Mellet Moll. Waar poësie en ingenieurswese ontmoet

 

Prof. Johan Botha kort voor sy afsterwe (foto deur die Suider-Afrikaanse Insitituut vir Bedryfsingenieurswese)

 

Om werk van gehalte te lewer, begin by die skryfproses en aksies ter verbetering daarvan (byvoorbeeld skryfskole); tweedens, gehalteversekering deur middel van keuring; derdens, gehalteversekering deur middel van resensering; en laastens gehalteversekering deur middel van kanonisering en in sommige gevalle bekroning.

Hierdie sistematiese benadering sou in die geval van ’n ingenieursproses tot verdere ondersoek lei na metodes om die standaard van poësie in elke fase te verbeter.

 

“Ingenieur Jacobs het sy vrou so lief gehad dat hy na haar dood ’n lewensgroot wasbeeld van haar gemaak het.”

Só begin Jan Rabie se grensverskuiwende kortverhaal. Hierdie openingsin wat soveel letterkundiges al onder oë gehad en wat dalk een van die mees ikoniese openingsinne in Afrikaans is, is vir my van persoonlike belang omdat dit my professie in ’n tydlose en eksistensiële dimensie vasvang.

I.

Dit was iewers in die middel 80’s toe ek as tweedejaarstudent in bedryfsingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria in ’n lesinglokaal op die eerste vloer van die JG Strijdomgebou sit, in afwaging op my eerste lesing by die legendariese prof. Johan Botha. Hy was immers een van die baanbrekers van die ingenieursprofessie in die land. Hy was ook in 1956 die grondlegger van bedryfsingenieurswese as akademiese studieveld in Suid-Afrika na sy terugkeer van Cambridge Universiteit waar hy sy doktorsgraad behaal het. Terloops, in daardie selfde jaar het hy ook in die huwelik getree met ene Elizabeth Lindes, maar meer hieroor later.

Sy eksentrieke geaardheid was dikwels die onderwerp van bespreking onder studente. Hy was bekend vir sy intellek en sy onverdraagsaamheid teenoor enige teken van ’n gebrek daaraan; vir sy unieke motoriese vaardighede – hy het met beide hande op ’n swartbord geskryf; maar veral vir sy pedanterie rondom die gebruik van die Afrikaanse taal. Ek het in my later jare in die akademie van ouer kollegas verneem hoe ontwrigtend hy kon wees wanneer hy sy hand sou lig wanneer daar gevra is vir korreksies van vorige notules by senaats- en fakulteitsraadsvergaderings. Wanneer dit gebeur het, moes die voorsitter (tipies ’n rektor of dekaan) tot sy/haar groot verleentheid terugstaan en sien hoe die betrokke vergadering ’n uur langer duur omdat Botha die taalgebruik, grammatika en spelling in ’n lywige notule sin-vir-sin nagaan en korrigeer.

Maar terug na die oggend in die lesingsaal. Botha stap die vertrek binne, geklee in ’n kenmerkende snyerspak, strikdas en kruisbande. Sy grys baard was netjies gestileer en hy het ’n klein John Lennon-brilletjie op die punt van sy neus gehad. Ek kan nie onthou dat hy ooit deur die bril gekyk het nie. Hy het ’n Satin Leaf-sigaret tussen sy nikotiengevlekte vingers vasgehou (in daardie dae het sommige dosente nog gerook tydens lesings). Hy het nie die sigaret soos ander rokers hanteer nie en het eerder daaraan gepik. In sy ander hand het hy ’n pakkie vergeelde en gekreukelde klasnotas wat op wasvelle getik was vasgehou. Dit was duidelik dat hierdie notas al vir baie jare in gebruik was. Hy was op daardie stadium reeds naby aan sy aftrede en hy het ’n beheersde tremor in sy hande gehad wat ek nog nie voorheen by ’n ouer persoon opgemerk het nie. Stiptelik om 11:00 kyk hy op en ’n stilte daal oor die vertrek. Hy pik ’n laaste keer en vra dan met ’n intimiderende diep stem: “Is daar enige vrae?”. Ons kyk hom geskok aan. “Doodreg!” sê hy en stap by die lesinglokaal uit. Mettertyd sou dit tot ons deurskemer dat hy van studente verwag om voor te berei en dat sy lesings antwoorde op vrae sou bied. Die vak se naam was “Kommunikasie 210” maar ’n beter naam sou waarskynlik “Kommunikasie­vaardighede vir ingenieurs” wees. Vir sy intellek was die meer omslagtige omskrywing egter oorbodig. Omdat hy self die voorgraadse kurrikulum ontwerp het, was hierdie vak sy eie skepping en was dit daarop gerig om meer afgeronde ingenieurs op te lewer. Ons het weekliks opdragte ontvang wat ingehandig moes word waarin ons essays en mondelinge aanbiedings moes lewer. Ons het vinnig besef dat hierdie vak een van ons moeilikstes was vanweë die hoë standaard wat hy gestel het en dat dit eintlik ’n Afrikaanse taalkundeklas was. Sy irritasie met grammatika- en spelfoute sou noodwendig daartoe lei dat ’n student ’n werksopdrag sou druip indien daar enige tekortkominge hiermee was. Ek vermoed ’n hele generasie ingenieurs wat onder hom by UP studeer het, asook diegene wat by Stellenbosch studeer het, het die beroepswêreld betree met onverwagse goeie Afrikaanse taalvaardighede en ’n waardering vir die geskrewe Afrikaanse woord as gevolg van hierdie praktyke. By Stellenbosch wou sy latere eweknie, prof. Robert Reinecke, nie terugstaan nie en het hy soortgelyke praktyke ingestel (ander universiteite het eers later bedryfsingenieurswese as studieveld begin aanbied).

Lesers mag wonder waarom ek my betoog met hierdie vertelling begin en hoe ek dit in verband met poësie bring. In 1989 was ek bevoorreg genoeg om Botha se afskeidsfunksie by te woon tydens sy aftrede. By die geleentheid ontmoet ek en my tydgenote vir die eerste keer sy eggenote, wat ons op daardie stadium vaagweg verstaan het ’n senior akademikus by Unisa was. Dit was natuurlik prof. Elize Botha. Toe dit tot my deurskemer watter statuur sy in die Afrikaanse letterkunde het, het baie van die raaisels wat ek oor hom saamgedra het, begin opklaar. Ek het agter haar by die kostafel gestaan en haar gegroet. Sy het omgedraai en op een of ander manier met my oor populêre films begin gesels. Sy het my vertel dat sy Dead Poets Society waardeer het, maar dat haar gunsteling film van daardie era Bagdad Café was. Dit was vir my opvallend dat haar suiwer taalgebruik en stelwyse baie soortgelyk aan haar man s’n was. Sedert die vroeg 90’s was sy inderdaad dikwels in die nuus in verskeie hoëprofiel-ampte en was haar stem bekend in ons almal se huishoudings. Ek kan net dink dat ’n persoon soos Johan Botha nie intellektueel teen haar sou wou afsteek nie en ek vermoed sy bemoeienis met die taal en sy waardering van letterkunde waaruit hy dikwels mildelik aangehaal het, was aangespoor deur haar en haar enorme prestasies. Ek dink my ook vandag in watter gesprekke in hulle huishouding plaasgevind het en aanvaar dat hulle ’n soort sinergie of simbiose tussen hulle onderskeie velde kon bereik. In kort, ’n belangrike leermeester van my was getroud met ’n belangrike leermeester van heelwat letterkundiges.

