid tot ledematen:
    als gelijmd laten ze zijn.

    Van Niekerk se vers eindig met haar eie verwerking van die Merseburg-spreuk in Afrikaans:

    hoe anders as jy ver weg slaap
    kan ek jou aanraak as met toorvokabels?
    afwesigheid is beenkwetsuur
    is bloedkwetsuur
    na jou sal ek ‘n weg vind of een maak
    van karolingiese minuskels

  2. Marianne de Jong :

    ‘n Mens sou dalk ‘n soortgelyke stukkie vergelykende kultuurantropologie kon doen met die Middeleeuse byeboer se gebed dat die bye na sy korwe sal terugkeer. Marlene van Niekerk noem dit nie spesifiek in haar bundel nie , maar daar is wel baie bye, ook MIddeleeuses.

  3. Marianne de Jong :

    Hier is ‘n weergawe van die “Lorscher” Bienensegen” , wat in die 10de eeu verskyn maar vermoedelik baie ouer is.

    Sizi, sizi bîna: inbôt dir sancta Maria.
    Hurolob ni habe dû: zi holze ni flûc dû,
    noh dû mir nindrinnês, noh dû mir nintuuinnêst.
    izi vilô stillo, uurki godes uuillon

    (uit: Die Silberfracht, 25)

    Sitze, sitze, Biene: Das gebot dir Sankta Maria.
    Habe keinen Ulaub: In den Wald fliege nicht,
    dass du mir nicht entrinnt, noch mir entkommst.
    Sitze ganz stille, wirke Gottes Willen.

    (Vertaling in moderne Duits uit Silberfracht, ibid.)

    Sit, sit, by. Dit gebied die heilige Maria.
    Moenie vakansie neem nie. Moenie in die bos vlieg nie,
    sodat jy nie wegvlug of van my wegkom nie.
    Sit heeltemal stil, doen die wil van God.

    (My vertaling.)

    Stein, Gottfried (ed): Die Silberfracht. Ein Lesebuch. Frankfurt am Main: Hirschgraben-Verlag, 1967
    Dit kom moontlik versteek voor in Die jakaranda in oktober in Kaar, p44.