As jy slaap
As jy slaap en die verdriete
en selfs ons bitter liefde agterlaat,
is jy maar weer ʼn argelose kind
met drome wind’rig oor jou mooi gelaat.
Ag, as die teer nag in jou arms lê,
en sterlig oor jou bors en hare skyn,
is jy maar weer ʼn seuntjie weggedwaal
van huis en ouers en hul soete samesyn.
Ag, in jou slaap wil ek jou neem
en aan my bors hou tot die môre wyd
oor al die heuwels breek – wil ek jou neem
en terugbring van jou eensaamheid.
(Uit: Rook en Oker, Jonker, I. 1994. Ingrid Jonker, Versamelde Werke (Derde Hersiene uitgawe). Human & Rosseau, p 58.)