De Waal Venter. Die prosagedig

 

 

 

Die prosagedig

De Waal Venter

 

“Dis ou nuus, jong. Daardie briljante idioot het met die regte idee vorendag gekom, al is die mense wat dit probeer beoefen, lewende dood. Nou sit ons met prosagedigte.”

Hierdie stukkie nonsens wat uit ’n reeks oksimorone saamgestel is: “ou nuus”, “briljante idioot” esovoort, eindig met die oksimoron “prosagedig”.

Ek beskryf die begrip “prosagedig” as ’n oksimoron omdat dit oënskynlik teenoorgestelde begrippe in een woord saamvat: “prosa”, gewoonlik ’n vertellende, logiese en samehangende taaluiting, teenoor “gedig” wat liriese, intuïtiewe en dikwels oënskynlik onsamehangende elemente bevat.

 

Eienskappe van prosagedigte

 Daar is al heelwat geskryf oor hierdie kunsvorm en baie verduidelings aangebied wat dit nou eintlik is.

Hier is party van die stellings.

’n Prosagedig is ’n komposisie wat nie verdeel is in versreëls nie, maar wel eienskappe van poësie toon, soos simbole, metafore, apostroof en ander styflfigure wat in poësie voorkom. Die reëls in ’n prosagedig word tipies minder afgebreek as wat normaalweg in ’n prosastuk voorkom. Die teks van ’n prosagedig lyk “digter” met minder reëlwit as in die meeste prosa.

Poëtiese elemente behels onder andere alliterasie, herhaling, ’n metriese of ritmiese struktuur en ’n mate van ’n rymstruktuur. Baie van hierdie elemente is nie uniek aan die prosagedig nie. Figuurlike taal is ’n belangrike deel van literêre fiksie en alliterasie en herhaling word byvoorbeeld algemeen in toesprake gebruik. Daar is dus ’n dun, selfs vae, skeidingslyn tussen prosagedigte en sekere soorte prosa. Dieselfde kan gesê word van die skeidingslyn tussen die volbloed gedig en die prosagedig. Die prosagedig bewoon ’n soort tussenwêreld waaruit die leser maklik na óf poësie óf na prosa kan emigreer.

Maar voordat ons nader ondersoek instel na die presiese aard van die prosagedig, aan die hand van ’n paar voorbeelde, wil ons eers vinnig kyk na die ontstaan en agtergrond van hierdie genre.

 

Die oorsprong van die prosagedig

Die eerste vorms van die prosagedig kan al in die sewentiende eeuse Japanse digter, Matsuo Bashō se uitvindsel, die “haiboen” gesien word. Die haiboen het elemente van prosa versmelt met die tradsionele digvorm, die haikoe.

In die later negentiende eeu was daar Franse digters wat geneig het na prosagedigte. Onder andere Stéphane Mallarmé, Charles Baudelaire en Arthur Rimbaud. Engelstalige skrywers soos Oscar Wilde, Walt Whitman en Edgar Allan Poe het hulle ook hieraan gewaag.

Maar in die modernistiese tydperk het hierdie skryfwyse in taamlike onguns verval en in die Engelse taalomgewing is dit gering geskat. T.S. Eliot was ’n skerp kritikus van die prosagedig en het hom sterk daarteen uitgespreek, alhoewel hy self ’n paar geskryf het.

In “British Prose Poetry” het Vidyan Ravinthiran die volgende1 te sê oor die onderwerp:

 

Abstract

Looking at Eliot’s one published prose poem, ‘Hysteria’, this essay argues its centrality to the emergence of the form as an undecided and self-conscious twentieth-century genre. Eliot considered prose an artistic medium as complex as verse and, also, as the vehicle of thought. The first idea came to him from vers libre; the second, from the longstanding idea of prose as the manifestation of a cogent individuality—a clarified demonstration of the rounded literary intelligence. Bonamy Dobrée published Modern Prose Style in 1934 and Herbert Read’s English Prose Style appeared in 1946: as editor of The Criterion, Eliot worked with both. I look at these works, his unpublished prose poems, and scrutinise the rhythm and syntax of ‘Hysteria’ with this double-minded view of prose in mind.

 

Die digter Sarah Manguso skryf in poets.org die volgende oor Eliot se benadering:2

 

  1. S. Eliot claimed in his 1917 essay “Reflections on Vers Libre” that so-called “free verse” is a fallacious category—that its apparent divergence from so-called “formal verse” is only an illusion. This simplifying engine, a combiner of binary oppositions, is beautifully applicable to other generic categories—particularly that of the prose poem. Per Eliot’s argument, there’s no such thing as prose poetry, either—as its divergence from verse poetry is discernible only via logic’s via negativa, the description of what it isn’t. The category of prose poem is about as useful a sorting tool as the three races into which humans were divided in 1684 by Francois Bernier.

