Bester Meyer. Die Taal van die Waarheid

 

Die Taal van die Waarheid

(vertaling as hartsbegeerte van iets groter)

 

In sy opstel On Language as Such and on Language of Man verduidelik Walter Benjamin dat soos wat ʼn mens kan praat van, byvoorbeeld: iemand praat met my in die ‘taal van musiek’ of in die ‘taal van ballet’, dat daar ook iets soos die ‘Taal van Tale’ is. God het – as gevolg van júís die skeppingsdaad, wat met die benaming van dinge gepaard gegaan het – ons as mense die reg gegee om sekere dinge – in taal – te kan benoem. God het taal in ons ingeblaas en gevolglik is taal goddelik. Taalgebruik is op sigself ʼn skeppingsdaad wat in die proses van skepping – hetsy deur middel van skryf, vertaling, dig – ʼn kunswerk daarstel. Vertaling kan dan ook gesien word as die mens se reg om iets te benoem, om in die proses van benaming lig te probeer werp op die ‘Taal van Tale.’ Iets wat gestalte kan kry ás die vertaler – in watter sisteem ook al – vertaal vanaf die beginpunt: “In die begin was die Woord daar, en (dáár)die Woord is God” – én dan bloot net dit wegbeitel wat oortollig is. Benjamin maak dan ook die belangrike opmerking in dieselfde opstel: “Translation is the removal from one language into another throough a continuum of transformations. Translation passes through continua of transformations, not abstract areas of identity and similarity.”

In sy opstel Des Tours de Babel gebruik Jacques Derrida ʼn dekonstruktiewe benadering met betrekking tot die bogenoemde opstel en dan ook Benjamin se toonaangewende opstel met betrekking tot vertaling: The Task of the Translator. Aldus Derrida, deur dekonstruktiewe aanwending van gebeure soos vervat tydens die bou van die Bybelse Toring van Babel, word die behoefte aan vertaling van enige teks (oorspronklik of reeds voorheen vertaal) bepaal aan die hand van of dit (die teks) – ter gelyker  tyd – uitroep na/vir vertaling én of dit vertaling verbied. Só ʼn teks (in watter sisteem ook al) maak vertaling dan nodig en (straks) ónmoontlik in dieselfde asem. Derrida verwys met betrekking tot beide van Benjamin se opstelle dat dit juis die verwantskap tussen tale is wat die vertaler in staat stel om die ‘Taal van Tale’ ryp te laat word, en dat dit dit die moontlikheid gee om vrygestel te kan word. Alhoewel ‘vertaling vorm is’ – met ander woorde, daar is aspekte soos ekwivalensie, betekenis, manier van betekenisgewing, klank, ensovoorts wat ʼn belangrike rol speel –  is dit die plig van die vertaler/omdigter/transformeerder: “to release in his own language that pure language which is exiled among alien tongues, to liberate the language imprisoned in a work in his re-creation of that work. For the sake of the pure language, he breaks through the barriers of his own language.” Enige vertaling/omdigting/verwerking wat ʼn leser die voorreg gee om in aanraking met hierdie Reine Taal te kom, kan as geslaagd beskou word. Dit is egter slegs die leser wat hierdie vraag (of ʼn vertaling geslaagd is) kan beantwoord.

Volgens Benjamin is taal – as gevolg van vertaling – in konstante wisseling, totdat die Reine Taal vrygestel (kan) word deur die harmonie van die verskillende wyses van betekenis wat verander word, ontvorm word en nuwe lewe gegee word júís as gevolg van vertaling. En dan voorts: “it is translation that catches fire from the eternal life of the works and perpetually renewed life of language; for its translation that keeps putting the hallowed growth of languages to the test”.

Die vraag is dan: moet ʼn mens vertaling in die breë konteks aanmoedig of ontmoedig? Is dit nie wonderlik om, byvoorbeeld, ʼn gedeelte van The Religion of Man wat in Afrikaans vertaal is deur Mellet Moll in sy opstel oor Einstein en Tagore (soos geplaas op hierdie blad) in Afrikaans te kan lees nie? Is dit nie ʼn belewenis om Darwiesj se stem – vervleg met die van Breyten Breytenbach – soos lewe gegee in Oorblyfsel/Voice over (die nomadiese gesprek) – wat ook maar ʼn vorm van vertaling/transformering is – in Afrikaans te kan waardeer nie?

