Wie was Jalāl al-Dīn Rūmī?
Jalāl al-Dīn Rūmī was ’n Middeleeuse Islamitiese mistikus, verbind met die Soefi-tradisie van Islam. Hy is in 1207 in Persië gebore. In 1216 trek die familie na Sirië en vestig hulle in die dorp Konya in die Anatolië streek, teenswoordig deel van Turkye. Hy woon daar van 1229 tot sy dood in 1273, behalwe vir ’n paar jaar waartydens hy Islamitiese reg en teologie bestudeer in die madrasas van Aleppo en Damaskus.
Die naam ‘Rumi’ was eintlik ’n soort bynaam, en het verwys na ’n man wat in Rum woon; Rum was Rome, en het tóé verwys, vanuit ’n teologiese perspektief, na die Christendom, en na Bisantium as ’n politieke domein. Vanuit ’n Persiese perspektief was dit Klein-Asië, oftewel Anatolië, ’n streek wat op die rand was van die Islamitiese wêreld.
In Konya is Persiese literatuur gelees en bestudeer, en Rumi skryf in daardie tradisie. Hy skryf hoofsaaklik twee soorte poësie; narratief en liries. Sy magnum opus, die Masnavi-ye ma‘navi (‘Koeplette van Ware Betekenis’), bevat meestal narratiewe poësie. Liriese werk vind neerslag in wat bekend staan as ’n ‘ghasel’. Die Divân-e kabir, ook bekend as Ghazaliyât-e Shams (‘Die Ghaselle van Shams’) bevat sowat 3200 ghaselle, baie in die stem van Shams-e Tabriz, Rumi se mentor en vriend, of tot hom gerig.
Jalal Rumi is die stigter van die Mowlânâ-orde van Soefi; dit staan bekend onder nie-Perse as Mevlana, volgens die uitspraak in Turks. Sommige Soefi-ordes, onder andere die Mevlana, word geassosieer met die tollende derwisj, ’n fisiese vorm van meditasie waartydens die danser streef om perfeksie te bereik, die ego af te werp en op God te fokus deur herhaaldelik in die rondte te tol. Elke jaar in Desember is daar ’n Rumi-fees in Konya waar mense van heinde en verre kom om tollende derwisj-vertonings by te woon.
Wat is ’n Ghasel?
Dit is ’n gedig met ’n vaste struktuur wat rym en metrum betref, en wat tematies gewoonlik oor die liefde handel. Na bewering is die Persiese ghasel, en nie die Europese sonnet nie, een van die oudste poëtiese vorms wat steeds wyd gebruik word. Elke reël is metries en grafies verdeel in twee, met ’n sintaktiese breuk in die middel. Rymwoorde verskyn aan die einde van elke reël, maar in die openingsreël verskyn dit twee keer. Aan die einde van die gedig is dikwels ’n refrein, wat een woord of ’n frase kan wees. In die laaste of voorlaaste reël meld die digter sy skrywersnaam of, soos in die geval van Rumi, die naam van sy spirituele leermeester.
Rumi as mistikus – die liefdesghasel
Teen die twaalfde eeu het die ghasel tematies uitgebrei en handel nie meer net oor romantiese liefde nie; dit kan ook opvoedkundig, polities of misties wees. Maar dit behou die konvensionele vorm van ’n ‘Ek-U’ dialoog. Die spreker kan ’n geliefde, ’n heerser of God aanspreek. In die mistiese Soefi-tradisie waarin Rumi skryf, word aardse liefde tussen twee mense as metafoor gebruik om die hoër liefde van ’n dienaar, ’n volgeling, God en die spirituele pad uit te beeld. ’n Strewe na eenheid met die hoogste Geliefde is ’n sentrale tema in sy poësie. Ter aanvulling van hierdie kursoriese opmerkings word Elizabeth van den Bergh se uitstekende studie, Erotiese digkuns en Soefisme in Rumi se werke, hoogs aanbeveel.
