Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
13 October 202217 October 2022

Resensie: “Helaas” (Hennie van Coller)

 

 

 

Resensie:  Helaas (Hennie van Coller), Naledi, 2022. ISBN: 9 781776 172375

Resensent: Nini Bennett

 

Die akademikus en digter, Hennie van Coller is ’n bekende letterkundige. Op die agterplat verneem die leser: “In hierdie bundel word daar op intellektuele wyse ’n groot verskeidenheid onderwerpe hanteer en interessant genoeg sluit dit juis ook emosionele sake in. […] H.P. (Hennie) van Coller is uitstaande professor (emeritus), Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein en buitengewone professor aan die NWU. Hy is die skrywer van talle publikasies. […] Hy ontvang onder andere die Gustav Prellerprys vir literatuurwetenskap, die D.F. Malanprys, die N.P. van Wyk Louw-medalje en die Jan H. Maraisprys vir uitsonderlike bydrae tot Afrikaans as wetenskaptaal.”

In 2012 debuteer Van Coller met die digbundel, Soom; Helaas is sy tweede bundel.

Die titel, “Helaas” kom in beide Nederlands, sowel as Afrikaans voor en is gegrond op die Franse woord hélas. Dit word in die Afrikaanse taal gebruik om uitroepe van smart, leed, spyt en teleurstelling te verwoord. In die bundel word “helaas” as ’n vermaning of teregwysing binne die konteks van morele pedanterie geuiter, soos dit neerslag vind in die gedigte of die vertaling van die Middelnederlandse gedigte.

Die programgedig, “De helaasheid der dingen” (p. 13), waarvan Dimitri Verhulst ’n gelyknamige roman in 2016 gepubliseer het, toon die menslike kondisie as een van ongelukkigheid: ’n persoon in sy sestigs wat besin oor die liefde, die verlies aan onskuld, en die treurige verloop van dinge. Sonde en vleeslike swakhede, soos dit uitspeel in die vorm van moraliteitsteater, vorm deels die boustof van die bundel.

Die bundel is gerubriseer in sewe dele en in die laaste deel vind die leser die vertalings van uittreksels uit Middelnederlandse drama- en verstekste.

In deel 1 berig die spreker oor jeugherinneringe (“Ben Viljoen 1954”, p. 16) en alledaagse verskynsels, byvoorbeeld “Bymekaar” (p. 22) en “Naval Hill” (p. 19). “Dood” (p. 21) herleef as ’n intertekstuele spel met Eddy van Vliet se gedig, terwyl “Na ’n besoek aan ’n Afrikaner-huismuseum” (p. 20) vir die spreker ’n teleurstellende ervaring inhou. Strofes 2 en 3:

 

Ons volksverlede bied oënskynlik min plek

vir die besittings van lieplappers en landlopers

hoewel dit glo oor geslagte en eeue strek:

eerder trivia soos kwitansies van wolkopers.

 

Orals Griekse marmer urnes

en ’n hele santekraam van drek:

langspeelplate met vals nocturnes

verslete boeke én ’n kleipyp wat swak trek.  (pp. 20 – 21)

 

In “’n Huis vertel” (pp. 17 – 18), ’n sterker gedig in dié deel, kon die argaïese en onsensitiewe verwysing na ’n rassegroep gebly het.

Deel 2, “Van dichten comt mi cleine bate / skryf bring vir my min voordele” betrek Ars poëtikale besinnings, trieksters en muses (pp. 24 – 25), asook ’n vers, “Mei” (pp. 26 – 30) wat skakel met Herman Gorter se gelyknamige gedig. Laasgenoemde epos het in 1889 verskyn en beslaan 4381 reëls. Van Coller beïndruk met sy skeppende bewerking van ’n vers wat enersyds fokus op die huis; andersyds op ’n bakproses (van mosbolletjies); op blindelingse spronge na die oewer van ’n rivier, en op die arbitrêrheid van woorde en hul betekenis. Let byvoorbeeld op die Ars poëtikale proses as linguistiese spel, strofe 3:

 

[…]

Gaan sit rustig – as jy wil –

daar tussen paranteses.