Miskien is die rede hoekom die Facebook-digters nooit digters of literêre vertalers word nie, juis as gevolg van die feit dat hulle bloot net as amateurs beskou word. Dat die taal, vertaling, omdigting – selfs gedigte – gehou word in die hand van die letterkundige bourgeoisie. Laat my dink aan die ironie met betrekking tot die woorde van die ou liedjie van Simon and Garfunkel: “The words of the Prophets are written on the subway walls” en dan miskien ook aan wat Fady Joudah gesê het in sy voorwoord tot Unfortunately, it was Paradise: “Die onvertaalbaarheid in poësie is meer as ʼn noodsaaklikheid, dit is die voorwaarde van vertaling, ʼn lewensgewende skepping van diskontinuïteit. In Darwiesj se digkuns is dit ook die lang pad (terug) huis toe. Dit is wat vertalers

            toevertrou aan die feniks –

            ʼn bietjie vuur van sy geheimenis

            sodat sy – die ligte ná hom –

in die tempel aan die brand kan steek.”

 

Bronne:

  1. Benjamin, W. 1996. Walter Benjamin: Selected Writings Volume 1, 1913-1926. The Belknap Press of Harvard University. London England.
  2. Benjamin W. 1968. Illuminations. Harcourt Brace Jovanovich Inc.
  3. Derrida, J. 1985. Des Tours de Babel soos verskyn in Difference in Translation. Cornell University Press, Itaca & London.
  4. Darwiesj, M. 2003. Unfortunately, It was Paradise, Selected Poems. University of California Press. London England (soos in Afrikaans vertaal deur die skrywer).
  5. Breytenbach, B. 2009. Oorblyfsel/Voice Over (op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj)/(the nomadic conversation with Mahmoud Darwish). Human & Rousseau. Kaapstad.

 

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Bester Meyer. Die Taal van die Waarheid”

  1. Kobus Erlank :

    Bester, die rede hoekom ‘n facebook digter nie ‘n digter is nie, is dieselfde rede hoekom ‘n backyard mechanic nie ‘n ingenieur is nie.
    Die “Taal van Tale” … hoe ontvang mens dit?

  2. Bester, ek sluit aan by Kobus hierbo. Daar is plek in die samelewing vir die meganikus én vir die ingenieur. Netso is daar op die Internet plek vir facebookdigters/-vertalers én vir professionele digters/vertalers. Versindaba is, so ver my kennis strek, die enigste ruimte op die Internet wat eksklusief vir professionele Afrikaanse digters daar is. Ons definieer professionele digters as persone wat die “kwalifikasie” verwerf het om hulleself digters te noem – dit is mense wat al ‘n solo-bundel by ‘n gerespekteerde uitgewer gepubliseer het. Daarom word gedigte/vertalings wat op Versindaba verskyn, gemeet aan professionele standaarde, dié van aanvaarde literêre teorieë. Die vertaalteorie wat jy voorstel, is op hierdie stadium nie vir my duidelik genoeg dat ek (byvoorbeeld) enige vertaling objektief aan die hand daarvan sou kon beoordeel nie. Soos dit die geval is met enige wetenskaplike terrein (soos Vertaalkunde) moet praktisyns ten minste oor sekere standaarde ooreenstem ten einde ‘n produk te kan beoordeel. Daniel het in sy “Credo” enkele duidelike riglyne gestel waaraan hy as vertaler van Nederlandse poësie sy werk meet. Reëls soos dié word wêreldwyd gevolg wanneer literêre kritici literêre vertalings beoordeel. Hulle kan op enkele punte van mekaar verskil, maar ongelukkig is die “reëls” redelik geyk en word dit algemeen as standaard binne die praktyk aanvaar. Vertalers wat ander reëls navolg, sal dus vanselfsprekend nie gunstig deur hierdie kritici ontvang word nie. Enige produsent sal maar sy produk op dié mark sit waar dit in aanvraag is. Versindaba is ‘n plek waar kritici ander maatstawwe aanlê as op facebook – nie omdat ons snobisties is nie, maar bloot omdat ons ‘n ander “mark” bedien.

    – Marlies Taljard

  3. Mellet Moll :

    Geagte Bester

    Ek het die voorafgaande debat asook die laaste twee meningstukke gevolg en was huiwerig om deel te neem aangesien ek die insigte van Daniel Hugo en Joan Hambidge hoog ag as gesaghebbendes oor vertaalpraktyk en literêre teorie onderskeidelik.

