winterliedjie
in ʼn helder midwintersnag
is ʼn swart kindjie gebore
kaal takke roer in die ysblou lug
die gras lê vaal en wit bevrore
haar pa het haar kalmweg verstoot
haar ma skaars ouer as twaalf
het haar in doeke toegedraai
en neergelê in ʼn stormwaterkrip
toe die maan yl oor die straat skyn
het ʼn voetganger iets hoor huil, dalk ʼn kat
polisie, brandweer en ambulans gebel
skadu’s sien swel uit die swaai van die ligte
die brandweermanne snuiwe en hoes
hulle hande rooi van die koue
druppels sypel uit hulle neuse en koek
in hulle baard soos ryp op hulle wange
die noodwerkers grawe en spook
wikkel haar versigtig los uit die pyp
die kindjie word toegedraai in ʼn noodkombers
wat blink oor hulle moeë gesigte weerkaats
die liewe kindjie maal met haar arms
haar koppie blink in die spreilig
sy suig aan die hangertjie om haar nek
Jesus in goud al sopnat gekwyl
verdwaas drom mense om haar saam
die kindjie staar met groot, donker oë
diep in die ysige lig wat daag
oor Blikkiesdorp se geroeste sink.
© Hein Viljoen, 2022
Treffend. Onthutsend.