Villanelle vir ‘n ontslape digter
Ons is die skrywers van ‘n oerverhaal
wat tuimel in die slentergang van tyd.
Ons skep die metatekste van die taal.
Ons is die eindpunt van die desimaal
wat repeteer tot in ons weerloosheid.
Ons is die skrywers van ‘n oerverhaal.
Ons volg die sirkels van die fynspiraal
se skulpings in die meetkunde geslyt.
Ons skep die metatekste van die taal.
Ons is die wanbalans op hierdie skaal:
die meetsnoer raak sy kalibrasie kwyt.
Ons is die skrywers van ‘n oerverhaal.
Ons metafore sal met heimwee draal
ontdaan soos gister voor ‘n ewigheid.
Ons skep die metatekste van die taal.
O koud, die warrelende windjie skraal,
die treurwysies van winternagte wyd.
Ons is die skrywers van ‘n oerverhaal.
Ons skep die metatekste van die taal.
© Mellet Moll, 2022