Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
10 January 2023

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Desember 2022

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertalings van werk deur Ronelda S. Kamfer en Olivia M. Coetzee

PEN Afrikaans maak met trots bekend dat die volgende twee vertalings na afloop van die jongste ronde aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds gefinansier sal word:

  • ’n Franse vertaling van Chinatown deur Ronelda S. Kamfer (Éditions des Lisières)
  • ’n Engelse vertaling van Innie shadows deur Olivia M. Coetzee (House of Anansi Press)

Chinatown is die bekroonde en vertaalde digter Ronelda S. Kamfer se vierde digbundel. Dit sal na verwagting in 2023 in Franse vertaling by Éditions des Lisières (Provence, Frankryk) verskyn. Pierre-Marie Finkelstein is die aangewese vertaler en die uitgewery beplan om ’n tweetalige bundel die lig te laat sien, met die Afrikaans wat langs die Frans sal verskyn. Éditions des Lisières bestaan sedert 2016 en fokus veral op vertaalde poësie.

In haar bespreking van Chinatown skryf Deborah Steinmair: “Die bundel gil soos ‘n alarm, sny soos ‘n laserstraal en lê die mens, tydloos, grensloos, bloot.”

Die bundel het oorspronklik in 2019 by Kwela Boeke verskyn en is al in Nederlandse vertaling uitgereik. Die Nederlandse uitgawe verskyn by Uitgeverij Podium en is ook deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun.

Toronto-gebaseerde House of Anansi Press, Kanada se voorste onafhanklike uitgewery, het suksesvol aansoek gedoen vir ’n vertaalsubsidie om ’n Engelse vertaling van Innie shadows deur Olivia M. Coetzee die lig te laat sien. Die skrywer sal self die vertaling vanuit Kaaps behartig en die Engelse uitgawe sal na verwagting in 2024 verskyn.

In hul aansoek skryf House of Anansi: “Die behoefte om ‘n taal soos Kaaps, wat meestal deur gemarginaliseerde mense gepraat word, te legitimeer, te laat herleef en te vier, weerspieël die lot van honderde inheemse tale in Kanada, wie se sprekers deur kolonisasie onderdruk is. Baie ooreenkomste kan getrek word tussen die bruin gemeenskap in Suid-Afrika en inheemse volke in Kanada, in beide die lewenskragtigheid van hul kulture en die dringendheid van hul stryd.”

Die Suid-Afrikaanse skrywer en akademikus Barbara Boswell noem Innie shadows “’n baanbrekerswerk waarin die onteiendes uiteindelik hul eie stories vertel.” Die plaaslike uitgewer is Modjaji Books en dit het nog nie voorheen in vertaling verskyn nie.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/

Hierdie aankondiging is ook hier beskikbaar. Deel dit gerus wyd en syd.

 

Charlize Theron se uitlatings oor Afrikaans

Charlize Theron, ’n Hollywood-ster wat in Suid-Afrika gebore en getoë is, het in ’n episode van ’n podsending genaamd “Smartless” ’n aantal uitlatings oor die Afrikaanse taal gemaak wat sedert die vrystelling daarvan op 14 November 2022 groot reaksie ontlok. Die problematiese stellings wat sy oor Afrikaans gemaak het, sluit in dat die taal ’n verbastering van Nederlands is, waardeur ’n verskeidenheid ander invloede misken word, en dat Afrikaans ’n sterwende en nuttelose taal is.

Theron se stelling dat daar slegs 44 mense is wat nog Afrikaans praat, is duidelik nie letterlik bedoel nie. Net so is dit duidelik dat die res van die stellings uit voeling is met die werklike stand van Afrikaans. Dit skakel met ’n verouderde en uitgediende beeld van Afrikaans as primêr die taal van ’n klein en kwynende deel van Suid-Afrika se wit bevolking. Die teendeel is egter waar: Die meerderheid van Afrikaanssprekendes is bruin, swart en Indiërs, die taal groei en is tans die derde grootste taal in Suid-Afrika.

In haar reaksie rig Bettina Wyngaard, ’n voormalige ondervoorsitter van PEN Afrikaans, die volgende uitnodiging aan Theron:

“In plaas van doer van ver af wilde stellings maak, kom check wat ons doen. Lees ’n Afrikaanse boek, borg ’n Afrikaanse woord, al is dit dan nou pampoentjie, luister na ’n Afrikaanse musikant, dans saam aan die riel. Kom vra my vir ’n lys. Kom leer oor die vibrante variante van Afrikaans waarin ons skep.”

