Die afgelope weke verskyn daar gereeld “Oggendmeditasies” van Joan Hambidge op Versindaba. Marlies Taljard het haar gevra om kommentaar te lewer op die reeks.
Oggendmeditasie
Die 12-uur kanon vandag om 12.15:
‘n binnewaartse reis, nie meer na verre
plekke vol onrus of reisvertragings.
Al daardie reise gestoor in verslae,
biljette, kaarte en klein objekte
as bewys ek-was-daar-eenmalig.
Hoe lyk die psige opgegaar met beweging
van punt A tot Z, van Z tot A?
Drome verklap geen samehang.
‘n Besoek aan Machu Picchu of ‘n B&B
in Kamieskroon of Kappadocchia
laat my soggens wonder: waar is jy
nou, Geliefde van die allerwoord, weg?
Dalk in ‘n lugballon of aan’t lanterfanter
ver van die 12-uur kanon om 12.15 …
Joan Hambidge
Wanneer het jy die gedig geskryf? Hoe het dit ontstaan?
Dis moeilik om ‘n gedig se ontstaanstyd vas te pen. Ek word in die oggende vroeg wakker so ongeveer na 3. Skryf dan tussen 3 en 6. Gaan rus weer. Tans droom ek my gedigte. Hierdie vers is deel van ‘n reeks Meditasies wat in Pase ontstaan het.
My ervaring van Covid is dat tyd soms stadiger beweeg en dan weer dramaties vinnig met al die nuuswaardighede wat ‘n mens daagliks aan die keel gryp.
Kon jy die bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Ek herskryf hierdie meditasies tot vier keer. Klein gedigte wys foute en vergrype dadelik uit.
Hoeveel van die vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Waarskynlik registreer hierdie verse die wroeg en sweet van ‘n hele lewe.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Verse is nooit “af” nie. Wanneer dit eendag in ‘n bundelvorm verskyn, sal daar weer herwerk word aan die verse. Ek het gedurende die naweek ‘n navraag van Jo Prins gehad oor ‘n ou Afrikaanse gedig en dit het my weer Groot verseboek laat optel. Toe het ek die volgende een geskryf. Veral S.J. Pretorius se verse het my opnuut bekoor en Boerneef (ghremmer, aksenawel) en uiteraard Peter Blum.
Oggendmeditasie 8
Ek is ‘n tricoteuse wyl die koppe rol
nou staan my ghremmer eks op hol
als is reeds beskryf deur ander aksenawel
in die blouboek van Dirk met sy snawel
al die beelde oor die bovenstebeste
het Boerneef reeds geskep van die verste
punt tot hede, kyk onse digters meestal dood
selfs ou Mocke wonder oor wraak en nood
ja wit was dié wêreld vir W.E.G. Louw
wyl Nicolaas dig oor die wolfdoring se grou
nevvermaaind ek brei en rammel beswaard
speel op my ramkietjie met net een snaar
was vergifnis ooit ‘n maklike ding of kroes
op Peter Blum se vasteland waarop ons boer?
“Die bietjie wat Ek vra” in dié oordryf,
bly maar ou Hambidge se nurkse bedryf.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek wys dikwels verse vir ander digters, maar meestal is my eie kritiese, superego die beste klankbord.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Hierdie gedigte verskyn relatief vinnig, ofskoon ek al jare aan hulle werk in my onbewuste.
Die reeks verskyn die eerste keer op Versindaba. Dit is altyd goed om ‘n gedig buite jou te plaas. Dan kan jy krities daarna kyk.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in die vers?
Twee dae terug het dit geklink asof die twaalfuur-kanon eers om 12.15 afgegaan het …
Verder toevallig vasgeloop in ‘n groot liefde in my lewe wat my geraak het. Gedink dis verby.
Sy het vir my ‘n Mont Blanc-pen gegee waarmee ek skryf.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Oor die verskil tussen reise na werklike plekke en die binnewaartse reis wat eweneens ‘n eie A-Z behels. Aan die einde van ons verhouding het ek ‘n lang reis deur Turkye onderneem wat absoluut uitmergelend was. Lang afstande. Dog by nabaat besonder verrykend.