Wees egter in jou pasoppens,

mens raak maklik verdwaal

tussen bysinne en deure wat oopstaan

of uitroeptekens wat die gang steur,

dalk struikel jy oor sintaksis of stoele,

val jy werklik oor woorde. (p. 27)

 

Deel 3, “Mag God my redding bring om tot die kern deur te dring” voer intertekstuele gesprekke met bekende Nederlandse digters: Achterberg, Nijhoff, Adriaan Roland Holst en Herman de Conick. ’n Hoogtepunt hier is waarskynlik “Nijhoff” (p. 33), ’n inspeling op Martinus Nijhoff se 1916-gedig, “De wandelaar”. In “Herman se ruiters” besin die gedig oor die afname in lewe en vitaliteit en word ’n galery literêre kritici voor die oog geroep. Die spreker betreur die prosesse van veroudering en herroep sy verlore jeug as die waagmoed van ’n ruiter. Die slotstrofe:

 

Kees Fens is dood, Jaap dood

stil, Alewyn en Rob haas vergete,

net uitgetredenes skryf nog verbete.

Buite die stal lê vuil strooi en mis,

gras, gerooi in hope,

net spore helaas van daadkrag en drif. (p. 35)

 

Die laaste gedig in dié deel, “Windsurfers doen het stand” knoop waarskynlik ’n gesprek aan met die Schlager-liedjie, “Iedereen doet’t”. Die seksuele innueondo’s word egter in die gedig uitgespel, terwyl die lied eerder met suggesties omgaan.

In deel 4, “Baie poësie beteken maar weinig vir jou siel” vind die leser ’n handvol onverwante gedigte. “Van blomme gepraat” (p. 42) getuig van ’n mooi vers, maar die leser ervaar ongemak met die groeiende pedanterie (soos dit ook in heelwat gedigte voorkom), byvoorbeeld “’n Les in ekonomie” (p. 43). Hier is die leermeester, die hoogleraar, aan die woord en hy spreek sy lesers (“studente”) toe. Dít op sigself is waarskynlik goedig bedoel; die probleem is egter dat die leser deurlopend allerlei lesse moet leer – die bundel wemel van vingerwysings en voorskriftelikheid. Die woordspel: Adam Smith, wat in strofe 2 morf na die Bybelse Adam en sinspeel op Milton se “Paradise Lost” (“alle paradyse verlore”), is veronderstel om spitsvondig te wees, maar dit het geen trefkrag nie. Met heelparty verse ervaar die leser die sinkende gevoel van futlose poësie.

Afrikaanse digters soos T.T. Cloete, Peter Louw, Lina Spies, Tom Gouws, Lucas Malan, Joan Hambidge, Johann de Lange en Clinton V. du Plessis het oor die popikoon, Marilyn Monroe geskryf, en met “Marilyn, foto in water” (p. 46) sluit Van Coller aan by dié groeiende diskoers. Daar is ’n inspeling op Ingrid Jonker: “ [..] en jy jou wiere verbeel [..]”, na analogie van Jonker se oorbekende vers, “Ontvlugting”. Dit resoneer met die beskouing dat Jonker “die Marilyn Monroe van die Afrikaanse poësie is”. In die laaste gedig in die afdeling, “Impasse” (p. 49), word die ouerwordende spreker en sy geliefde se misverstand beskryf. Die geliefde bevind haar in die kombuis met haar voorskoot aan, skynbaar onbewus van haar man se attensies en hoe jonk en mooi sy (steeds) vir hom is.

 

Impasse

 

Ek en sy het bot gestaan in die kombuis.

Daelank het ek getob, dan besluit, waag

dit vandag. Tog besef, nog vóór my vraag,

nêrens in dié stokou huis is ek meer tuis.

 

Ek wou vertel van ferm borste, ’n jong lyf,

van ’n gladde vel, hitsige gedrag.

Hier is haar domein, is sy gelukkig. Sy lag.

Ek onthou ’n groot tafel met kinders, swyg.

 

Stoomdampe hang wit om haar, lig soos kant,

’n voorskoot wasig soos ’n bruilofskleed,

rimpels gou gladgestryk hier voor my hand

 

wat huiwer voor die niemandsland.

Sy vra: “Wat wou jy sê? Het jy vergeet?

Kom jong, ons moet vanaand by Boet gaan eet.” (p. 49)

 

Deel 5, “Wat de duiwel (haai duiwel), wil jy dat ek my blindhou vir dinge wat ek self gesien het? (Jy sien verkeerd, as gevolg van drank en ouderdom)” handel oor dinge soos sonde, ’n tema wat onder meer uitspeel in die sewe doodsondes soos hoogmoed, hebsug, wellus, woede, vraatsug, afguns en luiheid. In “Helaas” (p. 52) vind die leser hebsug; in “Lewensweë” (p. 53) en “Schipper naast Mathilda” (pp. 54 – 44) wellus. “Die laatkommer” (p. 63) spel die boodskap uit: “Achteraf is alles zonde.” Verse soos “’n Ode aan Marié” (p. 56) en “Die siekte van H.” (p. 57) laat die leser met ’n dowwe indruk, hoewel die tema in dié deel ten doel het om die aftakeling wat tyd en oudword bring, te verbeeld. Vervolgens, in die satire “Ars Educationis” (pp. 61 – 62) word die spreker se orakelagtige stem hoorbaar wanneer hy ’n groep aspirant-pedagoë met raad bedien. Hierdie ouwêreldse leermeester dink met nostalgie terug aan die intrinsieke roeping van ’n pedagoog in die dae vóór die sosiale media en sagtewareprogrammatuur. Strofes 2 – 5; 8 – 9:

 

Deernisvol kyk die meester na sy volgelinge.

