Sedert 1 April is byna 40 gedigte ontvang vir die “Gedig van die Maand”-kompetisie. Baie dankie aan al die digters wat deelgeneem het. Uiteindelik het die beoordelaars 2 gedigte uitgesonder wat die eerste prys deel. Dit is “Sinesteties” van Daniel Hugo wat volgens die beoordelaars “ware poetry” is, en “Einde van die dag” van Charl-Pierre Naudé wat deur middel van die sentrale metafoor insiggewende kommentaar lewer op die Covid-19-pandemie.
Die beoordelaars was prof. Hans du Plessis en dr. Marni Bonthuys.

Einde van die dag
Twee suiltjies elk
met ʼn vlammetjie gekroon.
Kerse genoem,
of die daeraad van beskawing.
ʼn Paartjie sit by ʼn rondetafeltjie
in die laaste restaurant
wat oop is in ʼn kusdorp.
Hulle hou handjies vas
en drink ʼn heildronk.
Die tafel
is ʼn kring op ʼn staander
en verskaf die verhogie vir ʼn bietjie verstrooiing.
Hul oë kyk af, gesigte blink
soos maskers in die dowwe lig.
Die kernoomblik, is dit,
in ʼn Griekse tragedie.
In ‘n breuk-
sekonde leun hul na mekaar
oor vir ʼn aanraking en voel hulle
hoe dúrend die mense van die outyd was
wat nou vir ewig vort is.
Die deus ex machina
bring hul kos op ʼn skinkbord.
Die kerse smelt. Dis maar hoe dit gaan.
Die probleem
met ʼn onvergeetlike dag,
soos die geskiedenis,
is dat dit moet eindig. En aanstons
gaan party van ons huis toe na ʼn minnebed
en die ander slaap ewe rustig
voort deur die onmeetlikheid.
Die oppervlaktes
waarop geëet is bly agter
soos tafels diep in die aarde begrawe.
Dit is die lang, lang nag
van die roerlose tyd.
Tot, op ’n oggend in die verre toekoms,
die weersomstandighede weer ingeswiep sal kom
met ʼn uitskud van wit doeke
soos kelnerinne van bo
die breekware aan’t uitsit,
om nogmaals
die omwenteling te begin
wat kortstondig sal uitloop,
teen die aand,
in die lewe wat ons ken.
© Charl-Pierre Naudé

Sinesteties
as sterre se lig pulseer
teen dieselfde frekwensie
as die krieke se geskril
is die brulpadda se brul
die volmaan wat klokhelder
deur die Karoonag beier
en jakkals met sy gehuil?
’n sekelmaan wat skelm
agter die vlieswolke skuil
die hees verskrikte kiewiet
wat al om haar nes roteer
flikker soos ’n satelliet
as niemand die digter keer
hou hy aan improviseer
© Daniel Hugo, 2021

Hartlik geluk aan die wenners!
Aan albei digters: van harte geluk!
Hartlik geluk Daniel en Charl-Pierre!
Ek hou baie van die gedigte! Geluk aan die digters.
Dankie!
Veels geluk aan die wenners!
Mooi wense
Gelukwensings, menere. Dis duidelik: Die beoordelaars ken hulle storie!