Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
21 March 202322 March 2023

Daniel Hugo. Gerrit Komrij en die slak

 

Gerrit Komrij en die slak

 

Vanaf Januarie tot Desember van die jaar 1999 het Gerrit Komrij (1944-2012) elke Maandag vir die voorblad van die Algemeen Dagblad in Nederland ’n sonnet geskryf met die tyd as tema. Dié gedigte is in 2000 deur Uitgeverij Bert Bakker luuks op roomkleurige papier, in rooi ink en met ’n leeslint as ’n kleinformaatboekie uitgegee. ’n Ware versamelstuk vir bibliofiele.

Die titel, 52 sonnetten by het Verglijden van de Eeuw, is blykbaar deur die uitgewer bedink. Inderwaarheid het Komrij 53 nuwe sonnette geskryf, want daar is ’n ekstra een as los blad in faksimilee van die digter se handskrif by die bundeltjie gevoeg. In sy versamelde gedigte, Alle gedichten tot gisteren (De Bezige Bij, 2004), is dié bundel opgeneem onder die tierlantyntjielose titel Tijd.

Hierdie reeks sonnette wat klokslag weekliks deur Komrij afgelewer moes word, is ’n merkwaardige prestasie – veral ook as die volgehoue hoogstaande kwaliteit van die verse in ag geneem word. As voorbeeld van wat dié bundel bied, bespreek ek die openingsvers.

 

Hogedruk

 

Trek een fictieve lijn. Daar ligt je doel.

Toch blijft de wet van Zeno en de slak

(Of schilpad?) gelden. Streep op je gevoel

Een finish aan, vertrek op je gemak,

 

Denkend: ik heb de route in mijn zak

– De eindstreep haal ik op de juiste tijd,

Mijn hele reis gaat van een leien dak –

Maar dan bega je toch een stommiteit.

 

Hoe dichter in de buurt van de limiet,

Hoe moeilijker het doel lijkt te bereiken.

Zelfs als het bijna voor het grijpen ligt,

 

Tot op de millimeter – het blijft wijken.

De afstand perst zich samen. Dat gebied

Van tegenstrevend niets heet een gedicht.

 

Zeno van Elea uit die 5de eeu voor Christus is bekend vir die vernuftige paradokse wat hy bedink het. Die bekendse een is dié van Achilles en die skilpad waarmee hy wou bewys dat beweging – die aflê van ’n afstand – ’n illusie is. Die skilpad daag Achilles, die atletiese Griekse held van Homeros se Ilias, uit tot ’n wedloop. Maar Achilles moet hom ’n voorsprong van tien meter gee, dan sal hy (die skilpad) wen. Achilles lag hom uit, want hy sal hom waarskynlik baie gou inhaal. Tog moet hy ná die skilpad se uitleg die wedloop gewonne gee. Die argument verloop soos volg: Wanneer Achilles die skilpad ná tien meter inhaal, het die uitdager reeds ’n ent – sê maar een meter – aanbeweeg. Wanneer Achilles daardie meter afgelê het, is die skilpad al weer ’n entjie verder. En so word die afstand tussen die twee al hoe kleiner en die desimale al hoe groter tot in die oneindige. Op dié manier sal dit vir Achilles onmoontlik wees om die wedloop te wen.

Komrij maak hierdie paradoks van toepassing op die mens se lewensreis, met die eindstreep ’n fiktiewe lyn. Dit is fiktief omdat niemand werklik die bereiking van sy lewensdoelwitte en ten slotte sy eie sterfdatum kan bepaal nie. Die lewe én die dood lê buite sy beheer. Die mens vertrek vol selfvertroue op hierdie reis, want hy het die roetekaart – ’n stel oorgelewerde lewensreëls – in sy sak. Hy is só gerus dat hy hom sus met ’n bekende, huislike idioom: “Mijn hele reis gaat van een leien dak.” Dit sal dus moeiteloos verloop.

Maar net soos Achilles nooit die skilpad kan inhaal nie, net so min sal die mens sy selfbepaalde doelwitte bereik. Dit staan in die sekstet van hierdie Italiaanse sonnet. Die mens bevind hom in ’n gebied van “tegenstrevend niets” – die onoorwinlike, ongrypbare, steeds ontwykende teenstander.

Dit is veelseggend dat Komrij sy jaarlange skryfprojek met hierdie gedig van die onhaalbare afskop. Dit lyk asof hy by voorbaat twyfel aan sy vermoë om dit suksesvol te voltooi. Gelukkig het hy homself triomfantelik ná twee-en-vyftig weke verkeerd bewys. Dat hy inderdaad die skryfambag in gedagte gehad het, blyk duidelik uit die slotreëls:  “Dat gebied / Van tegenstrevend niets heet een gedicht.” Die gedig self verset hom tot die bitter einde teen sy maker.