Daardie aand het Botha ook sy afskeidsrede gegee. Dit was ’n soort swanesang, ’n grootse en poëtiese toespraak waarin groot dele in digvorm verwoord was. Dit het ’n blywende indruk om my gemaak en my aangespoor om dieselfde hoogtes te wil bereik. Om dit te doen wou ek meer as ’n ingenieur wees. Ek wou soos hy ’n waardering van poësie deel van my lewe maak.

 

II.

“We don’t read and write poetry because it’s cute. We read and write poetry because we are members of the human race. And the human race is filled with passion. And medicine, law, business, engineering, these are noble pursuits and necessary to sustain life. But poetry, beauty, romance, love, these are what we stay alive for. To quote from Whitman, ‘O me! O life!… of the questions of these recurring; of the endless trains of the faithless… of cities filled with the foolish; what good amid these, O me, O life?’ Answer. That you are here – that life exists, and identity; that the powerful play goes on and you may contribute a verse. What will your verse be?” – John Keating (Robin Williams) uit die film Dead Poets Society.

Dit is opvallend dat verskeie professies reeds baie suksesvolle skrywers en digters opgelewer het en dat die ingenieursprofessie ’n agterstand het in vergelyking met hierdie professies.

Deur die jare het verskeie medici bydraes gelewer tot die Afrikaanse letterkunde en veral poësie. Dit laat natuurlik die vraag waarom medici dit kon regkry om poësie op te lewer wat moeiteloos in die kanon opgeneem kon word. Dink maar aan “digtende dokters” soos AG Visser, Louis Leipoldt, AD Keet, Phil du Plessis, Casper Schmidt, Gilbert Gibson, Hennie Nortjé en Hendrik J. Botha. Die resepsie van al hierdie digters was baie goed en veral die ouer digters soos Visser, Leipoldt en Keet het volksbesit geraak. Hulle professionele herkoms was alombekend en het moontlik bygedra tot hulle gewildheid as digters.

In die moderne era is Gibson toonaangewend as gevolg van die vernuwing wat hy bring. Sy werk word gekenmerk deur neologismes, vernuftige woordspel, grammatikale en ortografiese eksperimente, verbrokkelde sintaksis en sy verrassende gebruik van mediese terme.

Die Franse chanson-meester Jacques Brel het by geleentheid gesê “talent is wanting to do something”. Hy impliseer dat toewyding en volharding ’n belangrike rol speel in die vorming van talent. So byvoorbeeld is dit bekend dat veral die latere eksponente in die lys hierbo ’n groot premie op hulle ontwikkeling as digter geplaas het deur onder andere MA-grade in Skeppende Skryfkuns te voltooi. Dit het dikwels gelei tot manuskripte wat later bekronings ontvang het. Hendrik J. Botha se mini-verhandeling vir die MA in Skeppende Skryfkuns onder leiding van prof. Joan Hambidge ondersoek juis die rol en omvang van “Dokters as digters in die Afrikaanse letterkunde”.

Daar is ook ander redes vir die fenomeen van “digtende-dokters”. Suksesvolle medici word geliefde en gerespekteerde lede van hulle onderskeie gemeenskappe vanweë die bykans magiese waarde van hulle vermoë om te genees. Vir die medikus om dan as digter erken te word, is vir die meeste lede van daardie gemeenskap ’n logiese gevolg van hierdie status en word die medikus ’n soort sjamaan in die gemeenskap.

Laastens, en dalk die belangrikste, die mediese wetenskap is ’n onuitputlike bron van menslike dramas, verhale en intriges waarmee almal kan identifiseer en wat vertrekpunte verskaf vir poësie en narratologie.

Natuurlik kan die rol van ander professies insgelyks ondersoek word. Dit sou interessant wees om te verstaan watter rol die regsberoep in Afrikaanse poësie gespeel het. Aangesien die bespreking oor medici hierbo reeds uitwys hoe ’n professie dit kon regkry om sinergie te vind met Afrikaanse poësie, brei ek nie volledig hierop uit nie. Die digter Martina Klopper se debuutbundel Nadoodse ondersoek (2010) bied ’n genadelose blik op die regsaspekte van geselekteerde mediese vraagstukke. Haar professionele herkoms is vreemd genoeg atipies (sy is gekwalifiseer as ’n musikus en werksaam as sakekonsultant). Soortgelyk het die digter Johann de Lange se gedigte oor patologie in Die algebra van nood (2009) wat losweg ook as raakvlakke met geneeskundige reg beskou kan word, baie lof ingeoes.

’n Meer volledige akademiese ontleding van die sinergie tussen die regsberoep en die letterkunde is deur die regskenner en letterkundige, prof. Melodie Labuschaigne gedoen. Haar ontleding verskaf insig oor die klassifikasie van die studievelde gemoeid met die reg en die letterkunde en hoe dit kan bydra tot beide velde.

“Alhoewel regskwessies in Afrikaanse literêre tekste al vanuit verskillende invalshoeke benader is, was daar tot onlangs nog geen gepubliseerde navorsing oor die reg-en-letterkunde-beweging in Afrikaans nie. Die interdissiplinêre invalshoek van hierdie beweging verskaf die sneller vir die vernuwende insigte wat die letterkunde vir die reg bied. Die letterkunde verskaf nie net meer insig en konteks vir die reg nie, maar maak dit moontlik om binne die konteks van fiksie regsbetekenisvolle gevolgtrekkings rakende sosiale, politieke en maatskaplike verhoudings te maak. Die letterkunde vervul dus onder meer ’n etiese funksie wanneer dit ingespan word om sosiale instansies en regsnorme te kritiseer. Beide die reg-in-letterkunde en die reg-en-letterkunde maak dit moontlik om die individu agter die regsorde raak te sien en terselfdertyd die invloed van die regs- en sosiale orde op dié persoon waar te neem.” – Prof Melodie Labuschaigne

(https://www.litnet.co.za/afrikaanse-letterkunde-laat-regsmense-met-nuwe-oe-na-sake-kyk/)

Soos in die geval van die mediese beroep is dit weer eens opvallend dat die regsberoep ryk is aan ’n skatkis van menslike intrige en verhale, ’n bousteen van goeie letterkunde.

Dit sou ook interessant wees om die ontleding uit te brei na die sielkundige beroep. Miskien is die intuïtiewe konneksie tussen sielkunde en poësie duideliker aangesien poësie dikwels uitdrukking gee aan die menslike belewenis en die gepaardgaande komplekse psigologiese dilemmas. Ook in ander genres van die letterkunde speel sielkunde dikwels ’n sentrale rol.

Hierdie gedeelte van die bespreking sou nie volledig wees sonder om na die rol van teoloë in Afrikaanse poësie te verwys nie. Trouens, vir die grootste gedeelte van die bestaan van Afrikaanse poësie was die invloed van Calvinisme en gepaardgaande patriotisme dominant (byvoorbeeld Totius, IL de Villiers en andere); was die meeste mense se belewenis van Afrikaanse poësie skeefgetrek deur die wanpersepsie dat poësie noodwendig ’n addendum tot die Bybel moes wees; en dat alle poësie verkrampte, argaïese en geykte moraliteitsteater moes bied. Met die herlees van heelwat van hierdie tekste kan die bydrae wat dit tot die Suid-Afrikaanse psige gemaak het, bevraagteken word in die hedendaagse konteks (WOKE) waarin menseregte belangriker is as dogmatiese onderdrukking. Dit is my oorwoë mening dat teoloë baie skade en onverdraagsaamheid ten opsigte van diversiteit veroorsaak het. Vandag is die digter Cas Vos waarskynlik die laaste oorblyfsel van hierdie argaïese gereformeerde kanon. Sy latere fokus op vertalings van arkane religieuse werke dra min by tot die herstel van hierdie beeld of die neerlê van poësie wat die Zeitgeist verteenwoordig. Verfrissende latere toevoegings sluit in Jacobus van der Riet en Meyer van Rensburg se onderskeie oeuvres.

