Die lys is lank: Grey’s Anatomy, The Good Doctor, Chicago Med, New Amsterdam, The Resident, Binnelanders, ER, St. Elsewhere, Scrubs…Sedert die heel eerste mediese televisiedrama in 1951 gebeeldsend is, was dit duidelik hierdie genre is ’n wegholsukses. Dus, waarom is mediese dramas, wat kykers slaafs volg, so gewild?
Die eerste rede is voyeurisme. Die waarheid is dat die mens daarvan hou om na bloed, derms, plasentas, retinas en ander morsige stukke menslike anatomie te kyk. Kykers het ’n inherente fassinasie met die fisiologie wat ónder die vel skuil. Tot ’n eeu of wat gelede het ons nog nie veel geweet van die werking van die menslike liggaam nie. Tog – interessant genoeg verbeter die kyk van mediese dramas nie werklik kykers se kennis van mediese aangeleenthede nie.
Die tweede rede is die behoud van die integriteit van die menslike liggaam. Sedert die antieke tye is dokters gesien as sjamaans, genesers en towenaars. Die mediese professie word waarskynlik meer as enige ander beroep op ’n troontjie geplaas. Dokters red lewens. Hierdie mediese mistiek van eons gelede is steeds met ons. Met moderne tegnologie het die uitbeelding van byvoorbeeld operasies net méér grafies en werklikheidsgetrou geword. Die misteries van die menslike liggaam word nou op die veilige afstand van ’n skerm bewonder en verafsku. Wanneer mens ingaan op die beskrywing van mediese dramas, dan vind mens by heelwat van hierdie reekse eksposisie-inligting wat die kyker herinner dat die drama toeganklik is vir “gewone mense”. Met ander woorde: in ’n hospitaaldrama word die (voorheen geslote) Sanhedrin van die mediese wetenskap nou vir gewone mense oopgegooi om na te kyk. Hierdie agtergrondinligting is inderdaad vreemd, want in bitter min reekse waarin wetenskaplikes, tegnoloë, ruimtevaarders of enige ander spesialiteitsprofessie se doen en late belig word, word daar na die toeganklikheid vir gewone mense verwys. Nie eens Carl Sagan se dokumentêre oor astrofisika bevat so gawe “insluiting”, wat inderwaarheid op ’n meerderwaardige uitsluiting gebaseer is nie. Dokters word gesien as die wonderwerkers wat soos gode oor die liminale grense van lewe en dood beweeg.
Die derde rede is die noodsaak van katarsis. Volgens Aristoteles behels goeie drama ’n loutering tussen die sterflinge en gode wat as leerskool vir die lewe dien, en wat is beter as die spitsgedrewe omgewing van ’n hospitaal met sy trauma, drama en seks tussen die personeel (om af te koel?) Die dokters is nou gode; en die res, gewone sterflinge. Maar té dikwels ontaard mediese dramas in die alledaagsheid van hospitaal-seepopera met mediese personeel wat rondkuier in die hospitaalgange en -kafeterias. Hulle persoonlike liefdesintriges en ander konflik neem, ironies, disproporsioneel baie tyd in beslag in verhouding tot hulle veeleisende loopbane. Hierdie verglansde hospitaalomgewing is by tye onrealisties: daar is byvoorbeeld geen probleme met mediese fondse nie. Die bekende elkedagboemelaar lê knus opgeryg teen die hospitaalkussings, privaathospitaal de lux. En hierdie spitsgedrewe omgewing van die mediese wêreld à la Aristoteles skep natuurlik ’n heerlike dampkring vir vérdere drama: maatskaplike probleme, armoede, gesinsgeweld, misdaad, donker huishoudelike euwels … Maar dan is daar mediese dramas soos The Resident wat kaalvuis die problematiek rondom mediese versekering, die geregtelike aspekte rakende weefsel- en orgaanskenking, hospitale se aankoop en gebruik van gevorderde mediese toeps, en die behandeling van immigrante takel – en die mediese bedryf ontbloot as ’n sisteem wat woeker as ’n meedoënlose kapitalistiese stelsel. Hospitale is daar om geld te maak; en pasiënte is bloot kommoditeite binne hierdie produksielyn.