Die tema van die digkuns word – retrospektief – op ’n onopvallende wyse reeds vroeër ingevoer, met die idioom “van een leien dak gaan”. Leiklip word nie net as dakteëls gebruik nie, maar in die ou dae het skoolkinders ook met ’n griffel en lei leer skryf. Die slotwoord van die sonnet (“gedicht”), klink al op in strofe 3: “Hoe dichter in de buurt van de limiet, / Hoe moeilijker het doel lijkt te bereiken.” Hoe digter die digter aan die veertiende reël van die sonnet kom, hoe moeiliker bereikbaar lyk dit.

En die titel “Hogedruk”? Dit hou sekerlik verband met die hoë (atmosferiese) druk wat ontstaan weens die saamgeperste afstand wat in reël 13 gesinjaleer word. Maar dit kan ook ’n drukkersterm wees. Die HAT (derde uitgawe, 1994) beskryf dit soos volg: “Drukmetode waarby die beeld wat afgedruk moet word, hoër lê as die res van die oppervlak van die drukvorm, sodat net die beeld beïnk en afgedruk kan word. Onderskei van diep- en vlakdruk.” En met dié betekenismoontlikheid betrek Komrij ook die drukkuns – die uiteindelike bestemming van sy digpogings. Nie verniet nie staan die woord “perst” lewensgroot daar in reël 13: “De afstand perst zich samen.” Byna elke woord in hierdie gedig roep ’n ander op – die gedig as ’n eggoput.

Om tot Zeno en sy skilpad terug te keer. Waarom skryf Komrij in reël 2 “de wet van Zeno en de slak”? Eers in die volgende reël word die moontlikheid van ’n skilpad geopper. Die antwoord het myns insiens ook met die skryfambag te doen. Die woord “schildpad” is weens die onbeklemtoonde slotlettergreep onbruikbaar as rymwoord. Daarom kies die digter vir die eenlettergrepige slak, wat ook ’n stadigbewegende dier soos sy viervoetige dopgenoot is. Daardie “slak” bied terselfdertyd aan hom drie rymwoorde: gemak, zak en dak.

Komrij het waarskynlik besef dat die vervanging van “schildpad” met “slak” ’n gewaagde maneuver is en regverdig dit deur in sy tweede sonnet (“Onsterfelijkheid”) weer ’n slak sy verskyning te laat maak. Grappig genoeg moet dié slak dan onmiddellik plek maak vir ’n kreef met sy kreeftegang wat lei tot ’n “omgekeerde reis”. Só lui die eerste strofe:

 

Stel dat je wilt ontsnappen aan de tijd

– Dat vale spook dat alles tóch al heeft –

En niet een slak wil zijn. Aanvaard de strijd

Met de finale gongslag dan als kreeft.

 

Komrij is die slak ten slotte tog genadig. In die twee-en-vyftigste sonnet (“Vitesse” oftewel “Snelheid”) word daar op ’n paradoksale wyse – eggo’s van Zeno – van die mens se “slakkenspoor” deur die twintigste eeu gepraat. Die slak kry inderdaad die laaste sê in hierdie bundel, nadat hy vir ’n oomblik nog eers met haastige, vinnig aantelende konyne gekontrasteer is:

 

Door helden na te rennen en in koor

Hun holle kreten te beamen, door

Katoen en ohropax te dragen in het oor,

Door al wat hulpeloos is omnivoor

 

Tot moes te stampen, als een meteoor

Op de aarde in te slaan, met gas en chloor

Elkaar te lijf te gaan, per kruisverhoor

Te treiteren, te martelen, aldoor –

 

Door in een ijltempo de vlaggenstok

Te hijsen voor de grootste kletsmajoor,

Met om z’n pols een dolgedraaide klok,

 

Door met de vaart van een konijnenhok

Te zorgen voor kanonnenvoer, zo trok

De mens in deze eeuw zijn slakkenspoor.

 

Die haas onkeerbare voortstroming van die enkele sin in hierdie gedig kom uiteindelik tot stilstand in die slak se spoor.

 

Daniel Hugo

20 Maart 2023

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Digtersprofiel. Daniel Hugo
Daniel Hugo. Herman van den Bergh en die weefwerk van intertekste →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • bevan boggenpoel. winter
  • Willem de Swyger. Ou Steenmaker
  • Krige Visser. olie op die vier
  • Miel Vanstreels. Terug
  • Elisma van Zyl. Tydloos

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d