In die geheel beskou vind ek as ingenieur egter min te lere by hierdie professie.

 

III.

Teen die agtergrond van die kriptiese ontleding hierbo, is die fokus vervolgens om te bepaal watter bydrae ingenieurs tot die letterkunde en veral poësie gemaak het en waarom hulle rol redelik onbeduidend is.

Tydens my voorgraadse studies by die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria in die 80’s het ek per geleentheid die voorreg gehad om blootgestel te word aan nog ’n legende van die fakulteit – die destydse Departementshoof van Meganiese Ingenieurswese. Hy het, soos prof. Johan Botha, ook aan Cambridge Universiteit studeer en het twee doktorsgrade gehad: in Fisiese Chemie en in Meganiese Ingenieurswese. Hy word allerweë beskou as een van die baanbrekers van Suid-Afrika se uraanverrykingsprogram. Sy naam was prof. Pierre Haarhoff (1938 – 1990).

(http://www.stellenboschwriters.com/haarhoff.html)

Vir my as ingenieur met ’n sagte plek vir die letterkunde was dit ’n groot en rigtinggewende gebeurtenis toe die Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1989 die Eugène Maraisprys aan hom toeken vir sy kortverhaalbundel, Uit ’n ander wêreld en het hy vir my ’n soort rolmodel geword. Ek het jare later die voorreg gehad om by sy suster, die digter Melanie Grobler aan huis te kuier, na vertellings oor sy werk en lewe te luister en deur sy gepubliseerde werk en familie-argiewe te kon blaai.

As ’n mens Kannemeyer se literatuurgeskiedskrywing in Die Afrikaanse Literatuur 1652 – 2004 (2005) asook die Groot Verseboek raadpleeg, is die bydrae van ingenieurs tot Afrikaanse poësie minimaal. Trouens, die enigste ingenieur in die Afrikaanse digkanon waarvan ek bewus is, is die digter Wessel Pretorius, van wie waarskynlik meer bekend is oor sy vreemde maar passievolle liefdesintriges as sy professie. Sy gedigte handel meestal oor erotika, blouboordjie-blues en enkele eenvoudige verwysings na ingenieursprojekte. Volgens Kannemeyer skryf Pretorius poësie oor “…daaglikse belewenisse wat noodwendigheid mis…” en maak hy “…in sy liefdesverse van ’n popstyl en plat taal en sleng gebruik…”. Die gedigte het nie ’n unieke invalshoek of inhoudslading as gevolg van sy professie nie.

Die meeste ingenieurs bevind hulself, veral aan die begin van hulle loopbane, iewers tussen die professionele wêreld en die wêreld van blouboordjiewerkers en hulle professionele sukses hang dikwels af van hoe hulle tussen hierdie twee wêrelde sin maak sonder om hulle eie identiteit prys te gee. As gevolg van die wye geografiese verspreiding van ingenieursprojekte beland sommige ingenieurs as inwoners in allerlei plattelandse myndorpe en industriële gebiede. Daardie ingenieurs word soms tot so ’n mate oorweldig deur die plaaslike kultuur dat hulle dan hulle identiteit as professionele persone verruil vir ’n blouboordjiekultuur. Stelsel­matig verloor hulle dan die vermoë om verby die eendimensionele, die alledaagse, die seksuele en die artefakte van ’n geykte bestaan te dink.

Vir hierdie redes beskou ek Pretorius se werk nie as rigtinggewend vir ingenieurs in Afrikaanse poësie nie.

In teenstelling hiermee, kan die bundel Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle (2014) deur die sosioloog en digter Andries Bezuidenhout beskou word as ’n bundel wat moontlik as ’n voorbeeld kan dien van die poësie van ’n ingenieur. Die bundel vorm deel van ’n MA in Skeppende Skryfkuns wat hy onder leiding van prof. Marlene van Niekerk en dr. Willem Anker behaal het. Bezuidenhout, wie se wye belangstellings en talente min bekendstelling nodig het, is goed vertroud met die werksomgewing van die ingenieursbedryf en die inkleding wat die onderskeie Industriële Rewolusies bied. Hy verwys subtiel na baie raakpunte, sommige konkreet en sommige simbolies, wat ingenieurs sal herken.

Sou hierdie bespreking vir ’n oomblik na wêreldletterkunde uitkring, is daar weinig meer bewyse van ingenieurs wat ’n bydrae gelewer het, met die volgende uitsonderings:

  • Die Russiese romansier, prosaïs en ingenieur Fiodor Dostojewski;
  • die Spaanse dramaturg en skrywer Juan Benet wat in beide literêre sowel as ingenieurskringe bekend was;
  • die Italiaanse skrywer Primo Levi wat tydens sy gevangenisskap in Auschwitz aan literêre tekste gewerk het; en
  • die hedendaagse Spaanse dramaturg en filmmaker Albert Espinosa.

As die bespreking verder uitkring na verwante dissiplines soos wiskunde, fisika en argitektuur kan die Franse wiskundige, skrywer en biograaf, Stendhal (Marie-Henri Beyle) ook die lysie haal.

Slegs enkele digters tree na vore in die kort oorsig oor wêreldletterkunde, naamlik:

  • die Spaanse ingenieur, dramaturg, filmmaker en digter Luis Buñuel;
  • die Spaanse professor in argitektuur en bekroonde digter, Joan Margarit; en
  • die Amerikaanse professor in beide natuurwetenskappe en gedrags­weten­skap­pe aan die Massachusetts Institute of Technology (MIT), Alan Lightman.

Buñuel was ’n invloedryke deel van die surrealistiese beweging in Madrid in die vroeë 20’s en 30’s saam met digters soos Federico García Lorca, Jorge Guillen, Pedro Salinas, Vicente Aleixandre en die skilder Salvador Dali wat saam as die “Generasie van 27” bekend gestaan het. Sy werk en lewe vereis egter ’n bespreking op sigself.

Joan Margarit het verskeie bekronings in Spanje en Suid-Amerika ontvang vir sy Katalaanse poësie. Hier volg twee Engelse vertalings van sy gedigte:

 

First Love

In the dreary Girona of my seven-year-old self,

where postwar shop-windows

wore the greyish hue of scarcity,

the knife-shop was a glitter

of light in small steel mirrors.

Pressing my forehead against the glass,

I gazed at a long, slender clasp-knife,

beautiful as a marble statue.

Since no one at home approved of weapons,

I bought it secretly, and, as I walked along,

I felt the heavy weight of it, inside my pocket.

From time to time I would open it slowly,

and the blade would spring out, slim and straight,

with the convent chill that a weapon has.

Hushed presence of danger:

I hid it, the first thirty years,

behind books of poetry and, later,

inside a drawer, in amongst your knickers

and amongst your stockings.

Now, almost fifty-four,

I look at it again, lying open in my palm,

just as dangerous as when I was a child.

Sensual, cold. Nearer my neck.

 

Woman of Spring

Behind words you are all I have.

It’s sad never to have lost

a home because of love.

It’s sad to die surrounded by respect and reputation.

