Heler
My oë is ‘n blouvalk waarvan die
kykers konsentries eb en vloed
as dit vlakhaas oor die vlaktes
tussendeur die slegte en die goed.
My hande word ‘n snuffelhond wat
druk en voel oor beendere en vel
terwyl die ore gedurig spits staan
wat dermklanke en ‘n mond vertel.
Ek lees die diep vibrasies en hul seine
met tegnologie aangepasde richterskaal,
seismograaf of binneaarse-lyne soos
dit die lot van van elke mens bepaal.
Soms forseer ek vog, hipodermies
in spiere, onder vel of in are in,
beleef die hartseer van dood of
die wonderwerk van ‘n skoon begin.
Maar soms sê ek net ja, nee of niks
en wag vir tyd om ‘n asem te kom haal
van die wat haastig huiswaarts neig,
of soos die Man van bo bepaal.
My oë bly steeds ‘n blouvalk waarvan
die kykers konsentries eb en vloed
as dit vlakhaas oor my eie vlaktes
tussendeur my slegte en my goed.
© Ockie Strydom, 2023