Bedrewe in die ars educationis:

Leer, illustreer, verdiep, herhaal,

 

géén diskriminasie op grond van

gender, ras, geloof en taal

nie. Ook Afrikaans het hy glo lief.

[…]

Verkondig littérature engagée,

kwoteer veral Gramsci, Showalter en Fanon,

vermy net in hemelsnaam die Westerse kanon.

 

’n Stoet van beelde sien ek langs my gaan:

die vuriges van die lang lesse,

toegerus slegs met bord en kryt. (pp. 61 – 62)

 

Deel 6 berig onder meer oor voëls, reise, vreemde plekke en die doodsondes luiheid (“Leeglê, p. 70) en wellus (“Hijgen op dezelfde toonhoogte”, p. 74). “Nudistestrand: Sylt” (p. 71) is ’n poging tot satiriese vernufpoësie, maar die gedig kom eerder oor as studentikoos.

 

’n Klomp kales met pils,

paté, worse en koekies,

boudwange, soms peulend uit broekies.

Malachietlywe mét selluliet

maak ’n einde aan spulsheid, subiet. (p. 71)

 

In deel 7, “’n Groot skat in ‘n klein vaatjie” kom die vertaling van Middelnederlandse poësie voor. Die vertaler stel in “Woord vooraf by die vertalings” (pp. 80 – 82) dat die keuse van laasgenoemde vertalings uittreksels uit bekende Middelnederlandse dramatiese werk en gedigte is; en dat baie van die korpus Middelnederlandse tekste verlore gegaan het as gevolg van rotte, brande en waterskade. Volgens die vertaler is dit ’n wanopvatting dat die donker Middeleeue min opgelewer het wat die moeite werd was om te bewaar: dít wat behoue gebly het, is egter literêr hoogstaande. Van Coller noem ook dat heelwat studente ná slegs ’n semester van Middelnederlandse poësie, baie van die gedigte met die hulp van woordverklarings onder die knie kry. Hy spreek vervolgens sy spyt uit dat kursusse in Middelnederlands op universiteite al hoe seldsamer raak.

Met verwysing na sy persoonlike vertaalpraktyk stel Van Coller dat hy waarde heg aan die bronteks en verkies om te hou by die tug van die paarrym in die oorspronklike werke. Agterin in die bundel vind die leser ’n bronnelys: Tom Gouws se 1988-D.Litt-proefskrif, Die transskriptuele lees: hiaat, haplografie en transskripsie in die poësie van Breytenbach, Krog en Cloete – ’n logolinguale lesing, plus ’n vyftal akademiese artikels, waarvan twee Van Coller se eie is. Die bronnelys meld voorts ’n boek oor die Nederlandstalige letterkunde, ook deur Van Coller. Hy bied hierdie bronnelys ter verheldering van die voetnote by die gedigte en vertalings (waarskynlik as soort studiehulp/teksbegeleiding). Ironies genoeg vertroebel hierdie lading akademiese tekste eerder die leesproses, in stede van verheldering.

Desnieteenstaande is Van Coller se vertaling van hierdie veertien stuks uittreksels geslaagd; ter illustrasie, “Vertaling van ’n gedeelte uit Mariken van Nieumeghen”.

 

Watter wonderlike dinge het ek hier vermag!

Daar’s baie mense wat hulle nou

hopelik in die hel verwag.

As ek hier nog ’n rukkie die septer kan swaai,

dan sal ek die hel nog voller kan laai.

Dis jammer as ons van die herberg moet vertrek

want vir alle skarminkels is hier oorgenoeg plek,

………………………………………………………..

Dobbelaars, dwase en wettelose moere,

bywywe, slette en sulke straathoere

van dié soort kry jy hier ’n klomp,

dis by hulle waar my profyt lê;

in hierdie huis laat ek my niks ontsê.

Laat ek sommer nou die klerk gaan sien

en vra wat hy wil hê vir ons verblyf.