    Hulle insette is vir my uiters relevant omdat vertaling ‘n soort olifant in die vertrek geraak het waar enige persoon vandag aanlynhulpbronne of bestaande Engelse vertalings kan gebruik en homself dan kan voordoen as ‘n begaafde linguis met ‘n fyn aanvoeling vir die nuanses en tradisies van Aramees; Mandaryn; Frans; Yslands; die Slawiese tale; ensovoort. Dit alles terwyl hy in ‘n buitekamer in Boksburg of Brackenfell by ‘n tante bly en matriek op sy nerwe deurgeskraap het. Ek probeer jou nie hierdeur verdagmaak nie, ek probeer slegs verwoord waarom gesaghebbendes vertaalwerk mag bevraagteken en leiding probeer verskaf.

    Trouens Bester, ek sou as ek jy was, meer respek betoon het teenoor die tradisie van poësie en die algemeen aanvaarde praktyke daarin, en probeer leer het uit die insette wat hulle gegee het. Dit is hoe die kanonieke tradisie oor geslagte lewendig bly en waarom poësie ‘n literêre veld is en nie ‘n populêre aktiwiteit is wat amateurs op lukrake wyse beoefen nie. Dit is juis die waarde van ‘n platform soos Versindaba om hierdie voorreg moontlik te maak.

    Jy eien jouself die reg toe om te vertaal soos wat jy wil, maar dan moet jy konsekwent wees en ook die raad van gesaghebbendes aanvaar want hulle oefen ook hulle reg uit. Ek het min respek vir mense wat weier om te leer uit ervaring en bly karring aan ‘n eiewyse beskouing wat gegrond is op lukrake verwysings na willekeurige bronne wat op ‘n wollerige manier as absolute gesag opgedis word. So byvoorbeeld dink ek nie die aktivering van Derrida se beskouing oor die relevansie van vertaling bewys jou argument, óf die teenargument nie.

    Ek moedig jou sterk aan om uit die polemiek met Daniel te leer.

    Ek vind jou skryfstyl en stelwyses in die vorige debatte eienaardig, veral ten opsigte van jou beheer oor hoofletters en parenteses. Hoofletters byvoorbeeld, word in Afrikaans gereserveer vir die begin van nuwe sinne; eie- en plekname; asook enige ander woorde of begrippe waaraan ‘n verhewe of heilige status gekoppel word. Ek merk byvoorbeeld geredelik verwysings in jou gesprekvoering na “Taal” in die middel van sinne, en lei daaruit af dat jy dus van ‘n soort heilige of metafisiese medium praat; of dat jy ‘n soort goddelike inspirasie as rede tot vertaalwerk aanvoer; anders is dit bloot spelfoute. Ek vind dit ietwat oordrewe en selfs verwaand dat jy jouself hier aanmeld as ‘n gesalfde wat as heilige geleier dien.

    Maar meer nog, dit skep ook ‘n wantroue by my in die vertalings wat jy aanbied.

    Laastens, aangesien jy ‘n essay van my hier noem, die kern van die essay was die transdissiplinariteit wat deur Einstein en Tagore ontgin is. My bedoeling was nooit om as ‘n vertaler in die poësiegemeenskap te paradeer nie. Ek het nie, soos jy dit noem, enige heilige roeping gevoel om dit te doen nie en was ook nie ‘n medium vir ‘n hoër entiteit wat deur my gepraat het nie. Ek glo bloot nie daaraan nie. Ek het immers my vertaling gekwalifiseer deur my beskouing dat Tagore se lesings belangrike poëtiese kwaliteite bevat wat nog min in Afrikaans ontgin is. Dit is dus hoogstens bedoel om digters te prikkel in die digterlike gebruik van wetenskaptaal. Miskien moet ons ook verstaan dat Tagore ‘n filosoof en digter was en dat die titel “The Religion of Man” eerder op ‘n fenomenologiese uiteensetting as ‘n religieuse manuskrip dui.

