
Resensie: Freud and the Celestial Juggernaut deur Iván Kovács. Naledi, 2023.
Resensent: Joan Hambidge
I
Die digter is in Hongarye gebore in 1949 en immigreer na Suid-Afrika in 1963. Hy is joernalis, kunskritikus en vertaler. En ook digter en prosaskrywer soos The Moonlight Sonata: A Collection of Stories, Novellas and Anecdotes.
‘n Bloemlesing van Hongaarse verse is eweneens deur hom saamgestel. Met ‘n bundel van sy eie in Hongaars.
Hy het N.P. van Wyk Louw se Raka vertaal van Afrikaans na Engels. Sy vertalings van Hongaarse verse is tersaaklik, soos die omdigtings van Attila József en György Faludy se Villon ballades.
Beyond the Veil is ‘n vorige versameling verse.
Die titel aktiveer die onbewuste (Freud) en die Onsienbare (Juggernaut). Hierdie twee opposisies rig die verse tussen verskillende afdelings. Die vertalings maak van die onbekende digters in ‘n nuwe taal iets sigbaars.
Freud se Droomboek is hier ‘n bronteks in die siening van die metafoor wat op twee vlakke funksioneer: die latente teenoor die manifeste aspek van die droom. Die latente dan is die onbewuste begeertes teenoor hoe dit uitspeel in drome met letterlike beelde.
In “Beperking” (67) word sy drome “gevleuelde komete” en “flitsende silwer vissies”.
Tog besef hy dat hy nog nooit sy eie gees van aangesig tot aangesig aanskou het nie.
Dit is ‘n sentrale vers wat uitwaaier rondom droom en die soeke na nirvana.
Die digter is bekend met die esoteriese en het twee boeke hieroor geskryf: The Path to Higher States of Consciousness en Pioneers of Tibet.
II
Ons vind in hierdie bundel vertalings uit Hongaars, vertalings van N.P. van Wyk Louw se “Vier gebede by jaargetye in die Boland”, gedigte in Engels en Afrikaans.
“Suide: Vanmelewe se dae” is aangrypend mooi:
In die suide is die see bottelgroen
en die son wat daal rooi waatlemoen.
Die sipresse maak hul tuiste teen opdraandes
van groen heuwels, die donker rotse
is getuies van hul eie duursaamheid.
(…)
Dan in die tweede strofe het die seevaarders hul hunkering by “ongedwonge of gedwonge vroue geles” en weer na die skip terug te keer na ‘n dieper verlange op die golwe …
Die gedig sluit met ‘n variasie van die openingstrofe: alles is steeds soos dit was met die rotse donker getuies van hul duursaamheid. (65)
Die slot van “Villon se dood” (63) is goed verwoord:
‘n Stroompie met eie klanke,
‘n eikeboom oud en groot,
‘n enkele ster tussen die takke:
g’n beter plek vir die dood.
III
Hongaarse digters soos Attila József, Endre Ady, Mihály Babits, Dezső Kosztolányi, Ărpád Tóth, György Sárközi is hier te lese in Engels saam met Goethe vertaal uit die Duits.
‘n Reeks vertalings wat wys op verskillende poëtikas tussen tale. Ongelukkig is hierdie leser onbekend met hierdie taal en kan nie werklik ‘n oordeel uitspreek nie. Dit word dus net gelees as gedigte in Engels. Die vertaling wat vergelyk moet word met die oorspronklike teks kan dus nie plaasvind nie. Is dit huis toe gebring of weggestuur?, in Venuti se terme, dié weet ek nie.
https://www.thefamouspeople.com/hungarian-poets.php Besoek 9 Julie 2023
Die vertaling van Louw se beroemde “Vier gebede by jaargetye in die Boland” mis die rympatrone. Nog net ‘n transportasie na Engels vir hierdie leser.
IV
Waar hierdie leser wél geïmponeer is, was met die Afrikaanse gedigte wat met sterk konkrete beelde werk.
Waar die “juggernaut” wel ‘n sterk mag word, tref die verse.
Dis ‘n bundel vir lees en herlees. Verstommend dat ‘n digter wie se moedertaal nie Afrikaans is nie, só ‘n bydrae lewer. Nes die Poolse literator Jerzy Koch wat eweneens puik in Afrikaans dig.
So klink Iván Kovács se “Dans” (68):
ons dans op die vloer van verganklikheid
al praat ons van die geraamte
(holoog kenteken van die dood)
wat mettertyd ook maar stof word
selfs die dood vervaag in die geheue
en die blomme van vandag
word die onkruid van more
die hede is ‘n riet
wat in die môre se wind waai
die seisoene skommel ons dae
soos wagtende
rustelose vrae
in ons gryswording besef ons
dat die drywende herfsblare
deur middel van die wind
eintlik ‘n nuwe bruilofsdans leer
Hier is geen dooie klinkers wat die klank vervloek, soos die digter self skryf. Die leser van Franse letterkunde sal eweneens plesier hê aan die toespelings op Baudelaire wat deur die teks beweeg. En die Bybel en ander spirituele tekste.
Bronne:
Freud, Sigmund. 1953 / 1976. Interpretation of Dreams. Londen: Pelican.
https://www.freud.org.uk/education/resources/the-interpretation-of-dreams/ Besoek 10 Julie 2023

Uitstekend. Ek hou van jou half-esoteriese aanslag.