Teenswoordig probeer skrywers dikwels om Rumi se begrip vir menslike swakheid en sy verdraagsaamheid teenoor ander gelowe – Christene, Jode, Zoroasters – verkeerdelik akkommodeer binne die kader van New Age-spiritualiteit, maar ten spyte van sy verdraagsaamheid, het hy geglo in die meerderwaardigheid van die Islamitiese geloof, en in sommige Soefi-heiliges as noodsaaklike gidse vir spirituele vooruitgang.
Wat die vertaling betref
Die vertalings wat hier verskyn, is vanuit die bundel Swallowing the Sun, wat bestaan uit Engelse vertalings, uit die oorspronklike Persies, deur Franklin Lewis. Hy waarsku, wat vertaling van Rumi betref, om nie staat te maak op tweedehandse weergawes, indrukke of aanpassings vir akademiese doeleindes of spirituele leiding nie. Die Afrikaanse weergawes wat hier verskyn, is dalk juis die soort indrukke en aanpassings waarvan hy praat; hulle maak geensins aanspraak op akkuraatheid of reëlmatigheid nie. Die idee was om te hoor hoe hierdie treffende gedigte moontlik in Afrikaans kan klink, en ook of hulle dan bloot as liefdesgedigte gelees kan word. Lewis is van mening dat vrye vers meer geskik is wat die vertaling van Rumi in Engels betref. Volgens hom veroorsaak gedwonge rymbewerking ’n verlies aan akkuraatheid. Dis ’n kontroversiële punt. In hierdie Afrikaanse vertalings is vrye vers ook verkies, sonder om te wil voorgee dat rym in die vertaling nie moontlik is nie. Nog ’n rede is dat in Lewis se Engelse vertalings, waar akkuraatheid die deurslaggewende faktor was, daar gevolglik geen aanduiding is van wat die rymwoord sou kon wees nie.
***
Om die Son in te sluk
Deel V
Gedigte van liefde en verwarring
Vertel vir ’n rukkie
die storie van Tabriz*
Vertel vir ’n rukkie
die bloeddorstige verhaal
van ’n oog-fladderende flirt
Hoe bitter om van sulke
soet lippe weggeskeur te wees –
deel met ’n lepel die lekkergoed
van daardie goddelike suiker uit – uit Ghasel 807
* Shams-e Tabriz: Rumi se mentor en vriend
***
Ons het ons werk en handwerk en winkel in vlamme agtergelaat
Ons het ghaselle en lirieke, versreëls geleer
In die liefde is hy hart en siel, ons eie oë
Ons het al drie agtergelaat – hart, siel en oë – in vlamme – Kwatryn 1293
***
Ghasel 2039
Gaan lê jou kop op jou kussing neer, los my alleen
los my, stukkend, om die nag deur te dwaal, geteister
Ek en die golwe van verdriet, alleen, sonsondergang tot opkoms
Kom en wees gaaf, as jy wil; gaan en wees wreed, as jy wil.
Los my, hardloop, vinnig, anders sal jy ook so in teistering verval
Kies die meer heilsame weg en kom uit die skade se pad
Ek en die poele van my oë, op ’n hopie in die hoek van smart
draai meul op meul op meul met my trane
Parmantig, astrant, hy maak my dood, sy hart soos klip
niemand durf boetegeld vra vir my bloed nie
Die koning van mooi gesigte is nie verplig om trou te wees nie
Vaalgesig minnaar, wees geduldig, wees trou
Net doodgaan kan so ’n pyn genees
Hoe mens hierdie pyn behandel kan ek jou nie sê nie
Laasnag het ek gedroom ek sien ’n ou man in die straat van liefde
hy’t my nader gewink met sy hand, “Kom hier, kom na my toe”
Liefde werk soos ’n smarag as ’n draak die pad versper
Die smarag se glinster sal die draak laat wyk
Genoeg! Ek is bewusteloos,
As jy vir die taak opgewasse is
Vertel die storie van Bu Ali1
En ’n klap teen die kop vir Bu Alâ2
- Verwys of na Bu Ali Qalandar(1209–1324 CE), gebore in Panipat, Haryana, Indië, ’n Soefiheilige van die Owaisī Orde, of na Bu Ali, ook genaamd Ibn Sina (Avicenna, 980 – 1037 CE), Islamietiese filosoof en geneesheer.