As ek bly loseer, maak ek soos ek wil met lus en lyf

omdat hier altyd alles is wat ek begeer,

en genoeg kans om chaos te saai hier en daar

en ek nog honderd dodelike steke kan gee in ’n jaar.

Só kry ook Lucifer sy deel aan die tuin van luste. (p. 112)

 

In geheel herinner Helaas aan ’n literêre handel in aragaïsmes. Uiteraard voeg die Nederlandse omdigtings en die Middelnederlandse vertalings waarde toe tot die Afrikaanse vertaalskat; die bundel is immers befonds deur Literatuur Vlaanderen en Nederlands Letterenfonds. Die probleem is dat die tematiek, verwysingsraamwerk en Zeitgeist van hierdie hele korpus gedigte argaïes vertoon, en die moderne leser mag moeilik aanklank vind by die bundel. Of: Helaas is afgestem op ’n klein lesersgehoor. Die pretensie in die bundel skep leesversperrings en die leser lees toenemend met weerstand. Gevolglik verswelg die pretensie, die oordaad verwysings, en die spel met die leser die skamel oes self.

Uiteindelik laat die leesproses die leser onbevredig. Ook die mees volhardende leser mag dalk teleurgesteld wees, want selfs met die naspeur van die talle verwysings bly die beloning skraal. Die leser mag inderdaad wonder hoe die digter se poësie lyk wanneer hy sonder ’n intertekstuele drievoet skryf.

Wanneer dit by verstegniek kom, is Van Coller se register klein. Die verse gaan mank aan beelding; die digter bemoei hom oorwegend met pedanterie en rym, maar die rymvernuf is nie in alle gevalle ewe geslaagd nie. Die gebruik van eindrym as digtegniek is meer oortuigend indien dit gepaard sou gaan met ’n onderliggende metriese patroon, andersins vertoon die konstruksie lomp, veral as die heffinge en dalinge in die versreëls nie patroonmatig is nie. Wanneer die rymwoorde boonop voorkom asof dit lukraak uitgekies is, dra dit verder by tot ’n indruk van ongeloofwaardigheid en rymdwang. Die gedig, “Doha” (p. 69) as voorbeeld:

 

Skemeraand in die soel, stil woestyn,

’n klipgooi van die sobere Saudi-Arabië,

proe-proeënd aan water kosbaarder as keurwyn” (p.69)

 

Die stem van Van Coller, die akademikus, is duidelik hoorbaar in die bundel, terwyl die stem van die digter disintegreer. Hier is te veel erudiete grandeur en, helaas, te min poësie.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

4e gedagtes oor “Resensie: “Helaas” (Hennie van Coller)”

  1. Ronel de Goede Foster says:
    14 October 2022 at 11:16

    Ja, Johann, die invloed van Nijhoff se “Impasse” is inderdaad merkwaardig. Aan jou lysie kan die gedigte van die volgende digters toegevoeg word, min of meer chronologies volgens verskyningsdatum: Ad Zuiderent (“Keukengeheim”), Ronald Ohlsen (“In Groningen”), Alfred Schaffer (“Impasse”), Leonard Nolens (“Bruiloftslied” en “Impasse”), Areth (= Thera Heemskerk: “Impasse) en K. Michel (“Onder het tuimelraam”). Sien twee artikels in Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, jaargang 2012, nommer 1 en 2 (https://www.savn.org.za/index.php/tydskrif-vir-nederlands-en-afrikaans).

    Reply
  2. Daniel Hugo says:
    14 October 2022 at 10:44

    Daar is ook Leonard Nolens se “Bruiloftslied” – deur my vertaal in: ‘n Digter in Antwerpen (Protea Boekhuis, 2015).

    Reply
  3. Johann de Lange says:
    13 October 2022 at 19:12

    Daar bestaan ‘n kreatiewe diskoers rondom Nijhoff se | Impasse”, ‘n terugskryf/herskrywings/variasies deur digters soos Merwe Scholtz (“Impasse”), Daniel Hugo (“Die digter en sy bruid”), Chrétien Breukers (“Impasse”), Elly de Waard (“Gard”) en ruud verwaal (“permutatie” en “22 variaties op een thema van Martinus Nijhoff”). Nuuskieriges kan hier die gedigte lees: http://johanndelange.blogspot.com/2012/09/impasse-variasies.html

    Reply
  4. Johann de Lange says:
    13 October 2022 at 18:55

    Van Coller se vers “Impasse” is ‘n variasie op Martinus Nijhof se gelyknamige vers, wat ook skitterend geparodieer is deur TT Cloete in sy vers “Impasse”.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d