David J. Bauman3 haal die gewilde Amerikaanse digter, Billy Collins, op 16 Oktober 2012 soos volg aan:

davidjbauman.com

“Very often, unlike most prose, a poem is written without the poet fully knowing the destination. It’s a journey toward the revelation at the end that may not be known when the poet launches out with whatever first triggered the piece.”

 

Desmond Painter het ook al in Versindaba geskryf oor prosagedigte. Lees gerus sy interessante stuk. Dit is in die Versindaba argief onder die datum 4 Februarie 2011.

 

Wat is ’n prosagedig? Wat is die verskil tussen n prosagedig en n kort-kortverhaal? Is Breyten Breytenbach se Katastrofes prosagedigte of kort-kortverhale? En Zirk van den Berg se tekste in Ekstra Dun vir Meer Gevoel? Wat is die verskil tussen ’n prosagedig en die ‘poëtiese’ prosa van n Michael Ondaatje ofn Anne Michaels? Ek was nog nooit regtig seker oor enige van hierdie vrae nie — en ek moet bysê, ek het myself ook nog nooit regtig hieroor verknies nie!

 

Prosagedigte van nader bekyk

 Nou kan ons na spesifieke voorbeelde van prosagedigte kyk en probeer aantoon watter eienskappe en geaardhede aandui dat ons hier met ’n prosagedig te make het en nie met ’n kort stukkie prosa of reëllose gedig nie.

Upprätt4

 Tomas Tranströmer

 I ett ögonblick av koncentracion lyckades jag fånga hönan, jag stod med den i händerna.

 

Regop

 Prosagedig

 

’n Oomblik het ek gekonsentreer en toe vang ek die hen. Ek staan met haar in my hande. Snaaks, sy voel nie regtig lewendig nie: styf, droog, ’n ou dameshoed versier met wit vere, wat waarhede uit 1912 uitkraam. Onweer hang in die lug. Uit die planke styg daar ’n geur soos wanneer mens ’n fotoalbum oopmaak wat so oud is dat mens nie meer die foto’s kan uitmaak nie.

Ek dra die hen na die hoenderhok en los haar. Sy word skielik springlewendig, besef wie sy is en begin hardloop soos ’n hoender. Die hoenderhok is vol taboes. Maar die wêreld rondom is vol liefde en manmoedigheid. ’n Lae klipmuurtjie half met groenigheid oorgroei. Wanneer dit skemer word, begin die klippe effens gloei met ’n honderdjarige warmte van die hande wat hulle gebou het.

Die winter was straf maar nou is dit somer en die grond wil hê ons moet regop wees. Vry, maar versigtig soos mens in ’n bootjie regop staan. ’n Herinnering aan Afrika duik op: Chari se strand, troppe bote, ’n heerlik vriendelike atmosfeer, die amper blouswart mense met drie reguit littekens op elke wang (die SARA-stam). Ek word verwelkom aan boord. ’n Kano van donker hout. Dit is verbasend wankelrig, selfs al hurk ek. ’n Balansnommer*. As jy aan die linkerkant sit, moet jy jou kop effens na regs hou, niks in jou sakke nie, geen groot gebare nie, alle retoriek moet agterweë bly. Netso: hier is retoriek onmoontlik. Die kano gly weg oor die water.

Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter

 

 

Numerologie: The balance number is calculated from the values of the initials of the birth name as first officially recorded at birth — the full name, including the family name … Interpretations of the energy your balance number represents are useful for revealing personal tendencies during times of stress.”

 

Nota

Hierdie gedig is nie opgeneem in die bundel vertaalde verse “Alles keer om” van Tomas Tranströmer nie.

 

Is dit ’n prosagedig?

 Ek dink mens kan die eerste paragraaf baie goed beskryf as suiwer prosa. Dit vertel in volsinne van ’n seun wat hoenderhen vang. Die vertelling is weliswaar dig en bevat baie inligting in min woorde: die hoenderhen verstyf soos ’n ou verehoed wat waarhede uitkraam. En dan die geur uit die planke wat mens aan ’n baie ou fotoalbum laat dink.

Dig geskryf, maar nog heeltemal binne die kader van goeie prosa wat ook beeldryk kan wees en heelwat inligting met min woorde oordra.

