Selwyn Milborrow. die vrede kom later

 

die vrede kom later

(vir Diana Ferrus*)

 

beroof van die hamer in sy hand

en die koestering van sy kroos

 

só moes hy sonder vertroosting

tussen skrapnel en tenks soek na skuiling

 

maar sy droom was nie verlore

want die vetes van die verlede

lê vergete tussen geroeste gewere

 

die grofgeskut is finaal verruil

vir die gewapper van vredesvlae

in elke dorp, stad en straat

in worcester

in tobruk

in aachen

in elke kinderhart

 

jou pa se vrede was nie verlore

was hom altyd maar beskore

 

* Digter, Diana Ferrus se pa, skutter Jacobus Marinus Daniel Ferrus, diensnommer 304463, was lid van die Kaapse Korps (tweede divisie). Hy was ‘n krygsgevangene, wat in Junie 1942 by Tobruk gevange geneem was. Hy moes werk as skrynwerker in Aachen, die eerste Duitse stad wat deur die geallieerde magte gedurende die Tweede Wêreldoorlog binnegeval was.

 

© Selwyn Milborrow, 2021

 

Bookmark and Share

Comments are closed.