I believe in what happens in a poem’s starry night.

Uit Tugs in the Fog – Selected Poems, vertaal uit Katalaans deur Anna Crowe.

 

Alan Lightman is die enigste professor by MIT (’n wêreldleier in die opleiding van ingenieurs en wetenskaplikes) met ’n tweeledige aanstelling in beide natuurwetenskappe en gedragswetenskappe. Hy skryf in 2009 ’n epiese gedig waarin hy twee velde naamlik “poëtiese filosofie en poëtiese wetenskap” integreer. Die gedig “Song of Two Worlds” is in boekvorm gepubliseer en ondersoek die eksistensiële vrae vanuit beide perspektiewe.

Hiermee die openswoorde van hierdie omvattende gedig:

 

Awake –

What are these quick shots of warmth,

Fractals of forests

That wind through my limbs?

Fragrance of olive and salt taste of skin,

Razz-tazz and clackety sound?

Figures and shapes slowly wheel past my view,

Villas and deserts, distorted faces,

Children, my children —

 

Distant, the pink moons of my feet.

What rules do they follow?

I think movement, they wondrously move,

Moons flutter and shake.

I probe the hills and the ruts of my face —

Now I grow large, now

I grow small, as the waves

Of sensation break over my shore.

 

There, a gnarled tree I remember,

A stone vessel, the curve of a hill.

What is the hour?

Some silence still sleeps

In my small sleeping room —

Is it end or beginning?

(https://www.themarginalian.org/2017/02/10/song-of-two-worlds-alan-lightman-derek-dominic-dsouza/)

 

Ten slotte: dit word vertel dat die digter en romantikus Lord Byron se vervreemde vrou, Annabella Milbanke, ’n wiskundige was. Hulle dogter, Ada Lovelace (na wie soms verwys word as die wêreld se eerste programmeerder) het per geleentheid aan haar ma, wat Byron se invloed wou reduseer, geskryf “You will not concede me philosophical poetry. Invert the order! Will you give me poetical philosophy, poetical science?”

Byron het na Annabella verwys as die “Princess of Parallelograms”, as die “Mathematical Medea,” en later toe hulle huwelik op die rotse was: “Her favourite science was the mathematical… She was a walking calculation.”

 

IV.

Teen die agtergrond van die voorafgaande oorsig blyk die vraag steeds waarom ingenieurs (en verwante dissiplines) nie dieselfde verteenwoordiging as ander professies in poësie geniet nie.

Ek weet van vele ingenieurskollegas wat gedigte in hulle onderste lessenaarlaai of op ’n obskure plek op hulle hardeskywe wegsteek. Die kere wat ek enige van daardie gedigte onder oë gehad het, was dit duidelik dat dit ongeraffineerde, naïewe beginnerwerk was en het die digters meestal in clichés verval in plaas daarvan om hulle unieke kennisbron te benut. Selfs artikels op die web oor die onderwerp is meestal daarop gerig om ingenieurs aan te moedig om poësie te skryf ten einde hulle kreatiewe- en taalvaardighede uit te brei in plaas daarvan om moderne tendense in poësie te verstaan en ’n unieke bydrae daartoe te maak. Hulle digterstemme bly óf steriel en klinies, óf in ander gevalle disintegreer dit tot geykthede (ek verneem die digter Jeanne Goosen het graag na sulke uitinge as “p**s-en-trane” verwys). In kort, die gehalte van die pogings tot poësie deur die meeste ingenieurs is nie genoegsaam nie.

’n Tweede rede is moontlik die feit dat, soos voorheen genoem, beroepe soos die mediese- en regsberoepe narratiewe (stories) verskaf waarin die volle spektrum van die menslike kondisie afspeel. In teenstelling hiermee, is ingenieurs se opleiding by uitstek daarop gerig om ’n probleemsituasie in die reële wêreld te ondersoek en te transformeer na ’n omgewing waarmee die probleem opgelos kan word deur die toepassing van abstrakte beginsels. Hierdie denkwyse veroorsaak dat selfs meer gevorderde pogings tot prosa of poësie deur ingenieurs, dikwels abstraksies eerder as konkrete beelde bevat. ’n Enkele uitsondering, waarmee ingenieurs goed bekend is, is die werk van die Israelse wetenskaplike Eliyahu Goldratt. Goldratt het gedurende die 90’s ’n benadering ontwikkel tot die optimisering van produksie-eenhede in ’n fabriek wat alle bestaande benaderings wat deur ingenieurs gevolg was, gerewolusionariseer het. Goldratt het egter verkies om sy teorie as ’n roman te publiseer. Die boek The Goal (1992) was ’n blitsverkoper onder sakelui en ingenieurs en is opgevolg deur verskeie ander romans waarin hy sy teorie uitbrei. Die boek is steeds voorgeskryf vir bedryfsingenieurstudente. Dit bewys ten minste dat daar wel narratiewe geskep kan word binne die raamwerk van ingenieurswese (meer hieroor in die volgende afdeling).

’n Derde rede is moontlik toe te skryf daaraan dat ingenieurs (en moontlik letterkundiges) hulle onderskeie dissiplines sodanig verwyderd van mekaar beskou dat daar nooit enige voordele uit die konvergensie van denke uit die onderskeie velde sal wees nie, dat ingenieurs net met syfers en abstrakthede kan handel en dat letterkundiges net met idees en die geskrewe woord kan handel. Hierdie simplistiese mite van syfer- teenoor woordmense wat die holistiese wêreld­beskouing ondermyn bevorder die kunsmatige versperring tussen die geesteswetenskappe en die natuurwetenskappe. Laasgenoemde was tot aan die einde van die negentiende eeu bekend as “Natural Philosophy” en gevolglik deel van dieselfde geheel. Daarom dat bekende filosowe soos Descartes, Leibniz en Russell ook wetenskaplikes was. Dit is opvallend dat selfs die klein groepie suksesvolle ingenieurs-as-digters wat in die vorige afdeling genoem is, nie hulle ingenieursvaardighede op enige manier benut of uitstal in hulle poësie nie, asof ingenieurs-as-digters in twee kompartemente moes leef en hierdie velde doelbewus van mekaar moes skei.

’n Laaste moontlike rede is reeds genoem in die bespreking rondom die gedigte van Wessel Pretorius, naamlik dat sommige ingenieurs, uit die aard van hulle migrasie na myn- en industriële dorpe hulle kulturele ingesteldheid inperk en reduseer tot ’n eendimensionele blouboordjie-uitkyk.

 

V.

In die bespreking hierbo is daar losweg verwys na ingenieurs en verwante dissiplines. Hoewel hierdie meningstuk geïnspireer is deur my eie identiteit as ingenieur en my belangstelling in poësie, is ek van mening dat ingenieurswese, wat per definisie ’n toepassingsveld van die wetenskappe is, se bydrae tot poësie die wetenskappe noodwendig moet insluit. Dit impliseer dat ingenieurs se kennis van wiskunde, fisika, chemie en tegnologie betrek moet word. Hierdie velde het natuurlik ’n ryk omvang en uiters baie stof wat direk betrekking het op die moderne samelewing insluitend ruimtewetenskap, kernfisika, kwantum-meganika en chaos-teorie.

Voeg hierby die feit dat alle voorgraadse ingenieurskurrikula vandag die vak “Omgewings­inge­nieurswese” op finalejaarsvlak insluit en die gevolg is dat die meeste vraagstukke waarmee ekodigters soms worstel op die een of ander wyse al deur ingenieurs ondersoek is.