In die tweede paragraaf bevind die leser hom nader aan die terrein van die gedig. Die styl word minder logies vertellend en bied beelde en idees aan in ’n oënskynlik onsamehangede wyse: die hoenderhok is vol taboes maar die omringende wêreld is vol liefde. Hier word die leser nie meer ingelig met ’n duidelik aaneenskakelende gedagtegang nie, maar word uitgedaag om self te begin vertolk wat die kriptiese stellings eintlik beteken. Hierdie “poëtiese” skryfwyse waar die leser betekenisse en begrippe moet bydink word voortgesit met die klippe wat begin gloei weens die warmte van lank afgestorwe hande. Indien hierdie reeks begrippe in prosavorm geskryf sou wees, sou die teks heelwat langer gewees het en die skrywer se bedoelinge baie duideliker uitgespel gewees het.

In die derde paragraaf neem die prosagedig ’n skerp wending en nou lees mens van ’n toneel in Afrika waar die verteller in ’n kano sit en balanseer. En hier word die begrip van “regop” na vore gebring – dit is nodig om “regop” te sit, en te leef indien jy jouself wil handhaaf, soos die hoenderhen wat uit haar verstarring ontwaak en haar balans herwin sodat sy “soos ’n hoender (regop) kan hardloop”.

Hierdie prosagedig gebruik min, amper geen, van die gebruiklike digterlike stylmiddels soos rym, bepaalde ritme, assonansie en alliterasie, ensovoort nie. Dit verwerf “digterlikeid” deur gedrongenheid van metafore en beelde, ingebed ’n prosaïese raamwerk.

 

 En hierdie een?

 

Die naakte filosoof, die kaal wetenskaplike, die ongeklede digter5

 

Die filosoof, wat ook ’n digter is en ’n self-geleerde wetenskaplike, glo vas die maan

is eintlik ’n reuse-aartappel. Hy dink die Groot Hadron Botser gaan lig werp op sekere donker dinge en hy beskou ’n veer wat van ’n engel se vlerk afgeval het gedurende een van hulle gesprekke as een van sy grootste skatte. Die digter-filosoof, wat ’n self-geleerde wetenskaplike is, voel dat Da Vinci se Mona Lisa ’n reeks verfsmeersels is; dieselfde met Jackson Pollock se goed. Die wetenskaplike digter is ’n wetenskaplike soos alle ander wetenskaplikes wat glo wat hy ontdek het om te glo; hy eksperimenteer in sy gedagtes en hy neem waar met fanatiese akkuraatheid om die patrone te ontdek wat hy verkies.

Hierdie filosofiese wetenskaplike wat ook ’n self-geleerde digter is, trek die werklikheid aan as ’n T-hemp met die slagspreuk: hieronder is ’n naakte man.

 

Waarom word hierdie een beskou as ’n prosagedig?

 Op ietwat speelse wyse word die verskynsel van “geleerdheid” en “talent” en “vaste oortuigings” teen mekaar afgespeel en gedekonstrueer. Indien hierdie taak as prosa aangebied sou word, sou dit heelwat langer moes wees om toe te laat vir volsinne wat logiese stellings maak in verband met die “filosoof”, “wetenskaplike” en “digter”. Die teks sou meer lig moes werp op die filosoof-wetenskaplike-digter se absurde idee dat die maan eintlik ’n reuse-aartappel is. Die prosaïs sou waarskynlik ook genoop voel om die verband en ooreenkomste tussen hierdie drie tipes mens duideliker uit te stippel.

Herhaling speel ’n belangrike rol om ’n poëtiese eenheid in die stuk tot stand te bring: digter-filosoof, self-geleede wetenskaplike, filosofiese wetenskaplike, self-geleerde digter. Eienskappe van die een karakter word op ’n ander karakter toegepas (self-geleerd) en eienskappe van die een word gekoppel aan die ander: digter-filosoof, wetenskaplike digter.

En dan, tipies van poësie, eindig die prosagedig met ’n skerp insig: onder al die geleerdheid en waan is die mens eintlik naak – ontdaan van belangrikheid en diepe kennis.

 

Weer die Hadron Botser

’n Jong Amerikaanse digter, Danielle Mitchell, het ’n interessante prosagedig geskryf waarin huidige kwantum-fisiese begrippe, soos die Higgs boson, verbind word en inspeel op menslike emosies  soos liefde.

