I
Die slot van ‘n gedig. Closure. Sluiting. ‘n Mens dink aan Frank Kermode se bakenteks: A Sense of an Ending.
Slotreëls, soos titel en ‘n gedig se staning binne bundelverband, kan die gedig se betekenis vermenigvuldig.
N.P. van Wyk Louw dig:
“slotreëls is altyd sleutels meer as slotte:”
Gedig XIV b
Uit: Tristia (1962/1975)
En goeie digters weet dat ‘n knalslot ook vermy moet word. Net soos rymdwang of digters wat dink as hulle 80 rymwoorde in een bundel verpak, het hulle die digkuns onder die knie.
II
Die emmer
Hy het geen
nut meer nie.
Hy roes in stilte
iewers in die veld
met sy bek oop
in die son.
Elke aand dou die maan
en insekte in sy swart keel.
Die mense het hom vergeet.
Hy is gelukkig.
In sy hol pantser
skuil diertjies
teen jagters en die weer.
Soms hardloop hy
windskeef oor die gras.
As dit hael of reën
sing hy dof saam
uit sy bruin ribbekas.
Die mense hoor hom nie.
Hulle rus.
Hy slaap sy roes af.
© Johann de Lange. Uit: Akwarelle van die dors. 1982.
Ons vind hier personifikasie, maar veral die slot “hy slaap sy roes af” verwys terug na die emmer wat letterlik verroes is.
‘n Slim slot want ander moontlikhede is nie gebruik nie:
Wingerdgriep. ’n Babelaas. ’n Hangoortjie. Jou hare is seer …
Om jou roes af te slaap, beteken letterlik jy het te veel gedrink. (Boonop word die bundeltitel ook verder gelaai met moontlikhede …)
III
De Lange skryf die volgende vers in sy bundel uit 2009 Die algebra van nood:
Slot
“My naam is Einde,” praat sy
in my binneoor.
“Daar is een by wie ek
vanaand wil lê,
maar die ouvrou sal my hoor;
sy luister vir die deur of hek.
Daar’s ’n katjiepieringkrans
om haar bed, die gordyne toegetrek.”
Ek groet want ek moet my haas
áf in die skemer straat
van posbus na posbus soek
na die kladboek
waarin ek geskryf het van ’n straat,
‘n vrou, ’n krans.
Ek soek in die falende lig
na die slot van my gedig.
‘n Ars poetica en die soeke na die sluitende slot.
Die Ouvrou is waarskynlik Cussons. In dieselfde bundel staan die volgende vers:
Laaste bieg
vir Sheila
1
In ’n droom lê jy nadoods
pasgebore op ’n enkelbed.
Op die nagtafel ’n kalfsleer-
notaboek waarin jy vir oulaas
nog invalletjies noteer.
Flets in jou kamerjas
wil jy my waarsku,
’n laaste keer genaak: wie luister
na die duiwel se gelag
sien later nie meer die duiwel ráák.
2
Vasgevang soos ’n vlieg
in die dood se goue amber-
stroop lê die woorde
van jou laaste bieg gedoop.
So gelees, is hierdie vers die sluiting van “Slot”.
In Tristia staan hierdie vers opgeteken:
XXXV
Ringmure wit om wingerde
ons hart bly soos ‘n ring gesluit
maar oop en buite bakens is die pyn
En omdat die vers geen punt (.) het nie, bly dit oop.
In Louw se “Ex unguine Leonem” sluit die vers:
Iets staan in sterre-en-helderte geskryf;
en ek skryf ná in stof.
Endryme word op Engels “tail rhyme” of “terminal rhyme”.
Jare gelede by die skryf van Lykdigte (Tafelberg, 2000) sit ek in my uitgewer Charles Fryer se kantoor.
‘n Gedig klink toe as volg:
Ek wou nog vra:
“Wie het die een oog van Nefertiti uitgekrap
sodat sy blind moes uitkom aan die ander kant?”
Dit is ‘n vers oor die dood van ‘n kollega, ‘n klassikus dood in ‘n motorongeluk. Sy het dikwels verwysings in Tristia vir my verduidelik.
“Die gedig is nie af nie. Die slot is daar. Skryf nou die vers klaar,” beveel Charles streng, puik digter en redakteur. Dis toe Tafelberg Uitgewers op die hoek van Waalstraat was.
Ek stap na die kantoor langsaan. Begin toe die vers van vooraf. Dikwels ontstaan ‘n vers by die slot wat alles opsom.
‘n Mens kan ook ‘n vers se slot eerste lees en dan die gedig beter begryp.
Vraag
Vir Margaret Rosabel Mezzabotta
Ontydig, voortydig jou vertrek
na ‘n ander onbekende oord.
Die siel, onthou ek vanoggend,
is soos ‘n wyn wat stadig moet verouder.
Iets glo soos bottelskok
as dit te gou ontkurk of geskink word.
Jy sou my dadelik kon reghelp:
dit staan in die Egiptiese Boek van die Dood.
Om jou dood te begryp
Is ‘n hiëroglief onontsyferbaar
in ‘n donker gang onbegaanbaar.
Die dood keer woordordes om,
dit laat ons terugkyk, onthou, selfs gryp
na klein momente van die toeval –
soos hoe ek eenmaal jou bril skoongemaak
het, oor duister simbole met jou praat.
Vir hierdie lykwaak, groot gelykmaak,
is ek as digter onvoorbereid,
nee, eerder onbereid.
Die sogenaamde consolatio of vertroosting
van ‘n medium (Kyk, sy stuur ‘n roos)
of die flikker van ‘n kers
maak niks ongedaan nie. Wat beteken ontval.?
Dat jy te vinnig – na my sin –
paradyswaarts
moes gaan. Dat jou siel
oënskynlik sonder voorbereiding
weggeruk is. Dat rose verwelk,
kerse ophou flakker…
Ek wou nog vra:
“Wie het die een oog van Nefertiti uitgekrap
sodat sy blind moes uitkom aan die ander kant?”
In die Engelse vertaling heet die titel “Domanda” en titels is net so belangrik as slotte.
Dink aan uitstekende slotte in klassieke verse. Breytenbach se klassieke vers “Brief van hul vakansie”:
die soet hart van my moeder / my pa se stil en bitter krag
https://maroelamedia.co.za/afrikaans/gedigte/gedig-n-brief-van-hulle-vakansie/ Besoek 15 Julie 2023
Of Opperman se “Klara Majola”
maar nooit sal ek in die Bokkeveld
so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.
https://maroelamedia.co.za/afrikaans/gedigte/gedig-klara-majola/ Besoek 15 Julie 2023
Soms werk ‘n gedig ook met anti-closure, te wete ‘n onstabiele einde, ‘n gedig wat aansluit by ander verse, by die lewe …
Soos ons sien in die roman van Johann Rossouw wat Sluitstuk heet wat sopas by Umuzi verskyn het.
‘n Teks wat inspeel op Karel Schoeman, sy romans, sy lewe (en dood) en ‘n gevoelige student se gesprek met ‘n biograaf oor ‘n komplekse mentor-student-verhouding.
Wat ‘n roman wat alles vertel van closure/anti-closure.
Bronne:
Kermode, Frank. 1967. The Sense of an Ending: Studies in the Theory of Fiction. Londen: Oxford University Press.
– 1989. An Appetite for Poetry: Essays in Literary Interpretation (Londen: Fontana Press.
