Resensie: Na die wette van afskeid & herfs. Eddy van Vliet, vert. deur Daniel Hugo. Protea Boekhuis, 2021.
Resensent: Marlies Taljard
Na die wette van afskeid & herfs: ʼn keuse uit die gedigte van Eddy van Vliet is ʼn netjiese bundel wat keurig uitgegee is deur Protea Boekhuis. Daniel Hugo het 35 van Van Vliet se gedigte uit die Vlaams in Afrikaans vertaal.
In 1998 het Heilna du Plooy Van Vliet se Poëzie: een pleidooi in Afrikaans vertaal met die titel ʼn Pleidooi vir die poësie. Dit het veral daartoe meegewerk dat dié digter by Afrikaanse lesers bekendheid verwerf het. In dié essay, waarin die spanning tussen die konkrete wêreld en die droomwêreld waarin poësie ontstaan, beredeneer word, kom Van Vliet se retoriese vaardigheid (hy was advokaat van beroep) ten beste na vore. Van Vliet was egter primêr digter. Hy het 13 digbundels die lig laat sien en enkele belangrike pryse daarvoor ontvang.
In Na die wette van afskeid & herfs het die vertaler in sy seleksie veral gefokus op gedigte wat outobiografiese trekke besit (sien Joan Hambidge se resensie van die bundel). Ook gedigte oor lewe en dood (dus gedigte met ʼn universele tema) kom in die seleksie voor. ʼn Gesprek tussen Daniel Hugo en Yves T’Sjoen wat onlangs op Versindaba verskyn het, bied interessante insigte in verband met die aard van die seleksie wat die vertaler gemaak het, asook enkele vertaalstrategieë.
Omdat die bundel onder bespreking ʼn vertaling is, is dit belangrik dat ʼn resensie sal fokus op die vertaling en nie soseer op Van Vliet se poësie nie.
Wanneer ʼn vertaling vanuit Nederlands in Afrikaans verskyn, vra ʼn mens jou dikwels af of dit sinvol is om so ʼn vertaling te onderneem, aangesien die mense wat die bundel gaan koop, waarskynlik meestal Nederlands redelik goed magtig is en die gedigte ewe goed in Nederlands sou kon lees. Dit is egter ook so dat die meeste lesers van die vertaalde bundel nié die Nederlandse bundel sou koop nie – veral omdat Nederlandse bundels baie moeilik in Suid-Afrikaanse boekwinkels te vinde is. Verder sou mens daarop kon wys dat so ʼn vertaling eweneens die Afrikaanse literêre polisisteem verryk en dat vertaalde werke ʼn belangrike plek in enige literêre kanon inneem of behoort in te neem, aangesien dit die reikwydte van die kanon verhoog. Dit lyk dus wel sinvol om so ʼn vertaling te maak, al lê die brontaal en die doeltaal in sowel grammatikale as sintaktiese en leksikale struktuur baie na aan mekaar – soos die Afrikaans en die Vlaams in die tersaaklike tekste.
Verder sou ʼn mens ook kon kyk na die prosedure wat die vertaler gevolg het in sy vertaling. In die bundel Na die wette van afskeid & herfs lyk dit asof die vertaler redelik letterlik vertaal het. Dit is een van die algemeenste vertaalstrategieë waarvan gebruik gemaak word as twee tale binne dieselfde taalfamilie lê en daar ook nog kulturele ooreenkomste tussen sprekers van die twee tale bestaan, bo en behalwe die ooglopende ooreenkomste tussen die twee tale. So ʼn vertaling behels nie spesifieke en ingewikkelde stilistiese gimnastiek nie en dikwels bestaan daar nie ʼn groot verskil tussen tekste wat deur mense vertaal is en masjienvertaalde tekste nie. In literêre tekste is daar egter altyd teksdele waar die vertaler van ander strategieë gebruik moet maak om nie die meerduidigheid of die literariteit van die oorspronklike teks verlore te laat gaan nie. Dit is ook so dat woorde wat identies geskryf word en selfs semanties verwant is, dikwels nie in beide tale dieselfde betekenis en/of konnotasie het nie. Dan moet die vertaler ander planne maak om so ver as moontlik ekwivalensie tussen die twee tekste te bewerkstellig.
In die tersaaklike bundel word die Vlaamse teks op die linkerkant afgedruk, terwyl die vertaalde Afrikaanse teks op die regterkantste bladsy reg langs die oorspronklike teks verskyn. Sodoende is dit maklik om die twee gedigte met mekaar te vergelyk. Dit het my opgeval in hoeverre die gedigte op sintaktiese, semantiese en leksikale gebied ekwivalent vertaal kan word. Op enkele plekke sou ek persoonlik dalk ander leksikale keuses gemaak het. Op pp. 34-35 word die reël “de eden duurzamer worden” in Afrikaans vertaal met “die eden duursamer word” – ek dink die meervoud van “eed” is in Afrikaans “ede”. Op ander plekke hinder die direkte vertaling, soos wanner “kanarievogels” in Afrikaans “kanarievoëls” word (pp. 32-33) – ons praat hier immers sommer van “kanaries”. Wat die gebruik van die verlede tyd in Vlaams betref, kies die vertaler dikwels om in Afrikaans die (historiese) teenwoordige tyd te gebruik ter wille van soepelheid, bv. “Het was Spanje waar ik de haat verdroeg” x “Dit was Spanje waar ek die haat verduur” (pp. 58-59). Daar is eweneens plekke waar die effens “verdraaide” Afrikaanse vertaling die gedig verryk, soos wanneer Hugo vertaal: “in nooit betreden en bestreden kerken” x “in nooit besoekte en vervloekte kerke”. Hier word die alliterasie en assonansie van die bronteks behou, wat egter ook sou gewerk het as die digter gekies het om “nooit betrede en bestrede” te gebruik. Laasgenoemde vertaling sou in Afrikaans egter nie dieselfde betekenis hê as in die bronteks nie, terwyl “nooit besoekte en vervloekte” ʼn meer robuuste vertaling is – enersyds klankmatig en andersyds omdat dit effens sterker gestel word as in die bronteks (pp. 50-51).
Oor die algemeen het ek hierdie vertaling ʼn lofwaardige poging gevind. Die handvol Van Vliet-gedigte is gedigte wat tot ʼn groot lesersgehoor behoort te spreek. Dit is gedigte wat bedrieglik eenvoudig is en waarin universele menslike problematiek sowel as diep persoonlike emosies saam resoneer. Dit het trekke van argetipiese mites, terwyl dit steeds relevant bly vir moderne mense. Die vertaling is effektief en lees soos oorspronklike Afrikaanse gedigte, soos byvoorbeeld:
Soos wat die oggend die nag binnedring
d.w.s. versigtig en onafwendbaar
gly die skadu’s van die minnaar
eers sywaarts langs haar lende
met iets van die woord “nouliks” in elke gebaar
om skielik onvoorwaardelik swaar
vanuit haar geheimste plooie
soos ‘n valk te val
in die laaste lig
wat sy stadig doof onder haar ligste wimpers.
(p. 49)
Baie dankie, Marlies, vir die insiggewende resensie – ook vir die uitwys van die tikfout “eden” vir “ede”. Wat “kanarievo”els” betref, ek het dit gebruik t.w.v. van die alliterasie wat ook in die Nederlands voorkom: “vrouwen en kanarievogels”. Leipoldt gebruik die woord “kanarievo”el” in sy gedig “Vrede-aand”.