Hier is ’n kort stukkie inligting oor die digter:

 

Danielle Mitchell graduated cum laude from the University of Redlands with a Bachelor’s Degree in Creative Writing in 2008 and now lives in Long Beach, California. She is featured in the book Pop Art: Anthology of Southern California Poetry and her prose poems have recently appeared in Connotation Press, Cease, Cows, Four Chambers Press, & the East Jasmine Review.

Bron: diymfa.com

 

Encyclopedia Eradica6

 by Danielle Mitchell

 

Hadrian’s Wall was incorrectly thought to have anything to do with King Arthur. Arthur was thought to be a cuckold. A cock is a bringer of power. Or a fowl. Hadrian was thought to be a humanist, but he enjoyed a hunt. The Higgs boson is the fox. Run through the Large Hadron Collider beneath France. Results come out of Switzerland, because it’s neutral. The God-Particle has only one intention: to make you choose. Everything above the wall was said to be wild. You are a Lancelot. You convince me choice is irrelevant. There are three anticolors. They repel their natural mates. There is a man who listens deeply, whom I want desperately to love. Hadrian said his wall was “divine instruction.” You said there’s a better way to be lonely. It took two years to excavate the seventeen tons of gravel & six months to freeze the walls that house the Atlas Detector. Arthur was a fool for magic. I ask you to love me. Love me like the Higgs boson, like the particle that explains why I matter. Hadrian died an empire. Arthur, a kingdom. All this to prove a darkness. I sing out to the antiblue, give me some proof of existence.

 

Wat word hier gesê?

 ’n Prosaïs sou nogal lank moes skryf om in prosa oor te dra wat hier op poëtiese wyse gesê word. Dit is ’n baie digte teks met ’n reeks oënskynlik heeltemal onverwante begrippe wat langs mekaar staangemaak word en op een of ander manier betekenisvol gemaak word in hulle vreemde verbande. Die Romeinse keiser Hadrianus en sy muur kom voor, saam met die Higgs boson, die legendariese ridder Lancelot, die “Atlas Detector”, die legendariese koning Arthur, ’n onbekende en ongedefinieerde “You” wat deur die spreker in die gedig gevra word om haar lief te hê. En dan eindig die gedig met ’n versoek dat die spreker se bestaan bewys moet word.

Wat sou die rede wees dat die digter besluit het om die elemente van hierdie stuk in aaneenlopende reëls te skryf, in plaas van afgebroke eenhede?

Dit is veral in hierdie stuk duidelik dat die digter gevoel het dat die disparate elemente beter met mekaar versoen sou kon word indien hulle nader aan mekaar staan in ’n aaneenlopende reël, eerder indien hulle afgeskei sou wees deur eenhede van verswit wat hulle verwantskap moeiliker bespeurbaar sou maak.

Dieselfde kan gesê word van Tranströmer se stuk waar die begrip van “regop” op verskeie uiteenlopende maniere aangedui word wat makliker verstaan kan word in ’n prosa-patroon. En dan ook die wisselende eienskappe van die filosoof, digter en wetenskaplike in die “Naakte filosoof” prosagedig.

 

Is dit dan duidelik?

Is dit dan duidelik wat die verskil is tussen ’n gedig en ’n prosagedig? Nee, ek glo nie dit is besonder duidelik nie!

Op die gebied van die kunste en literatuur kan niks met absolute sekerheid vasgepen word en finaal omskryf word nie. Dit geld ook, soos in die afgelope klompie dekades besef is, vir die wetenskap.

Ek, as leser, aanvaar dus maar in goeder trou ’n skryfstuk as poësie wanneer dit as poësie aangebied word, en ’n prosagedig wanneer dit as prosagedig aangebied word. ’n Onnutsige digter sou byvoorbeeld kon besluit om’n prosagedig van iemand in poësie-vorm aan te bied aan niksvermoedende lesers. Of ook andersom.

Gelukkig behou lesers die reg voor om self te besluit of hulle hou van ’n stuk, in watter vorm ook al. Lesers besluit self of hulle dink ’n besondere stuk slaag, ontroer hulle of laat hulle koud. Lesers het die mag in hulle hande, hulle regeer!

Bronne

 

1 “T.S. Eliot’s Prose (Poetry)” https://link.springer.com/chapter/10.1007/978-3-319-77863-1 8

2 “The Fallacy of Prose poetry: an Extension of Eliot’s ‘Reflections on Vers Libre’”. org

3 “Billy Collins on beauty and the difference between poetry and prose”. com

4 “Upprätt”. Tomas Tranströmer. Samlade dikter 1954 -1996.Bonnier Pocket 2001

5 Uit: “Oop sirkel” De Waal Venter. Naledi 2017

6 diyAMFA com

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.