Uit: Libertad bajo palabra 1949
Dos cuerpos
(Octavio Paz)
Dos cuerpos frente a frente
son a veces dos olas
y la noche es océano.
Twee lywe
Twee lywe teenoor mekaar
is partykeer twee golwe
en die nag is ’n oseaan.
Twee lywe teenoor mekaar
is partykeer twee klippe
en die nag is ’n woestyn.
Twee lywe teenoor mekaar
is partykeer wortels
vervleg in die nag.
Twee lywe teenoor mekaar
is partykeer messe
en die nag is weerlig.
Twee lywe teenoor mekaar
is twee sterre wat val
in ’n leë hemelruim.
Basho an
(Octavio Paz)
El mundo cabe
en diecisiete sílabas:
tú en esta choza.
Basho an
Die wêreld pas
in sewentien sillabes:
en jy in hierdie hut.
Boomstompe en grasdak:
hulle kom in deur die skrefies:
boeddhas en insekte.
Gemaak van lug
tussen denne en rotse
ontkiem die gedig.
’n Verstrengeling
van klinkers en medeklinkers:
die huis van die wêreld.
Beendere van eeue,
nou klip, berge:
hier is hulle gewigloos.
Wat ek sê
is skaars drie reëls:
hut van sillabes.
Intervalo
(Octavio Paz)
Arquitecturas instantáneas
sobre una pausa suspendidas,
aparaciones no llamadas
ni pensadas, formas de viento
Pouse
Oombliklike argitekture
hang oor ’n pouse,
verskynsels nóg benoem
nóg bedink, windvorms,
onbeliggaamd soos tyd,
en soos tyd vergangklik.
Gemaak van tyd, maar hulle is nie tyd nie;
hulle is die spleet, die krakie,
die kort duiseling van tussenin
waar die deurskynende blom oopgaan:
hoog op die stingel van ’n weerkaatsing
verdwyn dit terwyl dit wentel.
Onaangeraak die helderhede
gesien met toe oë:
die deursigtige geboorte
en die kristalagtige val
in die oomblik van hierdie oomblik,
oneindig stil.
Buite die venster: die verlate
huisdakke en skarrelende wolke.
Die dag gaan verby, die stad
raak verlig, naby en ver.
Gewiglose uur. Ek asem
die oomblik in, leeg en ewig.
Vertaling uit die Spaans deur De Waal Venter, 2022
Octavio Paz het in 1990 die Nobelprys vir Literatuur ontvang.
‘n Kritikus het die volgende te sê oor Paz: ” His later work shows an ever-deepening intelligence and complexity as it investigates the intersection of philosophy, religion, art, politics, and the role of the individual. “Wouldn’t it be better to turn life into poetry rather than to make poetry from life,” Paz asks. “And cannot poetry have as its primary objective, rather than the creation of poems, the creation of poetic moments?” Poets.org
Basho-an
In ongeveer 1670 het die Japanse digter, Matsuo Basho, per voet deur die valleie en berge rondom Kioto gereis. Hy het ’n rukkie in ’n hut langs die Kompoekoejie tempel gewoon. Ter herinnering aan hom word die hut Basho-An genoem.