 

Ruimtewetenskappe

Die vooraanstaande ruimtewetenskaplike, Carl Sagan is waarskynlik net so bekend vir die poëtiese wyse waarop hy die teorieë rondom die raaisels van die ruimte verduidelik, as vir die helderheid van sy wetenskaplike denke. Trouens, Sagan was ook die outeur van die bekende wetenskapfiksieroman, Contact (1985). Sagan was direk betrokke by die opleiding van lugvaartingenieurs by verskeie vooraanstaande tegniese universiteite in die VSA.

Digters speel ’n belangrike rol om die eksistensiële vraagstukke en behepthede van die mensdom te ondersoek. In hierdie proses speel die mistifikasie van die kosmos ’n belangrike rol as inkleding en metafoor. Selfs die panteïsme speel ’n groot rol in die ewigheidsbeskouing van digters en hulle bewustheid van hulle geringe posisie in die kosmos. Al hierdie begrippe word dikwels betrek in poëtiese segginge, maar met beperkte kennis ontaard dit meesal in ’n retoriese geswymel en oorbruik van geykte terme byvoorbeeld “melkweg”, “sekelmaan”, “wentelbaan”, “sterstof” en ander uitinge. Dit is egter verblydend dat ’n aantal toonaan­gewende figure in die Afrikaanse poësie die leiding geneem het om hulle kennisveld sodanig te verbreed dat hulle temas uit die ruimtewetenskappe suksesvol ontgin. Dink maar aan die mooi titels van onder andere Joan Hambidge se digbundel Nomadiese sterre (2021) wat na die begrip dwaal- of wandelende sterre verwys; Johann de Lange se digbundels Stil punt van die aarde (2014), ’n intertekstuele verwysing na ’n gedig van TS Eliot; Die meeste sterre is lankal dood (2020) wat sinspeel daarop dat die spoed van lig veroorsaak dat sterre wat snags sigbaar is, moontlik lank reeds vergaan het; en Dolf van Niekerk se digbundel Bleek planeet (2013) wat na Sagan se begrip “pale blue dot” verwys. Die bundel Multivers (2016) van die kernfisikus Hennie Smith het ’n ewe evokatiewe titel, maar die resepsie van die bundel was louwarm. Hambidge som die bundel soos volg op in “Woorde wat Weeg”:

“Soms is daar ’n bekoorlike beeld of ingryp, maar as debuut – soos dit hier staan – is dit nie oorredend as digkuns nie. Die digter verken die ‘stof, ster en planete’ van die ‘geskape Univers’ en sy bundel se titel is ontleen aan die fisika.

Afrikaans het wetenskaplikes, dokters, ingenieurs, ensomeer opgelewer, maar teen hierdie geesgenote klink die bundel maar yl op.

In die woordverklarings word die konsep ‘multivers’ verduidelik as die samehang van die univers wat deur wiskundige ‘wette’ beskryf word. Daar is in elke formule ’n konstante wat toevallig die presiese waarde het wat Homo sapiens se bestaan moontlik maak.

Dieselfde geld die digkuns. Ook hier bestaan ‘oneindige aantal universe’ – die anti-digter se afbreek van reëls bevestig die bestaan daarvan. Die goeie digter skep sy eie uni-vers-um.

Die digter is soms buite sy boekie om. Iets mag miskien in die wêreld van die fisika reg klink, maar in die gedig trek dit negatiewe aandag.”

Hierdie verduideliking van Hambidge verskaf ’n waardevolle riglyn vir ingenieurs en wetenskaplikes oor die skryf van poësie, naamlik dat die digterlike artefak allereers goeie poësie moet wees wat aan estetiese standaarde moet voldoen. Die omdigting van wetenskaplike kennis moet die reëls van poësie respekteer en nie ewewydig daaraan probeer bestaan nie. Laastens, om ’n wetenskaplike begrip te betrek moet sinvol en funksioneel wees binne die konteks van die gedig.

Dit is opvallend dat een van die gewildste temas vir antologieë steeds astronomie is. Neem byvoorbeeld die bundel Dark matter: Poems of Space (2008) saamgestel deur Jocelyn Bell Burnell, ’n ruimtewetenskaplike wat bekendheid verwerf het vir die ontdekking van pulsars. Dit is interessant dat die digter Antjie Krog se werk ook in hierdie bundel opgeneem is.

(https://www.themarginalian.org/2017/04/11/jocelyn-bell-burnell-dark-matter-poetry-stanley-kunitz/)

 

Natuurwetenskappe

“Any sufficiently advanced technology is indistinguishable from magic.” – Arthur C Clarke

Digters het twee opsies wanneer hulle komplekse wetenskaplike fenomene omskryf. Die eerste opsie is om die slaggate wat in die wetenskaplike omskrywing opgesluit lê, te vermy deur die mistieke te aktiveer soos wat antieke beskawings sou doen. Die tweede opsie is om hulself, en die lesers, op te saal met ’n digterlike uiteensetting van hierdie wetenskaplike kompleksiteite.

Dit het bes moontlik ’n ongesproke tradisie geraak dat digters die eerste opsie uitoefen en fokus op die versnyding van wetenskaplike verskynsels en die mistifikasie daarvan. Deur hierdie benadering te volg, is dit slegs nodig om binne die konteks van die gedig die mees sigbare dele van die onderwerp te omskryf en die res agter ‘n sluier te laat.

Met die koms van die aanlynmedia het die toepaslike wetenskaplike kennis meer geredelik beskikbaar geraak en het selfs digters wat geen wetenskaplike agtergrond het nie, toegang tot baie meer omvattende bronne. Dit bring egter nuwe uitdagings mee, aangesien die risiko bestaan dat die kennis misverstaan of buite verband gebruik word. Die aktivering van wetenskaplikhede is gevolglik dan beperk tot ’n liriese en dekoratiewe inslag waarvan die wetenskaplike diepgang ontbreek.

 

Omgewingswetenskappe

Heelparty Afrikaanse digters, onder andere Johann Lodewyk Marais, Susan Smith en Hennie Nortjé het die afgelope twee dekades bygedra tot die groeiende beweging wat as ekopoësie bekend staan. So byvoorbeeld het Smith ’n belangrike rol gespeel op die sosiale media om die eksplorasie van olie- en gasbronne aan die kus van Kwazulu-Natal af te weer. Soortgelyk aan die uiteensetting oor ruimtewetenskappe, kan ingenieurs en wetenskaplikes heelwat kundigheid verskaf om die veld te verruim. Aangesien ek sommige beginsels sou herhaal, het ek nie verder hierop probeer uitbrei nie.

 

Argitektuur

Hoewel daar sekerlik veel meer is as wat hier genoem word, is daar baie gedigte deur die digter Johan Myburg in Uittogboek (2017) waarin die visuele kunste en argitektuur as boustof vir die digter se werk dien.

 

VI.

Alle voorafgaande besprekings lei uiteindelik tot die vraag watter rol ingenieurs wel kan speel in poësie en watter invalshoeke die professie bring. Ten opsigte van my vertelling oor prof. Johan Botha, maak ek nou die lus toe.

