Selwyn Milborrow. gedig vir ma

 

gedig vir ma

(vir Eva Milborrow)

 

ma, die lied van jou mond

was my klaasvakie

toe ek nie kon slaap nie

en jou oë verskrikvoëls

teen al my nagmerries

 

ma, wat het jy Hom gevra

wat my tot vandag nog dra?

 

ma, ek weet jy maak gereed

vir ‘n sonsverduistering

en ek vir die val van ‘n herfsblaar

 

maar ma, wat moet ek Hom vra

om jou nog ‘n paar somers te dra?

 

ma, mag my gedig

jou hou

by my

vir ewig

 

© Selwyn Milborrow, 2021

 

Bookmark and Share

Comments are closed.