Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
17 July 202324 July 2023

Joan Hambidge. Oor eindes, closure, anti-closure …

 

I

Die slot van ‘n gedig. Closure. Sluiting. ‘n Mens dink aan Frank Kermode se bakenteks: A Sense of an Ending.

Slotreëls, soos titel en ‘n gedig se staning binne bundelverband, kan die gedig se betekenis vermenigvuldig.

N.P. van Wyk Louw dig:

 

“slotreëls is altyd sleutels meer as slotte:”

Gedig XIV b

Uit: Tristia (1962/1975)

 

En goeie digters weet dat ‘n knalslot ook vermy moet word. Net soos rymdwang of digters wat dink as hulle 80 rymwoorde in een bundel verpak, het hulle die digkuns onder die knie.

 

II

Die emmer

 

 

Hy het geen

nut meer nie.

Hy roes in stilte

iewers in die veld

met sy bek oop

in die son.

 

Elke aand dou die maan

en insekte in sy swart keel.

Die mense het hom vergeet.

Hy is gelukkig.

 

In sy hol pantser

skuil diertjies

teen jagters en die weer.

 

Soms hardloop hy

windskeef oor die gras.

As dit hael of reën

sing hy dof saam

uit sy bruin ribbekas.

 

Die mense hoor hom nie.

Hulle rus.

Hy slaap sy roes af.

 

© Johann de Lange. Uit: Akwarelle van die dors. 1982.

 

Ons vind hier personifikasie, maar veral die slot “hy slaap sy roes af” verwys terug na die emmer wat letterlik verroes is.

‘n Slim slot want ander moontlikhede is nie gebruik nie:

Wingerdgriep. ’n Babelaas. ’n Hangoortjie. Jou hare is seer …

Om jou roes af te slaap, beteken letterlik jy het te veel gedrink. (Boonop word die bundeltitel ook verder gelaai met moontlikhede …)

III

De Lange skryf die volgende vers in sy bundel uit 2009 Die algebra van nood:

 

Slot

 

 

“My naam is Einde,” praat sy

in my binneoor.

 

“Daar is een by wie ek

vanaand wil lê,

 

maar die ouvrou sal my hoor;

sy luister vir die deur of hek.

 

Daar’s ’n katjiepieringkrans

om haar bed, die gordyne toegetrek.”

 

Ek groet want ek moet my haas

áf in die skemer straat

 

van posbus na posbus soek

na die kladboek

 

waarin ek geskryf het van ’n straat,

‘n vrou, ’n krans.

 

Ek soek in die falende lig

na die slot van my gedig.

 

‘n Ars poetica en die soeke na die sluitende slot.

Die Ouvrou is waarskynlik Cussons. In dieselfde bundel staan die volgende vers:

 

Laaste bieg

vir Sheila

 

 

1

In ’n droom lê jy nadoods

pasgebore op ’n enkelbed.

Op die nagtafel ’n kalfsleer-

notaboek waarin jy vir oulaas

nog invalletjies noteer.

Flets in jou kamerjas

wil jy my waarsku,

’n laaste keer genaak: wie luister

na die duiwel se gelag

sien later nie meer die duiwel ráák.

 

2

Vasgevang soos ’n vlieg

in die dood se goue amber-

stroop lê die woorde

van jou laaste bieg gedoop.

 

 

So gelees, is hierdie vers die sluiting van “Slot”.

 

 

In Tristia staan hierdie vers opgeteken:

 

XXXV

 

Ringmure wit om wingerde

ons hart bly soos ‘n ring gesluit

maar oop en buite bakens is die pyn

 

En omdat die vers geen punt (.) het nie, bly dit oop.

 

In Louw se “Ex unguine Leonem” sluit die vers:

 

Iets staan in sterre-en-helderte geskryf;

en ek skryf ná in stof.

 

Endryme word op Engels “tail rhyme” of “terminal rhyme”.

 

Jare gelede by die skryf van Lykdigte (Tafelberg, 2000) sit ek in my uitgewer Charles Fryer se kantoor.