In my jare in die dekaanskantoor van ’n ingenieursfakulteit het ek die geleentheid gehad om eerstehandse ervaring in die oorhoofse bestuur van navorsingsprogramme in satelliet­inge­nieurs­wese, ruimtewetenskap, hernubare energie asook die ontplooiing van die Vierde Industriële Rewolusie op te doen. Maar dit bly twee wêrelde waarin ek leef: my werksomgewing wat wemel van allerlei idees en projekte, teenoor my belangstelling in Afrikaanse poësie. As ingenieur is ek ook ’n sistemiese denker, en binne daardie raamwerk moet ek aanvaar dat alle dinge uiteindelik verwant kan wees aan mekaar. Dat enkeldissiplinariteit kan transformeer na multi­dissiplinariteit; kan transformeer na interdissiplinariteit; kan transformeer na trans­dissi­pli­nariteit. Dus moet ek soek na raakvlakke, maar dit op sigself is dalk nie voldoende nie. Ek moet soek na integrasie, nie net van die twee wêrelde nie, maar ook van die onverkende ruimtes rondom beide. Dit is ’n proses wat baie tyd opneem om ryp te word.

Vandag verstaan ek daardie vak wat Botha aangebied het as deel van die voorgeskrewe voorgraadse inhoud vir wat die Ingenieursraad van Suid-Afrika (ECSA) as komplementêre studies definieer: vakinhoud uit die gedragswetenskappe en tale. Miskien was Botha se rol hierin visioenêr. Ek het ook ’n bondgenoot gevind toe ek besef dat my eie fakulteit oor die dienste van ’n bekende Engelse letterkundige en bekroonde skrywer en digter, prof. Ken Barris, beskik (sedertdien afgetree). Ek het hierdie dilemma dus met hom bespreek. Sy rol was om die taalvaardighede van ingenieurstudente te verbeter en die programme wat daarmee saamhang, te koördineer. Barris het uit sy waarnemings onder ingenieurs en ingenieur­stu­dente baie van my vorige hipoteses bevestig. Ek het hom ook gevra of hy sy twee rolle ooit kon integreer, veral omdat hy suksesvol in beide was. Hy het bevestig dat dit vir hom ook nog altyd twee wêrelde was maar dat integrasie op persoonlike vlak sin sou maak as doelwit. Hy het vervolgens die vermoede bevestig dat ingenieurs patrone maklik herken en dus byvoorbeeld vaste versvorme makliker as ander nie-literêre dissiplines behoort te bemeester.

Die beste vertrekpunt om die vraag te beantwoord en dan te postuleer oor die moontlik unieke invalshoeke van ingenieurs en verwante professies is die definisie van ingenieurswese. Daar is natuurlik baie bronne, maar ’n werkbare definisie aldus ECSA is die volgende:

“Die professie wat gemoeid is met die konseptualisering, ontwerp, ontwikkeling en bedryf van oplossings van behoeftes tot die voordeel van die mensdom deur die gebruik van kennis van die wetenskappe en tegnologie en ’n sistematiese benadering.”

(https://www.ecsa.co.za/about/SitePages/What%20Is%20ECSA.aspx)

Hieruit kan baie gevolgtrekkings gemaak word rondom die rol van ingenieurs:

  • Dat ingenieurs kenners van wetenskap en tegnologie is.
  • Dat ingenieurs ’n bepaalde proses volg in die voldoening aan behoeftes. Dit word dikwels as ’n lewensiklus beskryf wanneer die proses vir produkontwikkeling aangewend word.
  • Dat ingenieurs toonaangewend is in die ontwikkeling van die toepaslike tegnologie.
  • Dat die genoemde proses sistematies is – dit impliseer dat ingenieurs ook sisteem­weten­skaplikes is (sisteemingenieurswese, ’n onderafdeling, is juis gemoeid met die toepassing van sisteemteorie op die ontwikkelingsproses); en
  • Dat ingenieurs die nodige agtergrond moet hê oor die behoeftes van die mensdom.

Die antwoord rondom die rol van ingenieurs lê opgesluit in bogenoemde gevolgtrekkings.

 

Bydrae 1 – Kennis van wiskunde en basiese wetenskappe

“The true spirit of delight, the exaltation, the sense of being more than Man, which is the touchstone of the highest excellence, is to be found in mathematics as surely as poetry.” – Bertrand Russell

“Pure mathematics is, in its way, the poetry of logical ideas.” – Albert Einstein

As ingenieur is ek geleer om wiskunde as vertrekpunt te neem tot die oplossing van probleme en in die afwesigheid van enige ander relevante teorie, naamlik dat daar universele logika, patrone en orde in die heelal bestaan (selfs chaos word gedefinieer as ’n vorm van orde waarvan die kompleksiteit sodanig is dat dit nie ooglopend is nie).

Wiskunde is die taal van logika. Miskien is algebra die poësie van daardie taal. Algebraïese uitdrukkings, vergelykings en algoritmes is almal versvorme in hierdie analogie.

Russell en Einstein se filosofiese uitlatings is bedoel om die aandag daarop te vestig dat, net soos daar perfeksie bestaan in ’n wiskundige berekening, ’n gedig ’n soort simmetrie, ’n ewewig en ’n perfeksie bereik na vele iterasies deur die digter.

In samehang hiermee verskaf die wetenskappe verhale, metafore, beelde en veral tematiek vir poësie. Dit vestig ook die aandag daarop dat elke nuwe orde die bestaande, en veral die metafisiese moes uitdaag voordat dit aanvaar is (byvoorbeeld Galileo).

 

Bydrae 2 – die fases van die ingenieursproses

Ek het in die verlede as ingenieur ’n bepaalde benadering gevolg ten opsigte van die skryf van poësie wat vir my ’n tweede natuur is. Toe ek dit met letterkundiges soos Barris bespreek, was die kommentaar dat dit ongewoon is. Ek konseptualiseer naamlik ’n tema en daardie tema is bedoel om uiteindelik gestalte te vind in ’n digbundel. Ek probeer dan bepaal hoe dit onderverdeel behoort te word in hoofstukke en wat die titels van die gedigte daarin behoort te wees, min of meer soos ek sou dink ’n roman geskryf word. Dan ruil ek posisies – waar ek ’n konsep ontwerp het, word ek nou die persoon verantwoordelik vir die individuele gedigte. Bitter min van die gedigte word toevallig geskryf, die paar los gedigte wat so ontstaan het, word agterna ingevoeg indien dit bestaansreg het binne die oorhoofse tema.

Die belangrike element in die ingenieursproses wat hier ter sprake kom, is die proses van ontwerp. Dit is my mening dat ’n ingenieur nie gedigte skryf nie, maar dat ’n ingenieur gedigte ontwerp. Terloops, die argiteksberoep word ook hier betrek. Daar is ’n gesegde dat argitektuur begin waar ingenieurswese ophou. Om die ruimtes van die ontwerp te verestetiseer binne die parameters wat gespesifiseer is. Om vorm en funksie te verenig.

Binne hierdie denkraam is vaste versvorme en patroonmatigheid belangrik. Ek het byvoorbeeld ’n voorliefde vir blanke verse. Om dit te bemeester, moet ’n digter volledige beheer hê oor tegnieke soos jambiese pentameter. Deur die ontstaan van jambiese pentameter in die Shakesperiaanse tydperk te verstaan, word die waarde en skoonheid (asook onthoubaarheid) van so ’n versvorm duidelik. Dit vorm ook natuurlik die bousteen vir die skryf van ander, meer gevorderde versvorme byvoorbeeld die persiese kwatryn, die sonnet en die villanelle. Hoewel daar baie versvorme is, word bogenoemde ter illustrasie genoem. In my geval sluit afronding ook ’n beheptheid met tipografie (“argitektuur”) in en word die tipografiese bydrae van ’n besluit in die gedig ook geëvalueer.