    Mellet

  4. Bester, dit lyk uit jou aanhalings hierbo asof Walter Benjamin die mite van ‘n gemeenskaplike, suiwer oertaal aanhang. Die “pure language” wat verlore gegaan het toe die taalverwarring tydens die bou van die Babelse Toring losgebars het. Dit is ‘n mooi verhaal, maar het met die historiese werklikheid en die praktyk van vertaling absoluut niks te doen nie. ‘n Vertaler moet juis die taaluniekheid (d.w.s. die nie-gemeenskaplike) van die brontaalgedig in die doeltaalgedig probeer benader. Die vertaler wil nie die taalverskeidenheid in die wereld nivelleer nie. Hy/sy het juis die grootste bewondering daarvoor.

  5. Bester Meyer :

    Baie dankie vir die perspektiewe. Ek leer wél baie daaruit. Ek het dit van die begin af gesê. Ek probeer nie voorgee dat ek beter weet as veral Daniel Hugo of Joan Hambidge of enigeen wat die blad gebruik nie. Of dat ek die gesalfde van enige soort heiligheid is nie. Soos wat ek uit Derrida se opstel kon aflei gebruik Benjamin: (“die reine Sprache” en “Sprache der Wahrheit”) en daarom die gebruik van die hoofletter.

    Kobus, ek dink dit hang van elke persoon sélf af of hy/sy daarmee in aanraking kom. Vir my gaan dit gepaard met ʼn gevoel van ‘herkenning’ asof ek die gedig al voorheen gehoor/gelees het. En dan ook asof dit eerder die stiltes tussen die lyne van die teks is wat iets magies-mooi -dalk goddelik-kom oordra. Die gevoel wat ek gekry toe ek die eerste keer Darwiesj se gedigte in Engels gelees het. Toe ek geluister het na ʼn voorlesing van Ryan Pedro se gedigte by die Tuin van die Digters. Dis moeilik om te verduidelik.

  6. Kobus Erlank :

    Bester, ek sien jy het Regte geswot. Gaan hulle jou in die hof ook toelaat om die wette te interpreteer deur magiese inspirasie of dink jy vertaling is nie so ‘n ermstige vakgebied as Regte nie, ‘n plek vir profete en dromers en psycics?

  7. Joan Hambidge :

    Daar is ‘n verskil tussen vertaalfilosofie (Derrida, et al.) en vertaalpraktyk. Derrida is ‘n verleidelike stem. Hy verwys egter na ander kwessies nes Walter Benjamin.
    Daniel Hugo het gelyk. Om ‘n gedig te vertaal, moet jy let op die klanksisteem om dit van een taal na ‘n ander te transporteer. Jy moet ook kyk na die toon, die sintaksis, metriese patrone, rym, sintaksis, beeldspraak en watter vorm die digter gebruik (sonnet, kwatryn, ens.) Hierom plaas uitgewers die oorspronklike teks langs die vertaalde teks sodat die leser kan vergelyk. Dikwels is daar bv. woorde in Afrikaans wat jy nie in Engels vind nie. Hoe nou gemaak? Of andersom. In ‘n vertaling van een van my gedigte “In die tuin van Emily Dickinson” het Douglas Reid Skinner ‘n oplossing gevind vir blomname en Latynse name gebruik. Hieroor het ek ‘n lesing by ‘n internasionale kongres gegee oor vertaling. My vertaling het verskil van Douglas s’n.
    Ons soek dus altyd die eerste teks (soos wat Helize van Vuuren o.a. doen) en dan die vertaling. By Hugo die Nederlandse teks links en dan die Afrikaanse een.
    Daar is wel digters wat goed uit Engels na Afrikaans vertaal: De Lange se Auden en Ginsberg vertalings. Want dit is kragtige vertalings wat ‘n nuwe taalsisteem soek en al die kwessies aanraak hierbo vermeld.
    Natuurlik is elke vertaling ‘n interpretasie en verklap dit iets van die vertaler se denkwyse. Maar google translate is net die eerste stap. Hierna moet jy die gedig-as-gedig vertaal.

  8. Mellet Moll :

    Bester, vergewe my dat dit mag oorkom asof ek in beuselagtighede verval, maar miskien sal hierdie inset ‘n groot misverstand vir jou opklaar:

    In Duits word alle selfstandige naamwoorde altyd met hoofletters geskryf. Dit dui geen verhewe kwaliteit aan nie en is bloot grammatika. Wanneer dit na Afrikaans vertaal word, geld Afrikaanse spelreëls.

  9. Bester Meyer :

    Dankie vir die handige kommentaar, Joan Hambidge. Dankie Mellet. Ja, jy is reg.