Soos ander sentrums wat deel is van die PEN-netwerk, glo PEN Afrikaans dat die tale wat ons praat saakmaak en ook hoe ons oor daardie tale praat.

PEN International se Girona-manifes, wat op taal en taalregte fokus, is hier beskikbaar.

 

Aansoeke verwelkom: Residensieprogram vir skrywers van die Lae Lande en Suid-Afrika

Die Jakes Gerwel Stigting nooi graag skrywers (opkomend of gevestig) van alle genres uit om aansoek te doen vir ’n residensie wat vanaf 27 Februarie tot 13 Maart 2023 by Paulet Huis op Somerset-Oos aangebied word. Hierdie program word in samewerking met die Passa Porta internasionale skrywershuis in Brussel aangebied en het ten doel om skrywers van verskillende kontinente byeen te bring.

Suksesvolle plaaslike aansoekers sal die Jakes Gerwel Stigting se skrywershuis op Somerset-Oos deel met die Belgiese skrywers, Tom Naegels en Neske Beks.

Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die suksesvolle aansoekers, insluitende reiskostes, verblyf en etes tydens die verblyf. As jy wil deel wees van hierdie opwindende projek, stuur asseblief jou voorlegging aan die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, Theo Kemp, by theo@jgf.org.za teen 16 Januarie 2023. Die aansoek moet vergesel word van ’n motiveringsbrief, projekuiteensetting en ’n kort bio.

 

Digterlike reaksies uit Oekraïne op die oorlog (slot)

Twee gedigte van Darina Gladoen, vertaal deur Jerzy Koch

In hierdie slotbydrae tot die afgelope halfjaar se reeks met vertaalde Oekraïense gedigte, word ’n tweetal gedigte van Darina Gladoen geplaas soos, met medewerking van Janusz Radwański, vertaal deur die Poolse vertaler, digter en akademikus Jerzy Koch. Uit die September-nuusbrief van PEN Afrikaans kan lesers meer te wete kom oor sowel Gladoen as Koch, aangesien ook daardie bydrae ’n vertaling deur hom bevat het van een van haar verse.

sonder [liggaam]

1.
koppe
sonder liggame

liggame
sonder koppe

wie het eerste die vernieling van die marmermense uitgedink

wie het die vlerk van Nike afgeslaan
en of hy gelukkig geword het
en die belangrikste
waar bly die kop

 

2.
argeoloë skud die tyd
van skelette en skerwe
met hul pensele af
hulle is beter kunstenaars as die bestes
met groter fantasie as die sprokieskrywers
vertel hul vir ons verhale en ons glo dit soos klein kinders

 

3.
baie marmerkoppe in die musea en baie
torso’s
afsonderlik

maar party is neergesit by die ander
hulle praat dan van

restourasie

die onbekwaamheid om te aanvaar
’n mens /van steen/ sonder hande sonder bene sonder kop of slegs die kop alleen

om dit                 te benoem is die aparte woord                   uitgedink

soos klein kinders
wat speelgoed gooi vir die dooie diertjie
weer en weer
en die diertjie blaf nie miaau nie gaan haal nie vang nie
weer en weer
pas ons die koppe aan die liggame
liggame aan koppe

vir                     ’n bepaalde tyd
word ons gerusgestel

 

4.
’n sekere voorgevoel
het my wakker gemaak vieruur in die oggend

wat as die verbryselde beelde in die musea

nooit heel was nie

 

voel

die gevoel
asof ek in die honderdste maand was
van swangerskap en moes baar met die naald
dwars

vertaling deur Jerzy Koch
(met dank aan Janusz Radwański en Daniel Hugo)

 

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in November 2022 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in Desember 2022

Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Ten slotte wens ek namens die bestuur van PEN Afrikaans ons lede en ondersteuners ’n vreugdevolle feestyd en ’n voorspoedige 2023 toe. Dankie vir die deelname en bydraes wat ons in staat stel om te doen wat ons doen.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← PEN Afrikaans. Nuusbrief: Oktober 2022
PEN Afrikaans. Nuusbrief: Februarie 2023 →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Meyer van Rensburg. Werkwese
  • Resensie: “Krap – oop toe om rond uitkrap” (Koos de Wet)
  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer

Nuutste kommentaar

  1. Hester Steenkamp on Digtersprofiel: Melt Myburgh3 August 2026

    Oewerbestaan is een van my kosbaarste besittings. Die bundel lê my baie na aan die hart.

  2. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  3. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  4. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  5. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d