Resensie. Heenkoms (Meyer van Rensburg)

 

 

Heenkoms deur Meyer van Rensburg. Imprimatur, 2021. ISBN 978-0-620-92969-1

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Heenkoms is die tweede bundel van die digter Meyer van Rensburg. In 1983 verskyn Klankmanwoordboom (Human & Rousseau) wat die betekenis van klank in ‘n gedig ondersoek en ontgin. Nou, 38 jaar later, is daar Heenkoms. Heenkome, tuiskoms, afkoms, heengaan en al die ander versluierde betekenisse word deur hierdie titel opgeroep.

In die afdelings Uittrek, Uitbeeld, Uitspraak navigeer hierdie digter die impak van vertrek uit jou land en aankoms in ‘n vreemde ruimte. Die “gekopuleerde klinkers van my klankbord” waarsku die programgedig, wat telkens die afskeid (en vertrek) uit die moederland (en moedertaal) ondersoek in verskillende verse. Pynlik, maar sober. En klank is hierdie digter se métier, ‘n voormalige klankingenieur by die SAUK en liedjieskrywer vir musiekkunstenaars.

So dig hy dan:

 

Beeldkontroleur

 

voeg visie by die woorde

laat klank substansie kry

beligte klankakkoorde

crescendo vol verby

tot lampelegkaart vierkant pas

’n prentjiemooi geheel

en niks word dan weer bygelas

dis woordwys fyn gereël

profeties klaar

gekontroleer

deur woordbeeldregisseur

(41)

 

En:

 

 Klankmanie

 

Ek wil, soos mikrofone,

woorde in my net vasvang:

die instrument se nootpatrone,

weer, berigte, klanknuanses

klodder teen my aan

terwyl ek met my gospel-goggles

die lewe gadeslaan.

Ek wil my klinkers so verstel

dat ek klankgetroue goeie nuus vertel:

die manie gaan nie dood nie,

al doof hy allengs uit.

(43)

 

Ons het hier ‘n woordvaste digter wat uit ‘n vreemde landskap terugkyk na Van Wyk Louw en Opperman. Hoe dan anders? Die digter karteer sy verlange na sy herkoms en in ‘n nostalgiese vers soos “Ganspan” (23) onthou hy die “suikersagte sand”.

 

II

Behalwe vir die migrasieverse en verse wat die klankmatige van die gedig ondersoek, is hier ook teologiese besinnings. In die slotvers “Die laaste vertrek” (93) word daar verwys na die “lyflike Egipte”  … en die gedig eindig met “Eksodus!”.

Hierdie gedig verwys terug na die vers “Eksodus 4:10” (13) waar die digter homself tipeer as “swaar van mond en tong”. Tog uit hierdie selfironiese opmerking sien ons dan verse oor klank en musiek en ‘n spreker wat hom meet aan Louw en Opperman. Tog skuil daar in hierdie gedig ‘n belangrike spel met sy “prullerige gestotter” wat uiteindelik uitstekend verwoord word. Ook die spel tipografie sien (en hoor) ons in “Wandelende Jood” (33) met sy dubbelsinnige slot. Die tuinier is hier ook die digter wat snoei en kap.

In “redigering” (42) gebruik hy die begrip anastomoseer wat netwerke en verbintenisse impliseer, maar vir hierdie leser ook die begrip anastrofe oproep. En wat verruklik is “’n Simpel liedjie” (48) nie. “Soho: Diane Schuur” (79) is ‘n uitsonderlike huldeblyk.  Hy verwys na die “dinamies perfek getoonde woorde” en “helder kaskades” met ‘n slot wat aan die keel ruk.

Eweneens is daar beeldverse soos oor Winston Churchill en Jan Smuts wat ‘n bepaalde politieke diskoers aktiveer in hierdie dae van beeldverwydering.

Die verskille in toonaard is opmerklik: van die ernstige, wufte, frivole, satiriese tot selfspot. Die gedig sit vol ironie en dubbelspraak, die kentekens van ervare digters.

Ons vind ook ars poeticas – netjies opgebou róndom klankspel en assosiasies – wat die poësie “tradisieklas” via Van Wyk Louw, Opperman, Peter Blum en Lina Spies aktiveer.

Die migrasie na Engeland plaas die digter binne ‘n vreemde (taal)landskap met ‘n nostalgiese verlange na sy mense.

Ons tref vele Bybelse verwysings en toespelings regdeur die bundel. Die digter is opgelei in die teologie en het boeke hieroor gepubliseer en in “Teoloog” (28) soos in “Religie: sistematies opgedis” (26) word die plek van godsdiens ondersoek.

Ouderdom, liefde, familieskap, die dood en die natuur maak van hierdie bundel ‘n ryk geskakeerde werk wat elke herlees sy geheime stadig prysgee. Iets hiervan sien ons in die voorblad (“Island refuge”). In “Ou skilder” (92) som die digter sy lewensfilosofie op:

 

Ou skilder

 

En nou, voor die laaste dae kom,

wil ek nog een verfkwas laat blom:

oor seildoek strepe trek wat wys

hoe ek natuurwonders kan prys

in diep karmosyn,

chartreusegroen of amber

en teen ’n lasuur of kobalt lug

nes note in ’n koloratuurgesang

sneeuvlokwolke los laat dryf:

dan, as my doek die vrye kleurevlug

vasvang,

het my siel vir eers genoeg gelyf.

(92)

 

III

Die pragtige omslag is na ‘n skildery van die digter sélf wat ook onderlê is in die teologie. Hy het sewe boeke gepubliseer oor teologiese onderwerpe. Die gedigte verval egter nie in die abstrakte nie, omdat hy telkens die worstelende vrae konkretiseer.

In hierdie bundel word geworstel met die sin van die lewe en die ouderdom. En ‘n fan van Sinatra se “foutlose frasering” is ‘n digter so na my hart.

Daar is wat hierdie leser betref nie een swak vers in die bundel nie. Welkom terug, Meyer van Rensburg!

Dit is ‘n loflike publikasie en dank aan Imprimatur wat dit gepubliseer het.

 

 

Naskrif:

Kyk hoe mooi het wyle Gisela Ullyatt oor die eerste bundel geskryf wat ek vir haar present gegee het.

https://versindaba.co.za/tag/klankmanwoordboom/ Besoek 14 Junie 2021

Bookmark and Share

Comments are closed.