Dit was ‘n georganiseerde reis en ek is altyd dankbaar agterna, omdat ‘n mens gedwing word om byvoorbeeld ‘n wapenmuseum te besoek. Of sien hoe matte gevleg word.
Of stap op die spore van Paulus.
Dit word dan later belangrike metafore.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van die betrokke vers gelei het?
Ek is tans besig met ‘n handleiding oor die digkuns vir jong studente. H.J. Snyman se Mirakel en muse oor die digkuns neem my altyd na die ouer digters en implikasie in ‘n gedig. Dit wat op ‘n aweregse manier gesê word. Ek lees (en doseer) eweneens teorie en hierom die verwysing na Ina Gräbe.
Hierdie semester doseer ek Eybers onder andere en herlees Komas uit ‘n bamboesstok.
Die spanning tussen die werklike en verbeelde reise.
Die tussentaal van die digkuns.
Marco Polo en Kublai Khan.
Die seminare in die Skool vir Tale is eweneens opwindend en kreatief.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Ja. Ek praat met die grotes in Afrikaans. Soos Cussons skryf in “Vir Juan”: Daar is nie digters of digteresse nie / slegs een enkel poësie …” (Die knetterende wond, 1990).
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Meer meditatief. Soos ‘n gebed dalk.
Is daar iets in die vers wat jy as tipies “Suid- Afrikaans” sal beskou?
Die twaalfuur-kanon.
Kon jy die vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Vir die oomblik tevrede.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Digters het positief gereageer. ‘n Mens weet egter nooit wat lesers werklik dink nie …
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nag die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Toe ek ‘n jong kind was – “Die verlange passer vannag in my” – daarvoor het ek ‘n paar rand gewen in ‘n wedstryd in Die Vaderland van toentertyd. As jong kind het ek al ‘n intense binne-lewe gehad.
Die reeks:
Oggendmeditasies
Pase 2022
Die nag ‘n oorvol asbak
met besoeke van en na
verre plekke, ontmoetings
met vergetenes, vertrekkendes.
Vrese tot die dag breek:
‘n stil gebed soos Eugenio Montale
soekend na die stil punt van die wêreld
nes Eybers in haar winter-surplus.
Daardie Stil punt van die aarde,
soos my vriend dig, nou onmoontlik
met modderrampe en ‘n oorlog
op ons klein en silwerige planeet.
In hierdie concordia discors
onthou ek Pase by my ouers,
my vader se studeerkamer
‘n atlas-van-die-wêreld.
Toe was alles ver en in beheer
met “Vroegherfs” ‘n gebed
vol hoop en verlossing …
Nou smag ons na berusting.
Oggendmeditasie 2
‘n Dooie vlieg langs ‘n skuifspeld
tandestokkie neffens ‘n bril gebreek
laat my opnuut wonder oor jou vraag:
hoe bepaal ons die toon van die gedig?
Amper iets soos in ‘n droom kleurloos
waarin jy verskyn en steeds knieknik?
Iewers tussen hierdie beelde en ritmes
en hortende metrum met weefwerk bekyk
deur Ina Sintaksis en Henning Semantiek
hoor ek jou smalend lag oor die gedig-
as-literatuur-teorie en sien jou wegloop
met dié nikswerd-gedig nes ‘n dooie vlieg.
Oggendmeditasie 3
Die monodie in die Griekse tragedie,
‘n lament, oor die dood van ‘n ander.
George Steiner sou waarskynlik meen
nie sprake van soiets ná die 17e eeu.
Treurend oor jou in ons Ioniese drama:
Creusa versaak Ion en Hermes verklap
alles van Apollo se dade in ‘n grot …
Met ‘n terugkeer word ek dalk Pythia?
Jy verlaat my lank terug en voetspore
in ‘n herinneringsgrot die leidraad:
jou voete loop na ‘n Griekse eiland,
maar ek ontleed οἷα εἶναι δεῖ …
Euripides het dit reeds vertel: verraad
en versaking, immer met ‘n terugkeer
na die plek van skending of verminking:
in my grot van herinnering ‘n trenodie?