Vervolgens, my poging tot ’n villanelle, opgedra aan ’n geliefde:

 

’n Laaste villanelle

Wanneer ek eendag in jou arms sterf

kan jy die rame oopgooi vir die wind.

Ek is die metamorf wat veerlig swerf.

 

Ek het ’n onvolmaakte stillewe geverf

vol sweefsterre, wat in die lug ontbind

wanneer ek eendag in jou arms sterf.

 

So vry, die fynstuif wat nou onbederf

soos ’n dandelion die stromings vind.

Ek is die metamorf wat veerlig swerf.

 

Ek sal die skaduwee van lugvoëls erf

en die gestadigdheid se gloed ontblind

wanneer ek eendag in jou arms sterf.

 

En ek sal strale deur die lugruim kerf,

soos wolkmutasies sweef, jou labirint.

Ek is die metamorf wat veerlig swerf.

 

Mag jy ’n staat van enigheid verwerf

met die Nirvana van jou binne-kind

wanneer ek eendag in jou arms sterf.

Ek is die metamorf wat veerlig swerf.

 

Bydrae 3 – Die Vier Industriële Rewolusies as inkleding

Dit is alombekend dat ons onsself midde-in die Vierde Industriële Rewolusie bevind. Die tegnologie van elkeen van hierdie rewolusies is deur ingenieurs ontwikkel en is gebaseer op nuwe tegnologiese platforms wat in elke era tot stand gekom het. Dit word allerweë aanvaar dat die Eerste Industriële Rewolusie gebaseer was op meganisasie en die gebruik van stoomaangedrewe werktuie; dat die Tweede Industriële Rewolusie gebaseer was op produksielyne en die gebruik van elektrisiteit; dat die Derde Industriële Rewolusie gebaseer was op outomatisasie en die gebruik van rekenaartegnologie en dat die Vierde Industriële Rewolusie gebaseer is op die internet van dinge en slimtegnologie. Laasgenoemde rewolusie het ontstaan in Duitsland in 2011 as Industrie 4.0 en was ’n poging om die kompeterendheid van die Duitse nywerheid te verbeter. Dit is kort hierna deur die Wêreld­handelsorga­nisasie in Davos, Switserland aan die wêreld bekendgestel.

Die ontwikkeling van tegnologie vir die Vierde Industriële Rewolusie het ’n doelwit geraak by die meeste universiteite wêreldwyd en vind toepassing in bykans elke dissipline. So byvoorbeeld behoort daar gevra te word of die tegnologie van Industrie 4.0 ’n rol behoort te speel in die poësiewêreld. Heelwat Japannese fabriekwerkers skryf poësie oor hulle werksomgewing, die monotone gang daarvan en die versugtings van mense wat vervreemding in hulle werksomgewing ervaar terwyl hulle daagliks op treine pendel. Dit vind alles op aanlynplatforms plaas en word vanaf hulle slimfone gedoen. Dit wyk drasties af van die literêre beskouing van digterskap.

Ingenieurs speel die rol van kurators van die tegnologie van die industriële rewolusies en as sulks bestaan daar kennis van die ruimtes, inkleding en milieu binne elke rewolusie.

 

Bydrae 4 – Die bestuur van gehalte

Die veld “gehaltebestuur” is deel van die kennisveld van ingenieurswese (die algemeen aanvaarde Engelse afkorting is TQM). Die Japannese toepassing daarvan is gebaseer op ’n inheemse Japannese tradisie genaamd Kaizen.

Gehaltebestuur sluit onder andere die beginsel in dat gehalte nie slegs aan die uitsetkant van ’n proses bestuur moet word nie. Sou die proses om poësie te publiseer dus oorweeg word, impliseer dit dat die resensering van die bundel slegs een meganisme is wat eintlik nademaal plaasvind. Om werk van gehalte te lewer, begin by die skryfproses en aksies ter verbetering daarvan (byvoorbeeld skryfskole); tweedens, gehalteversekering deur middel van keuring; derdens, gehalteversekering deur middel van resensering; en laastens gehalteversekering deur middel van kanonisering en in sommige gevalle bekroning.

Hierdie sistematiese benadering sou in die geval van ’n ingenieursproses tot verdere ondersoek lei na metodes om die standaard van poësie in elke fase te verbeter.

 

Bydrae 5 – ’n Sisteemteoretiese beskouing

Moontlik die belangrikste teoretiese raakvlak is die feit dat ingenieurs geskool is in die sisteemwetenskappe en selfs sisteme wiskundig en wetenskaplik modelleer ten einde ’n beter begrip daarvan te kry. Op konseptuele vlak beteken dit dat die sistemiese beskouing van letterkunde vir ingenieurs met verdere opleiding en gepaardgaande insig nie vreemd behoort te wees nie.

So byvoorbeeld het Leti Kleyn se PhD in Uitgewerstudies getiteld ’n Sisteemteoretiese kartering van die Afrikaanse literatuur vir die tydperk 2000–2009: kanonisering in die Afrikaanse literatuur heelwat verheldering gebied van hoe ingenieurs en uitgewers sou kon meewerk aan ontledings van die literêre sisteem en is dit my mening dat hierdie werk baie raakvlakke het met sisteemingenieurswese, sisteemdinamika en kubernetika soos wat dit deur ingenieurs verstaan word.

Ingenieurs is natuurlik ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van sisteemdinamiese modellering van baie ander fenomene insluitend klimaatsverandering en die uitputting van die aarde se hulpbronne waarvan die resultate ’n bydrae sou kon lewer tot ekopoësie.

Al vyf die voorafgenoemde bydraes is slegs gebaseer op potensiaal en steeds onderhewig aan die kommentaar van Hambidge, voorheen genoem in hierdie meningstuk. Indien die aspirant-digter nie reeds oor die nodige vaardighede en talent beskik nie, sou hierdie bydraes van geen nut wees nie. Die leser moet ook in ag neem dat, soos in die geval van elke professie, daar goeie, gemiddelde en ondergemiddelde praktisyns bestaan en nie alle ingenieurs sal noodwendig die konseptuele bespreking in hierdie meningstuk ondersteun nie.

 

VII.

 

Einstein en Tagore in Berlyn

 

Waarskynlik die belangrikste en mees ikoniese ontmoeting tussen dié twee wêrelde het plaasgevind op 14 Julie 1930 tussen Albert Einstein en Rabindranath Tagore. Beide was Nobelpryswenners. Einstein as fisikus, Tagore as mistikus en digter. Miskien moet hierdie ontmoeting as korrelaat dien vir die vereniging van hierdie twee uiters uiteenlopende denkskole.

Hiermee ’n uittreksel uit hulle gesprek:

 

“EINSTEIN: Do you believe in the Divine as isolated from the world?

TAGORE: Not isolated. The infinite personality of Man comprehends the Universe. There cannot be anything that cannot be subsumed by the human personality, and this proves that the Truth of the Universe is human Truth.

I have taken a scientific fact to explain this — Matter is composed of protons and electrons, with gaps between them; but matter may seem to be solid. Similarly humanity is composed of individuals, yet they have their interconnection of human relationship, which gives living unity to man’s world. The entire universe is linked up with us in a similar manner, it is a human universe. I have pursued this thought through art, literature and the religious consciousness of man.

EINSTEIN: There are two different conceptions about the nature of the universe: (1) The world as a unity dependent on humanity. (2) The world as a reality independent of the human factor.

TAGORE: When our universe is in harmony with Man, the eternal, we know it as Truth, we feel it as beauty.