Die vierde rede waarom hospitaaldramas so gewild is, speel waarskynlik uit in Mark Seltzer (1997) se beskouing rondom die sogenaamde “wound culture”, of wondkultuur. Seltzer se wondkultuur beskryf ’n kollektief, soos byvoorbeeld ’n samelewing of die kykerskorps van ’n betrokke hospitaaldrama se fassinasie en sensasie met beseerde, siek of oopgeskeurde liggame. Geweld, dood en misdaad soos reeksmoord wek outotropiese gedrag by hierdie individue waarin die wondtema herhaal word: almal is op die een of ander wyse verwond en almal dra nou hulle letsels soos eremedaljes. Die samedromming rondom wonde of beskadigde liggame skep ’n infleksiepunt tussen private en publieke verwonding en tussen die Self en die Ander. ’n Mens dink byvoorbeeld aan ’n toename in misdaadreekse, veral met reeksmoord as tema, en mediese dramas waarin trauma, skok en geweld voorop gestel word. Die woord “trauma” in Grieks beteken dan ook “wond”:
“…still it seems people could not be more fascinated when it comes to seeing what could be under their skin. This is closely connected to the social trend which Mark Seltzer calls “wound culture,” the “public fascination with torn and open bodies and torn and opened persons, a collective gathering around shock, trauma, and the wound” (Seltzer 1997:3). In his study entitled “Wound Culture: Trauma in the Pathological Public Sphere,” he understands the trauma and the wound as switch points, or a collapse between public and private, between the self and the other, which definitely opens the topic up for further investigation. The question of the links between the psyche and the body is re-emerging, body modifications and physical violence become objects of serious inquiries. Wound culture is extremely rich in pop culture phenomena focused on the opened up body…”
Na alle waarskynlikheid eggo Seltzer met hierdie invalshoek Aristoteles se antieke beskouing rondom die noodsaak van katarsis. In die vroeë 1990’s het filmvervaardigers soos Quentin Tarantino bekendheid verwerf vir sy baanbrekerswerk in filmkuns genaamd die estetika van geweld waarin bloed, vuurwapens en ander gedetailleerde uitbeelding van grafiese geweld, vergesel van donker humor en onsingesprekke (oor trivialiteite soos kitskos) die botoon voer. Tarantino lewer wrang en sardoniese sosiale kommentaar oor die broosheid en die absurde sinloosheid van die lewe. Die werklikheidsgetrouheid in die kinematografie van geweld het intussen oorgegaan in ’n hiperrealiteit van die wondkultuur – die grense tussen die reële en fiktiewe begin vervaag. In hospitaaldramas word daar gebruik gemaak van regte teatersusters of sjirurge – al is dit bloot kameraskote van hulle hande wat sjirurgiese apparaat aangee, of selfs opereer.
Een van die bekendste televisiehospitaaldramas, Grey’s Anatomy (2005–hede), is inderwaarheid ’n inspeling op die bekende mediese anatomiehandboek, Gray’s Anatomy, geskryf deur Henry Gray en wat vir die eerste maal gepubliseer is in 1858. Hierdie handboek, wat ook bekendstaan as die “dokter se bybel” het in 2020 sy 42ste herdruk beleef. Vorige weergawes van hierdie werk was onder meer getitel Anatomy: Descriptive and Surgical, Anatomy of the Human Body en Gray’s Anatomy: Descriptive and Applied, maar die boek se naam het mettertyd verander en is verkort na Gray’s Anatomy. Binne die populêre kultuur van die dag aktiveer die begrip, “Gray’s/Grey’s Anatomy” met ander woorde ’n mediese metafoor, soos dit afgestem is op ’n ikoniese mediese werk uit die mid-1800’s. Gray’s Anatomy maak onder meer ’n verskyning in Dan Brown se roman, Inferno, waar Sienna Brooks die hele 1600 bladsye van hierdie handboek lees. Ook in The Adventures of Tom Sawyer van Mark Twain word daar gesinspeel op hierdie werk. Die bekendste verwysing na Gray’s Anatomy is waarskynlik in die TV-reeks, The Good Doctor waarin die Asperger-Savant, dr Shaun Murphy op skouspelagtige en briljante wyse grafiese voorstellings uit die handboek in sy geestesoog herroep.
