Ná die inwyding op 20 April 2022 van ʼn besonderse kultuursentrum op Stellenbosch gesels Maryke van Velden met Marlise Joubert oor hierdie indrukwekkende projek van die Jannie Mouton Stigting. Ter agtergrond: Die perseel wat die Oude Leeskamer huisves, is reeds oor jare heen deur verskeie instansies gebruik; onder andere as landdroskantoor, skool, woonhuis, leesklub byeenkomste, argitekkantore, ensovoorts. In 2017 het die Oude Leeskamer die besit van die Jannie Mouton Stigting geword. Jannie Mouton het ruim bygedra toe die jaarlikse Versindaba feeste begin is. Daaruit het die Versindaba webblad mettertyd ontstaan.

Marlise Joubert: Maryke, baie geluk aan die span by die Jannie Mouton Stigting met die opening van ʼn besonderse kultuursentrum so in die historiese hart van Stellenbosch. Kan jy miskien vertel wat Jannie Mouton beoog het met hierdie kompleks en waarom? Watter rol vervul jyself by hierdie kultuursentrum?
Maryke van Velden: Marlise, die visie vir die Oude Leeskamer is om ʼn toonaangewende erfenisbate te word. Dit word ‘n nuwe tuiste vir Jannie Mouton se eie boek-en kunsversamelings, wat ‘n soort fondasie vorm vir uitbreiding: beide op materiële wyse, maar ook as ‘n platform vir ontluikende Suid-Afrikaanse skrywers en kunstenaars. Die fasiliteit bestaan uit vyf spesiale ruimtes, naamlik Jannie se Leeskamer, ‘n kunsgalery, ʼn skrywerswoonstel, die Jannie Mouton Stigting se kantore en De Eetkamer restaurant. Ekself dien as kreatiewe bestuurder by die Oude Leeskamer. Dit sluit onder meer die beplanning en beheer van uitstallings in.
MJ: Wat behels Jannie se Leeskamer alles? Hoe groot is die persoonlike versameling? Kan dit op enige dag gratis besoek word vir navorsing of dalk vir ʼn paar leesure? Ek was nogal verstom oor die hoeveelheid digbundels in die versameling, wat my ook bring by die vraag of hierdie versameling konstant uitgebrei sal word met die jongste publikasies in die verskillende genres? Was Jannie Mouton ʼn groot liefhebber van Afrikaanse poësie?
MvV: Jannie se Leeskamer is ‘n pragtig gerestoureerde lokaal wat Jannie Mouton se lewenslange passie vir lees en vir boeke beklemtoon. Besoekers kan dit benut as stil leesruimte, of vir navorsingsdoeleindes. Die versameling bestaan uit 3000+ boeke, wat, as dit teenmekaar gestapel is, meer as 100m in bestek neem! En dit brei steeds stelselmatig uit. Jannie Mouton se groot liefde lê by Afrikaanse letterkunde, wat ook verklaar waarom die grootste gedeelte van sy versameling uit romans en uit digbundels bestaan. Hy het dikwels gedigte voorgelees aan familielede, of gaste by sy huis. Jannie se Leeskamer is oop vir die publiek op Dinsdae tot Saterdae-oggende.


MJ: Vertel ons meer oor die kunsgalery waar daar tans, as ek reg verstaan, skilderye hang wat uit Jannie Mouton se persoonlike versameling kom. Wat is die visie daarvoor? Sou kunstenaars in die toekoms ook hulle eie werke kan uitstal om te verkoop?
MvV: Die tentoonstelling wat tans wys (die eerste een by die Oude Leeskamer) is getiteld fonds|vonds, en sluit ‘n verskeidenheid van Suid-Afrikaanse werke van ouds in, asook kontemporêre werke. Die konseptuele vertrekpunt vir hierdie tentoonstelling is uit Jannie Mouton se boekversameling opgediep; kunswerke wat uitgestal word, sluit teks in, óf tree in gesprek met bepaalde temas uit die boeke. Daar is twee baie spesiale werke (een skildery en een tapisserie) wat met vergunning geleen is uit Jannie Mouton se persoonlike versameling. Trouens, hierdie twee werke was voorheen in sy leeskamer by sy huis. Die uitstalling sluit aan by die algehele visie van die Oude Leeskamer galery: om visuele kuns in Suid-Afrika te bevorder en te ondersteun. Uitstallings (groep- of solo-) duur elk een kwartaal lank en word rondom temas saamgestel. Jannie Mouton se persoonlike kunsversameling sal in die toekoms ook in die fasiliteit se kunsargief bewaar word.

MJ: En dan is daar ook die Skrywerswoonstel wat enige skrywer se droom is om te benut. Ek sal graag wil weet hoe die keuring vir die gebruik daarvan sal geskied. Wat is beskikbaar in die woonstel? Kan skrywers byvoorbeeld aansoek doen om daar te werk. Of om klaar te skryf aan gedigte of ‘n prosawerk. Wat is julle riglyne of kriteria? Is dit vir ongepubliseerde of gevestigde skrywers bedoel? Word aansoekers gekeur deur ‘n paneel en volgens ‘n voorlegging?
MvV: Ja, die Oude Leeskamer se splinternuwe Skrywerswoonstel is ‘n geweldige aanwins. Ons is opgewonde om dit binnekort vir die skrywerspubliek te open. Die lokaal is geskep om as korttermyn woonplek te dien vir skrywers om sonder onderbreking skeppend te kan skryf in die afgesonderde en inspirerende ruimte van die Oude Leeskamer. Die woonstel sluit in slaapgeriewe, ‘n badkamer, ‘n skryftafel en ‘n klein kombuisarea. Jannie se Leeskamer sal natuurlik ook bedags beskikbaar wees vir die skrywersgas om te benut, asook ons binnehof. Vergunning van gebruik vind op uitnodigingsbasis plaas. Fyner riglyne vir die gebruik van die skrywerswoonstel moet nog bepaal word.

MJ: Hierdie kompleks met die groot oop binnetuin tussen die kunsgalery en De Eetkamer restaurant daarnaas maak uiteraard voorsiening vir heelwat ander kultuuraangeleenthede. Oorweeg julle enigsins iets soos boekbesprekings, boekpraatjies, konserte, voorlesings, opvoerings en dies meer? Kan jy miskien ook kontakbesonderhede hier aangee, indien kunstenaars of skrywers julle wil nader vir meer besonderhede?
MvV: Dit is korrek, ja. Die binnehof is ‘n lieflike ruimte. Hierdie ruimte word hoofsaaklik benut deur die restaurant, De Eetkamer. Ons sien wel uit daarna om verskeie dele van die fasiliteit aan te wend vir skrywersgesprekke, boekbekendstellings, werkswinkels, voorlesings en so meer. Navrae kan gerig word aan Maryke Van Velden, by maryke@oudeleeskamer.org. Ons webblad sal ook binnekort aktief wees, waarop meer inligting verkry sal kan word.
MJ: Baie dankie, Maryke. Mag hierdie sentrum nog diep spore trap in ons Afrikaanse letterkunde, ʼn ruimte vir ontmoetings en kreatiwiteit.