Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
27 March 202329 March 2023

Daniel Hugo. Hessels – digter tussen twee wêrelde

 

’n Besondere eer het die digter W. Hessels te beurt geval. Gerrit Komrij het hom opgeneem in twee van sy bloemlesings: De Nederlandse poëzie van de 19de en 20ste eeuw in 1000 en enige gedichten (1979) én in De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten (1999). Albei bloemlesings is deur Bert Bakker in Amsterdam uitgegee. Volgens die bloemleser hoort Wessels dus by twee letterkundes.

Komrij reken alle Afrikaanse digters saam met Nederlandstalige digters wat in Suid-Afrika gepubliseer is tot die Afrikaanse literêre sisteem. Andersom klaarblyklik nie. Elisabeth Eybers, wat in Suid-Afrika én Nederland uitgegee is en wat die pestigeryke Nederlandse P.C. Hooft-prys gekry het, staan slegs in sy Afrikaanse bloemlesing.

Hessels se versamelde gedigte, Con sordino, is in 1949 deur drie samewerkende uitgewers gepubliseer. In Nederland was dit Daamen N.V. en A.A.M. Stols van ’s-Gravenhage, en in Suid-Afrika Constantia van Johannesburg.

Van Hessels het Komrij twee gedigte in De Afrikaanse poëzie opgeneem – in Nederlands, hoewel Hessels ook enkele verse in Afrikaans geskryf het – en in De Nederlandse poëzie staan drie gedigte. Die twee in die Afrikaanse bloemlesing is beide in Suid-Afrika gesitueer: “Afrikaanse tuin” en “Afrikaans landschap”. (“Afrikaanse” en “Afrikaans” beteken “van Afrika”.) In die eerste uitgawe van die Nederlandse bloemlesing het Hessels se gedigte ’n Lae Landse milieu. In latere “herziene en vermeerderde” drukke is een van die drie (“Theetuin”) vervang met “Afrikaans landschap”.

Wie was W. Hessels? Dit is die digtersnaam vir H.A. (Hendrik Adolph) Mulder. Hy is in 1906 in Nederland gebore en het in 1934 na die warm en droë Suid-Afrika geëmigreer weens longtuberkulose. Hy het in Pretoria gestudeer en later aan die Rhodes Universiteit in Grahamstad Nederlandse letterkunde gedoseer, waar hy in 1949 op 42-jarige ouderdom oorlede is. Mulder het ’n gerespekteerde posisie verwerf as resensent en literator – veral as poësiekritikus, bekendsteller van die tydgenootlike Nederlandse digkuns in Suid-Afrika en voorstander van die Dertigers.

Saam met N.P.van Wyk Louw en W.E.G. Louw rig hy in 1945 die kultuurtydskrif Standpunte op. Ná sy dood het D.J. Opperman in Standpunte (Oktober 1949) Mulder die literêre kritikus gehuldig as “een van die fynste wat ons ooit gehad het”. Daar het drie bundels opstelle van hom in Afrikaans verskyn: Opstelle oor poësie (1939), Twee wêrelde, opstelle oor Afrikaanse en Nederlandse letterkunde (1942) en Laaste opstelle, versorg deur D.J. Opperman (1961).

Mulder was natuurlik ook ’n digter van wie daar vyf digbundels in Nederland die lig gesien het vóór sy versamelde verse in Nederland en Suid-Afrika verskyn het. Dié bundels is: Bevrijdingen (1931), Windstilte (1934), Het randgebied (1937), Wit en rood (1938) en Rekenschap (1944).

Gerrit Kamphuis, ’n goeie vriend van Mulder, sê in ’n biografiese artikel in die Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde (1970): “Mulder was in vele opzichten een man van het ‘randgebied’, van ‘overgangen’, van ‘twee werelden’. Levend in de ene voelde hij een heimwee, een verlangen naar de andere. Toch kon hij mede daardoor juist een bemiddelaar zijn tussen Nederland en Zuid-Afrika, ook als docent en in zijn journalistieke werk.”

Sy posisie as buitestaander en “balling” vind ook neerslag in sy poësie. In Nederland het sy siekte hom vir lang tye afgesonder van sy medemens en in Suid-Afrika moes hy hard werk om deel te word van ’n vreemde samelewing, ’n nuwe kultuur en taalgebied. Hy moes ook gewoond raak aan die Suid-Afrikaanse klimaat en ongenaakbare natuur wat so drasties verskil van die waterryke en milde Nederland. En net toe hy ingeburger raak, sterf hy. Hy was wel deurentyd bewus daarvan dat hy terminaal siek is. Inderwaarheid was hy lewenslank ’n randfiguur.

Die gevoel van vervreemding is baie duidelik uit “Afrikaans landschap” wat volgens die datumaanduidings in Con sordino geskryf is in die tydperk kort ná sy aankoms in Suid-Afrika (1934-1940). Dié gedig staan in beide Komrij se bloemlesings:

 

Soms schijnt het mij of dit verklaarde landschap,

dat niets te raden overlaat,

zo zwart op wit en zonder hartsverwantschap,

slechts in mijn blik bestaat:

 

een droom die angstig buiten mij verstarde,

waarin ’k als een krankzin’ge ben verdwaald,

vrezend dat ieder ogenblik het held’re harde

uitzicht als een décor wordt opgehaald.

 

Dit is duidelik waarom hierdie gedig so tot Komrij gespreek het. Dit eggo in ’n groot mate Komrij se eie poëtiese visie: die werklikheid is net skyn, dit gaan skuil agter ’n masker; wat ons sien, is oëverblindery; die waarneembare wêreld is slegs dekor. Die wêreld is daarom angsaanjaend, laat voel jou verlore en kan ’n mens kranksinnig maak.

