Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
28 November 20221 December 2022

Resensie: “Plunder” (Antjie Krog)

 

 

 

Resensie: Plunder deur Antjie Krog, Human & Rousseau, 2022

Resensent: Marius Crous

 

Dit voel soos onlangs dat Antjie Krog se bundel Mede-wete verskyn het, maar daar het reeds 8 jaar verloop sedert die publikasie van Plunder se voorganger. Plunder sit van die temas in daardie bundel én in Krog se oeuvre in geheel voort. Opvallend dat die kleindogter in die gedig “jou eerste nag in die tronk”(80) die ouma se sin vir protes teen ongeregtigheid ook voortsit.

Nes in haar vorige bundels word die selfbesinning oor die taal, die aard van die poësie en die rol van die digter deurgans toegelig in Plunder; dit word nie net ‘n optekening van alles en almal wat die aarde plunder, mekaar verontreg of die liggaam wat geplunder word deur die ouderdom nie, maar dit word ook die verslag van selfplundering en bevraagtekening.

Reeds in die openingsgedig “dit kom nie meer op my af nie”(11) word die digter weer eens gekonfronteer met die leë A4-bladsy en fokus sy eerder op die “afskeidnemende wêreld”om haar.

Dit is veral die gedig “die vulgariteit van verse” (102) wat vir die leser verslag lewer van die selfbesinning en relativering wat op ironiese wyse aan die skryfproses gekoppel word – vandaar die titel. Kernmomente in dié gedig is die feit dat poësie nie red nie; dat die digter van “appropriasie en uitbuitery” beskuldig word, die verlammende effek van onproduktiwiteit, asook die celebrity-kultuur wat aan die digkuns gekoppel word. Tog moet sy teenoor haarself erken dat sy juis skryf om herinner te word aan haar gesplete subjektiwiteit, en dit doen sy met behulp van ‘n inboor in die “omhulsel van die woord”. Die hermetiese, verwikkelde gedig word as so “old school en so wit” beskou, sodat sy tot die gevolgtrekking kom:

 

binne ’n dekade gaan my soort afrikaans

my soort styl, tema en verwysingsveld

deur niemand meer aangrypbaar wees nie

verdrinkend in witmenskák

 

Sodra hierdie siniese blik op haar taal by die leser insink, troos sy egter met die slotwoorde:

 

ek vysel taal soos ek wil

en fok julle

 

Die proses van appropriasie en uitbuitery word geïllustreer in een van die gedigte uit die reeks strooptogte (plundertogte) wat sy onderneem (39). Die digter soek na “pluiings” vir die ouer liggaam en, in haar woorde, doen dit deur ander se werk binne te val. (Sien ook die Bronne aan die einde van die bundel.)In wese word die digter nou soos die kolonis, wat inval, plunder, stroop en buit. Die vrees vir die verlies aan taal in “die tyd van kanker, alzheimers en parkinsons”(27) is ook ’n durende kwessie.

Tydens die digter se oordenking vroegdag (87), beskryf sy die digproses as ‘n sintuiglike soeke na “’n woord ’n dessitse woord oor onreg / oor dood”.

Die aanklag teen mededigters kry ons in die gedig vir Remco Campert (60) waarin verwys word na hom as iemand wat “die reputasie van digters gestand [doen]”, in teenstelling met

 

ons ander [wat] verander [het] in do-gooders

die performers die uitreikendes die opdressers

die ydeles die voorgeërs

die podium-diere, die youtubers

die deemoedige kakskrywers

 

Die digter is ook voortdurend uitgelewer aan kritiek, nie net van haar taalgenote nie, maar haar andersheid (Andersheid?) word krities soos volg verwoord:

 

ek word genooi om gedigte voor te lees:

ná my velkleur vasgestel is, praat, eet en drink

die swart gehoor eenvoudig verder

die MC pleit een maal vir stilte maar word geïgnoreer (96)

 

As sosiaalbewuste digter neem sy die onreg om haar waar, worstel met die kwessie van wit-wees, en sy wonder in die gedig “treinrit van Groningen na Amsterdam”(55) of sy ‘n ander tipe digter sou wees as sy in Nederland grootgeword het. Selfironiserend, merk sy egter op dat sy steeds oor onreg sou skryf (bv oor mense wat roep uit ’n oond) en steeds ‘n meedoënlose ironiese / bitch gewees het wat [sy] (eintlik is” (55).

Poësie mag ons dalk nie red nie, maar die aangrypende Misorde vir die nuwe verbond (105-26) kan ons vertroos; kan ons as inkantasie voorlees en hoop vir die goeie.  Of soos Krog dit verwoord in “writing retreat” (14):

 

poësie vertel die sakrale as die nag oor die aarde val

 

Maar, soos tereg in die motto van die Mis genoem word, moet ons nie net die planeet versorg nie, maar ook ons medemens. Die Priester sluit juis af met die volgende:

 

gaan in vrede en verheerlik die Broosheid van die Lewe

gaan heen en verkondig die himne van Water

die pag van die Aarde, en alles wat volhoudbaar daarin, daarop en

[daaruit

bestaan

gaan heen, word Versorgers van die Aarde en skouer die juk

                                                       [van Omgee.

 amen

 

Plunder is ‘n verwelkomende toevoeging tot Krog se oeuvre en dwing mens om te herbesin oor vanselfsprekendhede, selfs al relativeer sy dit met haar verwysing na na haar stem as synde “klammerig van omgee en vergifnis”. In die kritiese meerstemmige teks (96- 101) oor witheid en die wit blik (“gaze”) word haar “gee-gaafheid” en “bloeiende-hart-gulheid”(99) deur een van die stemme verafsku. Ongeag haar betrokkenheid, het sy deel aan die “arrogante wit heersugtigheid”. Soos Sokrates, wil sy juis ’n ondersoekte lewe ly, en daarom staan sy selfkrities teenoor haar eie filosofie van omgee:

 

ek wil gepor, gekneus en oopgeruk word

deur ander maniere van dink    ek wil

beheer opgee, my uitkyk ontwrig, al

my sekerhede moet skipbreuk ly     ek

wil in ’n deurlatende vel stap, my oorgee

aan wat anderkant “ek is” leef  (41)

 

Wat ons as lesers verwag van Krog, is haar unieke vyseling van die taal en in Plunder stel sy ons nie teleur nie.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • AVBOB Persverklaring
  • Joan Hambidge. Cussons twee verse oor rose
  • Ferdi Wheeler. Mars
  • Willem M. Roggeman. Het wit van Roger Raveel
  • bevan boggenpoel. winter

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d