- Geen inligting wat betref Bu Alâ nie.
***
Ghasel 677
Dis vreemd! Waar’s daai pragtige hartebreker heen?
Vreemd – waar’s ons lang, soepel sipresboom heen?
Hy’t ons soos ’n kers in sy lig gebaai
En toe in die niet verdwyn, ons verlaat! Waar ís hy heen?
My hart ritsel heeldag soos ’n blaar hieroor:
Teen middernag, stoksielalleen, waar ís daai hartklop heen?
Hardloop na die pad toe om die verbygangers te vra –
Daai sielsversnellende metgesel, waar’s hy heen?
Loop na die tuin toe, vra die tuiniers –
Daai heerlike tak vol roosknoppe, waar’s hy heen?
Klim op die dak en vra die skildwagte –
ons een en enigste monarg, waar’s hy heen?
Soos ’n besetene dwaal ek op die
plein rond en roep, “waar op aarde is
ons gasel heen?”
My betraande oë vloei sterker as die magtige Oxus –
daai pêrel het gesink in hierdie see, waar ís dit heen?
Heelnag smeek ek die maan en Venus –
Waar, in hemelsnaam, is daai helder bal heen?
Synde hy aan ons behoort, hoekom is hy by ander?
Synde hy nie hier is nie, waar is hy van hier af heen?
En het hy die wêreld van klei en asem verlaat,
Dan’t sy hawelose siel seker gaan aansluit by God.
So, sê vir my duidelik,
Shams Al-Din van Tabriz,
wat so graag aanhaal uit “Die son sterf nie”,
waar ís hy heen?
***
Ghasel 1493
Ek’s mal, heeltemal gek
oor Damaskus!
My hart is verdrietig
ek het my vuur in Damaskus verloor!
Geseënde môres kom op in daardie rigting
Sonsopkoms en -ondergang, bedwelmd
deur Damaskus se betowerings:
Van liefde beroof, staan ons by die Barid-hek
Verby die minnaars se moskee
op die groen velde van Damaskus
Nog nooit ’n teug uit die fontein van Bu Nuwas gedrink nie?
Ons is versot op die dorslessende water
van Damaskus!
Laat ek ’n eed sweer op Uthman se kodeks:
Die pêrel wat harte steel
laat ons skitter in Damaskus
ver van die Hek van Vrylating
en die Hek van Paradyse
Jy kan jou kwalik voorstel watter visioene ons het
in Damaskus.
Kom ons klim Ribwa uit, en op Christus se Wieg
sal ons soos monnike wees, dronk van die donkerrooi wyn van Damaskus
In die koninklike Nayrab het ons ’n boom gesien:
terwyl ons in sy skadu sit, is ons duiselig gemaak
deur Damaskus
Ons rol deur haar Groen Veld, geslaan
soos poloballe deur hamers van harekrulle
op die kwadrant van Damaskus
Ons kan nooit gebrek hê aan Mizza nie, want ons kry sout en genot
by die Oostelike Hek van Damaskus
Op Regvaardige Berg is ’n myn van edelstene
waardeur ons swem in die juwele van Damaskus
Omdat Damaskus die paradys van die wêreld is,
verlang ons na ’n visioen van die mooi engele van Damaskus
Laat ons ons vanaf Bisantium haas na Sirië
want lokke so donker soos Siriese nagte
deurdrenk ons met die geure van Damaskus
As dit hier is waar jy diensbaarheid aan
Shams al-Haqq van Tibriz leer
dan’s my hart oormeester deur Damaskus,
en meneer, ek’s die Meester van Damaskus!