EINSTEIN: This is the purely human conception of the universe.”

https://www.themarginalian.org/2012/04/27/when-einstein-met-tagore/)

 

Tagore het kort voor hierdie geskiedkundige ontmoeting ’n reeks lesings oor die raakvlak tussen die mistieke en die wetenskappe by Oxford Universiteit gegee. Hy begin die reeks lesings met die volgende woorde waarin die grense tussen poësie en wetenskap vervaag:

“Light as the radiant energy of creation started the ring-dance of atoms in a diminutive sky and also the dance of the stars in the vast lonely theatre of time and space. The planets came out of their bath of fire and basked in the sun for ages. They were the thrones of the gigantic Inert, dumb and desolate, which knew not the meaning of its own blind destiny and majestically frowned upon a future when its monarchy would be menaced.

Then came a time when life was brought into the arena in the tiniest little monocycle of a cell. With its gift of growth and power of adaptation it faced the ponderous enormity of things and contradicted the unmeaningness of their bulk. It was made conscious not of the volume but of the value of existence which it ever tried to enhance and maintain in many-branched paths of creation, overcoming the obstructive inertia of Nature by obeying Nature’s Law.

But the miracle of creation did not stop here in this isolated speck of life launched on a lonely voyage to the Unknown. A multitude of cells were bound together into a larger unit, not through aggregation but through a marvellous quality of complex inter-relationship maintaining a perfect co-ordination of functions. This is the creative principle of unity, the divine mystery of existence, that baffles all analysis. The larger cooperative units could adequately pay for a greater freedom of self-expression, and they began to form and develop in their bodies new organs of power, new instruments of efficiency. This was the march of evolution ever unfolding the potentialities of life.”

 

VIII.

Ek glo in ’n wêreld waarin ek baie kan leer by letterkundiges, nie net van hulle kennisveld nie, maar ook deur die toepassing van hulle kennisveld binne my eie wêreld. Ek glo dat die omgekeerde hiervan ook waar is. En ja, ek glo daar bestaan ’n transdissiplinêre wêreld waarin ons een is. Al maak dit net van my of ’n paar enersdenkende mense beter digters én inge­nieurs. Ons verstaan die integrasiepunt nie ten volle nie – die stil punt van ons onderskeie wêrelde, waar ons met mekaar dans. Dalk het die Bothas iets hiervan verstaan.

In die woorde van TS Eliot:

 

At the still point of the turning world. Neither flesh nor fleshless;

Neither from nor towards; at the still point, there the dance is,

But neither arrest nor movement. And do not call it fixity,

Where past and future are gathered. Neither movement from nor towards,

Neither ascent nor decline. Except for the point, the still point,

There would be no dance, and there is only the dance.

I can only say, there we have been: but I cannot say where.

And I cannot say, how long, for that is to place it in time.

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Mellet Moll. Waar poësie en ingenieurswese ontmoet”

  1. Gerard Scharn :

    Boeiend stuk!

  2. Dit is ’n insiggewende en heel omvattende stuk hierdie. Daar is heelwat in om oor te besin.

    Ek wil net een punt uitlig wat my opgeval het. Afrikaans, en alle ander tale, is gedurig aan die verander soos die gewoontes en behoeftes van die sprekers verander van geslag na geslag. Is dit ook die geval met “die taal” van die wetenskap, hoofsaaklik die wiskunde? Raak die “taal” van die
    wetenskap ook verouderd en minder bruikbaar met verloop van tyd?

    Hier is ’n paar voorbeelde van hoe taal verander deur die eeue. “Die Spieghel” is in ’n Suid-Nederlandse idioom geskryf, waarskynlik vroeg in die Middeleeue. Mens kan hierdie taal seker beskou as ’n voorganger van Afrikaans. Die ander twee voorbeelde is van ons eerste gekanoniseerde digters in Afrikaans.

    “Den Spieghel der Salicheit van Elkerlijc”

    Doecht:

    “Ic legghe hier al verdwenen
    Te bedde, vercropelt ende al ontset.
    Ic en kan gheroeren niet een let,
    So hebdi mi gevoecht met uwen misdaden.
    Wat is u ghelieven?”

    Jan F.E. Celliers

    “Die Boerevrou

    Haar wese is erns: sy gaan haar weg in swye,
    gehoorsaam op die lange weg van lye –
    Suid-Afrika, u moeder in haar wee –
    wat aan die wêreld ’n nasie gee.”

    C. Louis Leipoldt

    “Die Heks

    Kardinaal (grimmig). Lieg nie, vrou! Ek weet meer as jy vermoed. Ek weet wat jy gedoen het, en nog doen, deur die krag wqt Satanas, jou meester, aan jou verleen het.”

  3. Mellet Moll :

    Dankie vir die lees en terugvoer.

    Kortliks, die volgende:
    (1) Wiskundige en wetenskaplike begrippe is bedoel om universele waarhede te kommunikeer wat gevolglik nie behoort te verouder of te dateer nie. Dit moet ook onthou word dat hierdie begrippe deur simbole en notasies omskryf word wat onveranderd bly en ‘n medium vorm wat wetenskaplikes en wiskundiges van alle nasionaliteite verstaan.
    (2) Daar is egter nuwe toevoegings tot hierdie korpus wat ons kennis verruim maar wat binne dieselfde konvensies omskryf word. Die bekendste hiervan die afgelope eeu is sekerlik Einstein se relatiwiteitsteorie en die gepaardgaande ontwikkelings in kwantumfisika (daar is ook ander toevoegings byvoorbeeld Lorenz se wiskundige beskrywings van chaosteorie en die denkwyses rondom komplekse nie-liniêre sisteme).
    (3) Dit beteken ten minste dat die metaforiese gebruik van hierdie wêrelde vanuit die oogpunt van poësie behoort te verander. Die Newtoniaanse denkwyse het byvoorbeeld aanleiding gegee tot verskeie ontwikkelings in ander velde, baseer op die reduksionisme wat deur die Newtoniaanse paradigma veroorsaak word. Soortgelyk speel kwantumfisika en chaosteorie ‘n belangriker rol vandag in metaforiek vir verdere ontginning in verskeie ander velde.
    (4) Wat Afrikaans self aanbetref is dit my ervaring dat die verafrikaansing van ingenieursbegrippe sedert die 1990’s in onbruik begin verval het. Die ingenieursfakulteite by Afrikaanse universiteite het tot op daardie stadium dit as deel van hulle taak beskou om Afrikaans as wetenskaptaal uit te brei. Dit het egter met verloop van tyd soms tot potsierlike en onverstaanbare terminologie aanleiding gegee en het Afrikaanssprekende ingenieurs dikwels ‘n agterstand op die internasionale toneel gegee omdat hulle onbekend was met sommige terme. Ek onthou byvoorbeeld toe ek by Stellenbosch begin werk het as Professor het ‘n kollega gedurig ‘n term “ratspasbaar” gebruik. Ek het dit amusant en onverstaanbaar gevind totdat ek eendag besef hy verwys na ‘n Engelse begrip “agility” wat op vervaardigingsprosesse betrekking het. Miskien sou iemand soos prof. Johan Botha my nou teregwys, maar ek meen dat die huidige tydgees die homogenisering van terminologie op ‘n internasionale vlak sal aanmoedig. Ons moet onthou dat Afrikaans nog altyd ‘n konglomeraat van leenwoorde uit ander tale was.
    (5) Wat poësie aanbetref is ek seker alle lesers van Versindaba sal dit eens wees dat gedigte getrou moet wees aan die verwagtingshorison en stylkenmerke wat die tydgees vereis.