‘n Gedig klink toe as volg:

 

Ek wou nog vra:

“Wie het die een oog van Nefertiti uitgekrap

sodat sy blind moes uitkom aan die ander kant?”

 

 

Dit is ‘n vers oor die dood van ‘n kollega, ‘n klassikus dood in ‘n motorongeluk. Sy het dikwels verwysings in Tristia vir my verduidelik.

“Die gedig is nie af nie. Die slot is daar. Skryf nou die vers klaar,” beveel Charles streng, puik digter en redakteur. Dis toe Tafelberg Uitgewers op die hoek van Waalstraat was.

Ek stap na die kantoor langsaan. Begin toe die vers van vooraf. Dikwels ontstaan ‘n vers by die slot wat alles opsom.

‘n Mens kan ook ‘n vers se slot eerste lees en dan die gedig beter begryp.

 

Vraag

Vir Margaret Rosabel Mezzabotta

 

Ontydig, voortydig jou vertrek

na ‘n ander onbekende oord.

Die siel, onthou ek vanoggend,

is soos ‘n wyn wat stadig moet verouder.

Iets glo soos bottelskok

as dit te gou ontkurk of geskink word.

Jy sou my dadelik kon reghelp:

dit staan in die Egiptiese Boek van die Dood.

Om jou dood te begryp

Is ‘n hiëroglief onontsyferbaar

in ‘n donker gang onbegaanbaar.

Die dood keer woordordes om,

dit laat ons terugkyk, onthou, selfs gryp

na klein momente van die toeval –

soos hoe ek eenmaal jou bril skoongemaak

het, oor duister simbole met jou praat.

Vir hierdie lykwaak, groot gelykmaak,

is ek as digter onvoorbereid,

nee, eerder onbereid.

Die sogenaamde consolatio of vertroosting

van ‘n medium (Kyk, sy stuur ‘n roos)

of die flikker van ‘n kers

maak niks ongedaan nie. Wat beteken ontval.?

Dat jy te vinnig – na my sin –

paradyswaarts

moes gaan. Dat jou siel

oënskynlik sonder voorbereiding

weggeruk is. Dat rose verwelk,

kerse ophou flakker…

Ek wou nog vra:

“Wie het die een oog van Nefertiti uitgekrap

sodat sy blind moes uitkom aan die ander kant?”

 

In die Engelse vertaling heet die titel “Domanda” en titels is net so belangrik as slotte.

Dink aan uitstekende slotte in klassieke verse. Breytenbach se klassieke vers “Brief van hul vakansie”:

 

die soet hart van my moeder / my pa se stil en bitter krag

https://maroelamedia.co.za/afrikaans/gedigte/gedig-n-brief-van-hulle-vakansie/  Besoek 15 Julie 2023

 

Of Opperman se “Klara Majola”

maar nooit sal ek in die Bokkeveld

so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.

https://maroelamedia.co.za/afrikaans/gedigte/gedig-klara-majola/ Besoek 15 Julie 2023

 

Soms werk ‘n gedig ook met anti-closure, te wete ‘n onstabiele einde, ‘n gedig wat aansluit by ander verse, by die lewe …

Soos ons sien in die roman van Johann Rossouw wat Sluitstuk heet wat sopas by Umuzi verskyn het.

‘n Teks wat inspeel op Karel Schoeman, sy romans, sy lewe (en dood) en ‘n gevoelige student se gesprek met ‘n biograaf oor ‘n komplekse mentor-student-verhouding.

Wat ‘n roman wat alles vertel van closure/anti-closure.

 

Bronne:

Kermode, Frank. 1967. The Sense of an Ending: Studies in the Theory of Fiction. Londen: Oxford University Press.

– 1989. An Appetite for Poetry:  Essays in Literary Interpretation (Londen: Fontana Press.

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Resensie: Freud and the Celestial Juggernaut (Iván Kovács)
Wilfred Jonckheere. Beeldspraak #2 →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d