grendelstilte
stilte sypel deur die veraf koer
van duiwe, die wildegans se skal,
suis in blare, kom lê teen jou wang
die boom oorkant skel geel teen die blou lug
ek kerf die blare, jy die tamatie,
‘n takkie dille terwyl jy die eiers uitdop
en opsny, dik klodders mayonnaise byvoeg
ons ons soort salade nicoise vredig eet
die mensgemaakte vuur in die voorkamer
spoel oor die meubels en kleur ons gesigte
of ek staar in die vlamme, ‘n rokie krul
luierig, jy lê en lees op die bank waaronder
die akkedis voorlopig skuiling gaan soek het,
ek trek aan my bier, vinkies krakeel
oor die saadjies in die bak
stilste sypel sag soos skemer in
© Hein Viljoen, 2020