Mulder/Hessels se ontuisheid in Suid-Afrika en sy hunkering na Nederland ontaard in ’n vroeë stadium van sy verblyf in haat teenoor “deze rode grond die ik niet ken”. Dit staan in die besonder sterk gedig “Het vreemde graf”.

 

Wanneer ik dood ben, zal men mij begraven

in deze rode grond die ik niet ken;

daar lig ik als een schip in vreemde haven

in een vreemd graf waar ik verbannen ben.

 

Er groeit een dorenstruik met harde blaren,

het gele gras brandt in de felle zon.

Er is een onrust die niet wil bedaren

in ’t land dat golft tot aan den horizon.

 

Maar in die aarde kan ik niet verteren,

wij moeten elkaar haten voor altijd,

want eeuwig, eeuwig zal ik er ontberen

de zoete schoot die mij ginds was bereid:

 

waar gras en zachte bloemen helder bloeien

en wuiven in de lichte voorjaarswind

en in het geheimzinnig donker groeien

het lichaam langzaam en gedwee ontbindt;

 

waar suizelt de muziek der regennachten

zo teder als een eeuw’ge moederstem:

daar, dicht bij zee, onder de wolkenluchten,

met rosse dennen en de reuk van brem …

 

Maar in deze aarde kan ik niet verteren,

wij moeten elkaar haten voor altijd,

want eeuwig, eeuwig zal ik er ontberen

de zoete schoot die mij ginds was bereid.

 

Die Suid-Afrikaanse natuur met sy doringstruike en fel son word gekontrasteer met Nederland se “zachte bloemen” en “lichte voorjaarswind”. Vir hom is die aarde daar ’n moederskoot waarheen hy ná sy dood wil terugkeer, maar dit is hom nie gegun nie. Die rooi grond waarin hy begrawe gaan word, is hom vyandiggesind – in só ’n mate dat dit nie sy lyk wil verteer nie (strofes 3 en 6). Daarteenoor sou sy liggaam in Nederland “gedwee ontbindt”. Dit is sy eintlike hawe, “dicht bij zee”. Selfs al golf die landskap in Suid-Afrika soos die see “tot aan den horizon”, is dit oëverblindery. Pretoria en Grahamstad is verder van die see as enige plek in Nederland. Die digter se bitter gevolgtrekking is dat hy en die rooi grond mekaar vir ewig moet haat. Dit is ’n felle uitspraak wat in die slot as ’n refrein herhaal word.

Die sentiment in hierdie gedig is presies die teenoorgestelde van Hessels se eweneens vroeggestorwe tydgenoot Slauerhoff (1898-1936): “In Nederland wil ik niet sterven, / En in de natte grond bederven” (“In Nederland”). Die skeepsarts Slauerhoff het sy geboortegrond verpes; Hessels haat (aanvanklik) Suid-Afrika en verlang terug na sy geboorteland waar “onder de wolkenluchten” die musiek van reënnagte hoorbaar is. Hoe natter hoe beter vir hom. Maar ironies genoeg is dit juis daardie vogtigheid wat hom uit Nederland verdryf het.

’n Later gedig uit die tydperk 1940 tot 1948, “Moment”, getuig egter van berusting en aanvaarding, nie net ten opsigte van sy siekte en die dood nie maar ook van die Suid-Afrikaanse mense en bodemgesteldheid.

 

’k Hoor stemmen buiten; zwarte vrouwen lopen

in kleurige doeken over’t rode gruis;

boven hen in ’t blauw, morgenlijk open,

zoemt er een vliegtuig; wind waait om ’t huis.

 

Op eenmaal  zie en hoor ek als genezen

dit alles, voor het eerst of laatst; ’t is vreemd:

dat ik hier bèn en straks niet meer zal wezen

en toch de angst mij den adem nie beneemt.

 

Die gehate “rode grond die ik niet ken” (“Het vreemde graf”) kry nou ’n positiewe lading: die “rode gruis” word geassosieer met swart vroue se “kleurige doeken”. Die “moederstem” van die reëngeluid wat hom teruggeroep het na Nederland, word hier vervang deur die inheemse vrouestemme. Daar waai ’n wind om sy huis, maar dit laat hom klaarblyklik nie meer verlang na die “lichte voorjaarswind” van Nederland nie, net so min as die oop blou oggendlug hom herinner aan die “regennachten” en “wolkenluchten”. Die skip waarmee hy in 1934 in Kaapstad, (letterlik ’n “vreemde haven”), geland het, word verplaas deur ’n vliegtuig wat hom sou kon terugneem. Maar hy kyk nie eens op nie, hy hoor dit net zoem.

Die angs wat die digter in “Afrikaans landschap” oorweldig het, is nou (vir ’n oomblik ten minste) weg. Hy kan rustig asemhaal – tot die dood hom binnekort (“straks”) van sy asem sal beroof.

 

Daniel Hugo

 

 

 

 

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Daniel Hugo. Herman van den Bergh en die weefwerk van intertekste
Yves T’Sjoen. Facettenoog van Gerrit Komrij →

1e kommentaar op “Daniel Hugo. Hessels – digter tussen twee wêrelde”

  1. Bernard Odendaal says:
    29 March 2023 at 10:16

    Baie interessant. Dankie!

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • bevan boggenpoel. winter
  • Willem de Swyger. Ou Steenmaker
  • Krige Visser. olie op die vier
  • Miel Vanstreels. Terug
  • Elisma van Zyl. Tydloos

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d