‘n uur so lank soos ‘n aar
‘n uur so lank soos ‘n aar
is al wat ek by jou wil kom vat
elke holte en ronding van jou lyf
bloedkant na binne gedraai
klein rooi riviertjies van jy
oor elke knobbel en spier
‘n uur so lank soos ‘n aar
waar die hart sy fontein kom kierie-klop-klop
aan die plankdun mure van my knus klein kaia
kosyn span ‘n boog oor die kroon van my kop
ek die koning wat lewe spin uit goud
sodat die vel daarvan krul soos die stert van ‘n kat
soos ‘n naaimasjien al op sy gare af draf
stikvoet vir stikvoet
blomkant op blomkant met die naat op die pensie
(die mooiste ding aan ‘n vrou is die naeltjie)
met ‘n ragfyn geheime behangsel voor die deur
wat net ek en jy van weet
so pasklaar wil ek jou, my lap
teen my geskeurd voel fladder
duiwe wat koer agter verwaaide grassaad op ‘n stoep
glad gevryf met rooi of groen politoer uit ‘n blik
met ringe wat klingel soos hul enkels swik
en hoenders met rooi gekamde lelle wat kloek-klek oor my werf
‘n uur so lank soos ‘n aar
om duimpie vir duimpie uit jou derms te ryg
sodat jy binnesmonds kan kla, hokaai my lief
as ons so dom was om minute te hou
uit die oupa-horlosie aan die kopkant van ons bed
sal al die vere uit ons kussings
voor ons starende oë kom waai
dat ons dadelik weer kan vergeet
waar ure begin of waar eindig
met elke hap sal ek eers bietjie skietgee, my lam
dat jy jou vere reg kan skud
en tevrede kan sug soos die wind uit ‘n oond
sag soos brood en die vleis van skorsies
net ‘n uur so lank soos ‘n aar
© Piet van Rooyen, 2021