Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
20 February 202321 February 2023

Heilna du Plooy. Drie gedigte

 

Amoebes

Vir Theresa

 

Deurentyd en deur die tyd heen
gaan dit oor veel meer as berekening:
meer as die eweveel weerskant op die skaal;
meer as balans waar alles kantel en een ding
staande bly; oor meer as samehang of meeleef
soos in die spinneweb se weef.

 

die digter weet
ons weet nie hoe die sterre hang nie
hoe hulle tol of bots of val nie

 

Hoe onverklaarbaar dat die maan
en die eb en vloed van die oseaan
mekaar opjaag of laat slaap;
dat magma die aardplate dra
totdat dit uitbars in kokende klip
en die as van ’n verbrandende wolk.

 

die digter weet

ons arms steek dendrietdun in die lug
tentakels na gerusstelling en uitsig

 

“But all shall be well, and all shall be well,
and all manner of thing shall be well”
hier onder die son en die maan, die see meestal
binne sy strande, die rivier binne sy bedding;
die stewige boom met sy wortels gesprei, wyer
as die span van sy takke bo en dieper as sy kruin.

 

die digter weet
ons klou met afgekorte tone aan die aarde
terwyl ons oë uitreik verder as die sterre

 

Amoebes, plooibaar en sag, goedaardiges
is wat ons nodig het, eenvoudige veelsydige
organismes, dapper soos digters en sterk soos geloof,
om hulleself in skeure te werp, óór bulte te vou;
allerindividueel bestem om te temper, te salf:
versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.

 

die digter weet

ons weet nie hoe die sterre hang nie
hoe hulle tol of bots of val nie
ons arms steek dendrietdun in die lug
tentakels na gerusstelling en uitsig
ons klou met afgekorte tone aan die aarde
terwyl ons oë uitreik verder as die sterre

*

 

Suiderkruis

 

jy moet van tyd weet, van daardie soort tyd
wat jy net in terme van ruimte kan meet;

 

sonder dat jy tyd kan ken, moet jy
uit jou murg uit aanvoel, meevoel
dat tyd volgorde is, dat tyd duur of vervloei,
dat patrone in tyd onstaan en verdwyn;

 

jy moes al baie beleef het, vriende gemaak
en met weemoed verloor het, liefgehad
en gehaat het, geliefdes waardeer
en afskeid tot in jou niere voel sny het;

jy moes al lank geleef het, in momente
en deur eras; ekstase en trauma aan jou liggaam
ervaar het; jy moes al kon voel hoe opbou
en aftakeling, hoe tyd self in jou weefsel setel;

 

veral moet jy weet hoe met geboorte
’n tydlyn begin, hoe dit dun
word en uitdoof met dood; dit alles,
en meer, moet reeds van jou deel wees

 

om een middernag met donkermaan
na die suiderkruis te kyk,
die twee wysersterre laag bo die deining
in die aardedonker oor die oseaan,

te kyk na ses magtige sonne
se vlamme en gloed
wat deur eeue se afstand verdof
tot spikkeltjies lig in jou oë,

 

om dan te verstaan:
die kruiskonstellasie
self is gans en al
onbegryplik oneindige tyd;

en die vermeende leemtes,
ligloos tussenin, eweneens.

 

*

 

VI    

 

As mens jou voorstel
dat met jou sterwe
jou enkele lewe,
jou een liggaam, oplos
in die wemeling
van lig op water,
dan word die dood vir jou
’n sterbelaaide ver verskiet.

 

© Heilna du Plooy, 2023

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Twee nuwe Stemgrepe: Heilna du Plooy

1e kommentaar op “Heilna du Plooy. Drie gedigte”

  1. Alwyn Roux says:
    21 February 2023 at 09:47

    Treffende gedigte. Ek hou in die besonder baie van “Suiderkruis” met sy Rilke-interteks.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d