Oggendmeditasie 4
Verloor my Mont Blanc-pen, ‘n cadeau
van haar, vind dit op ‘n ander plek gestoor:
met hierdie pen in ‘n kroeg, einste seimste
‘n weddenskap gewen: ein Meisterstück
korrek vertaal, want sy was ‘n Duitse nooi
wat immer lag oor my grammatika-boeke
(hoog opgestapel langs my bed ‘n berg)
met Nachfüllung vir dié pen so woekerend.
En vandat sy weg is, is hierdie pen op stuk
van sake, in kompetisie met ‘n potlood
en skerpmaker, wat ek draai en draai
om die grein van haar stem te ont-hoor.
Oggendmeditasie 5
Die maan skryn bloedswaar
‘n eklips van die hart
Bonnie Tyler se coeur
‘n totale eksisie sowaar.
A-ritmies, asindeties,
soos in ‘n rillerverhaal
met weerwolwe, ‘n mes,
angs en al die res.
Jambies stap ek, struikel aan
oor ‘n klip soekend na holorym;
dalk eerder uitmiddelpuntige rym?
Eklips bloedswaar so waar dié maan.
Oggendmeditasie 6
Paul Kruger eers gebalsem
toe in staatsie lê langs
Gezina in die heldeakker.
Perde in die ABO se geproes
verklap verkenners glo;
ry eerder fiets as equus.
Pegasus nou my perd, my saal,
my toom, my rym-ding so
in ‘n tyd vér van daardie museum:
Tom Claridge en Charles Clark,
se ontwerp op 59 Nkomo-straat
paar blokke weg van Kerkplein
waar Oom Paul staan waar
hy staan nes Barney Barnato
se leeus op daardie veranda
langs die knipmes sonder duim:
vér van die keil in die Rijksmuseum
tot die lyk sonder kram se lange terugreis.
Oggendmeditasie 7
Die meditasies van die hart
‘n spel met prosodie, posodinie
plus ‘n stel notaboeke en verseboeke.
Nagteliks besoek jy my in drome
verwonder soggens oor tathata
se onverwoordbaarheid: die skewe hoeke
van onthou word voor middernag
‘n kreeftevers: uitgespel en uitgespeel
in ‘n soort retrograde belewenis
dat die dag sal breek in voorwete:
onthou duur langer as vergeet,
verdring staan immer tru voor berou.
Oggendmeditasie 8
Ek is ‘n tricoteuse wyl die koppe rol
nou staan my ghremmer eks op hol
als is reeds beskryf deur ander aksenawel
in die blouboek van Dirk met sy snawel
al die beelde oor die bovenstebeste
het Boerneef reeds geskep van die verste
punt tot hede, kyk onse digters meestal dood
selfs ou Mocke wonder oor wraak en nood
ja wit was dié wêreld vir W.E.G. Louw
wyl Nicolaas dig oor die wolfdoring se grou
nevvermaaind ek brei en rammel beswaard
speel op my ramkietjie met net een snaar
was vergifnis ooit ‘n maklike ding of kroes
op Peter Blum se vasteland waarop ons boer?
“Die bietjie wat Ek vra” in dié oordryf,
bly maar ou Hambidge se nurkse bedryf.
Oggendmeditasie 9
Die 12-uur kanon vandag om 12.15:
‘n binnewaartse reis, nie meer na verre
plekke vol onrus of reisvertragings.
Al daardie reise gestoor in verslae,
biljette, kaarte en klein objekte
as bewys ek-was-daar-eenmalig.
Hoe lyk die psige opgegaar met beweging
van punt A tot Z, van Z tot A?
Drome verklap geen samehang.
‘n Besoek aan Machu Picchu of ‘n B&B
in Kamieskroon of Kappadocchia
laat my soggens wonder: waar is jy
nou, Geliefde van die allerwoord, weg?
Dalk in ‘n lugballon of aan’t lanterfanter
ver van die 12-uur kanon om 12.15 …