Graweelsteen
Ons grootste digteres
verwys tydens ’n internisbesoek
na haar “nederige niere”
Opperman vergelyk sy urien
met “bruin boontjiesop”
na vergiftiging deur oksitetrasiklien
in een van sy beskonke verse
spog die spreker:
“ek sjê: ek vang vyf pisje”.
Tog vind ek nêrens ’n gedig
oor klipgeboorte
en die skerphoekige klont
in my delikate ureter
brakend
snak ek deur die kontraksies
horende doof vir die verpleër
se stomme vraag oor ’n skaal
van een tot tien
dié pyn lê ver bó die verstand
my geswets ver ónder die belt
geen epiduraal of keisersnee
geen breekwater
net stinkwater
tot barstens toe vol.
Wat ’n vriend het ek in dokter Neels
met sy fyndraad en mandjie
Wonderwerker van Water
Visser van Stene
gryp hy die satanster vernuftig vas,
máár dit was aand en dit was môre
die eerste pis
in pouses
ná die vangs
bloedwater kook deur my varkstertstent
uit my meatus
slaan ek vyf stukkies paddavisse af.
© Neil Cochrane, 2023