In die voorwoord van Gray’s Anatomy (die 42ste weergawe) stel die samestellers die belangrikheid van hierdie werk en sy lang en trotse publikasierekord só: “Neither Gray nor Carter, the young men who – by their committed hard work between 1856 and 1858 – created the original Gray’s Anatomy, would have conceived that so many years after their deaths their book would not only be a household name, but also be regarded as a work of such pre-eminent importance that a novelist half a world away would rank it as cardinal – alongside the Bible and Shakespeare – to a doctor’s education” (p. 16).
Hierdie mediese werk met sy populêre parodieë doen inderdaad ’n beroep op ’n dubbellensfokalisator wat ook die moderne mediese hiperrealiteit betrek, soos die onderstaande gedig van die Amerikaanse digter, Brendan Galvin aantoon.
Fear of Gray’s Anatomy
I will not look in it again.
There the heart in section is a gas mask,
its windows gone, its hoses severed.
The spinal cord is a zipper
& the lower digestive tract
has been squeezed from a tube like toothpaste.
All my life I had hoped someday to own
at least myself, only to find I am
Flood’s ligaments, the areola of Mamma,
& zonule of Zinn. Ruffini’s endings
end in me, & the band of Gennari lies near
the island of Reil. Though I am a geography
greater than even I surmised, containing as I do
spaces & systems, promontories & at least
one reservoir, pits, tunnels, crescents,
demilunes & a daughter star, how can I celebrate
my incomplete fissures, my hippocampus &
inferior mental processes, my depressions
& internal extremities? I encompass also
ploughshare & gladiolus, iris & wing,
& the bird’s nest of my cerebellum,
yet wherever I go I bear the crypts of Lieberkühn,
& among the possible malfunctionaries,
floating ribs & wandering cells, Pott’s fracture,
mottles, abductors, lachrymal bones & aberrant ducts.
I will ask my wife to knot a jacket for this book,
& pretend it’s a brick doorstop.
I will not open Gray’s Anatomy again. (p. 38)
Brendan Galvin. Poetry in Medicine: An Anthology of Poems About Doctors, Patients, Illness and Healing, p. 38
Verwysings:
A fat slice of wound culture. 25 September 1998. Mail & Guardian. https://mg.co.za/article/1998-09-25-a-fat-slice-of-wound-culture/?fbclid=IwAR2I4l8kyEEzVgfi0rZLkDzJX6C397bjiyoSoaSS7ZudkxFSzBLaNZ51HDA (4 April 2023 geraadpleeg)
Aboud, A.K. Januarie 2012. Medical dramas – the pros and the cons. Dermatol Pract Concept. 2(1): 75–77. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC3997251/?fbclid=IwAR0qAs8tsmNrUqdhBBi077iTD7kcJS0kMUAK1rAAVKXWED-n8_M0i5s1vk8
(3 April 2023 geraadpleeg)
Bailey RCL. Why Are People So Obsessed With Medical Dramas? 13 October 2016. https://sites.psu.edu/baileyrcl/2016/10/13/why-are-people-so-obsessed-with-medical-dramas/?fbclid=IwAR2z376BTk0XsJUTv4v4VLjO6m2KrPNCAOL9RPaPZsFgZ0sOm3lhwswmDFk (2 April 2023 geraadpleeg)
Salcman, M. (red.) 2015. Poetry in Medicine: An Anthology of Poems About Doctors, Patients, Illness and Healing. New York: Persea Books.
Seltzer, M. October 1997. Wound Culture: Trauma in the Pathological Public Sphere. The MIT Press. Vol 80: 3 – 26.
Somerset, D. 21 Augustus 2012. Cultbox. What Is It about Medical Dramas That Makes Them So Popular? https://cultbox.co.uk/general/what-is-it-about-medical-dramas-that-makes-them-so-popular?fbclid=IwAR1CdbFCgu0eeYR3KzBeKWIOgaiLRT7euN-Vf2mr-PVr7jn8nAG0P4f9BPY
(4 April 2023 geraadpleeg)
Standring, S. 2020. Gray’s Anatomy: The Anatomical Basis of Clinical Practice. 42ste uitgawe. New York: Elsevier.