***
Ghasel 332
Nag en Dag
gelooi deur fantasieë van jou
my kop by jou voetstuk geplant
nag en dag
Dag en nag
sal ek hiermee volhou
tot ek die nag en dag
daartoe dryf om versot
op verstrooiing te raak
Hulle het van minnaars
’n ernstige hart en siel vereis
ek belowe plegtig dag en nag
met hart en siel
Tot tyd en wyl ek uitvind
wat aangaan in my brein
sal ek nie my kop krap nie
dag en nag
Jou liefde speel my
soos ’n deuntjie
dag en nag
Soms ’n harpsnaar, soms ’n lier
jy bewerk my
met jou plektrum
dag en nag
My hoë trillende note
styg op in die lug
jy’t van daai brousel
veertigvuldige drankoffers
vir die hele wêreld ingeskink
ek’s besope nag en dag
Jy dryf ’n tou gesmoorhalterde minnaars
ek loop in daardie kettings
verpletterd, jou gewig slepend
steier ek soos ’n oorlaaide kameel
dag en nag
As ek nie my vas met jou suiker kan breek nie
sal ek honger bly dag en nag
tot die oordeel
My geluk sal feesvier
as ek my vas breek by ’n tafel van oorvloed
dag en nag
maar die fees kom ons
net eenkeer per jaar toe
ek word felisiteer
met jou volle gesig
elke nuwemaan
nag en dag
Lewe van die nag
pols van die dag
jy animeerder
ek ene afwagting –
nag en dag
Al afwagtend
die ure tellend
dag en nag
tot die dag van die afspraak
en die nag wat jy beloof het
Hy’t so ’n warmte
in my dorstige siel gesaai
ek reën trane
uit my bewolkte oë
nag en dag
***
Ghasel 553
Ek kom goed reg sonder ander
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
My hart dra jou merk,
dit gaan nie wegdwaal van jou af nie
Die oog van die rede raak wasig van jou wyn
die hemel se wiel draai onder jou duim
Plesier se neus volg waar jy lei
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
Die gees gis as dit jou naam hoor
Die hart drink nektar uit jou hand
en die rede gee ’n brul;
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
My drank en my bedwelming
my bloeityd, my tuin se bloei,
my slaap, my vrede
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
My praal, my teenwoordigheid, heerskappy, rykdom!
Jy is my kristalwater en
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
Jy wissel tussen waarheid en wreedheid
Jy’s myne – waar gaan jy heen?
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
Hulle offer hart, jy gryp dit
hulle sweer, verootmoedig, jy verbreek dit
Al hierdie dinge doen jy en nog meer
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
As die wêreld maar net omgekeer was
Sou ons sonder jou kon leef –
daar waar Gehenna die tuin van Eden is
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
As jy hoof is, staan ek vas, jou voet
As jy handpalm is, is ek in dié hand, jou vlag
As jy weggaan, is ek ongedaan gemaak, ’n niks
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
Jy’t my uit my slaap betower
jy’t my skoon weggewas
Jy’t my afgesny van alles
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
As jy nie my vennoot wil wees nie
dan’s my sake ’n deurmekaarspul!
My raadgewer, my vertrooster –
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
Lewe sonder jou hou geen vreugde in nie
doodgaan sonder jou hou geen vreugde in nie
Hoe kan ek omgee-vir-jou uit my kop kry?
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
Wat ek ookal sê, my oorsprong,
lê my krag en foute bloot
Wees dus asseblief hoflik!
en herhaal saam met my:
Ek kan nie sonder jou klaarkom nie
Bronne:
Rumi: Swallowing the sun. Vertaal deur Franklin D. Lewis. Oxford: Oneworld Publications, 2007.
Erotiese digkuns en Soefisme in Rumi se werke. Elizabeth van der Berg https://www.litnet.co.za/erotiese-digkuns-en-soefisme-in-rumi-se-werke/
Rumi, Romantic Love and Reunion with the Beloved. David Langness
https://bahaiteachings.org/rumi-romantic-love-reunion-beloved/
The concept of “love” according to Rumi and Shakespeare: a comparative study of Mathnawi and Antony and Cleopatra. Nezahat Başçi https://dergipark.org.tr/tr/download/article-file/1045566

‘n Interessante vrye vertaling. Ek het veral van Ghasel 332 se stuwende opbou gehou. Volgens Arberry 2009:418 : Bu‘l-‘Al¯a (d. 1057) is the famous Syrian philosopher and poet. Avery in his notes to the poem writes: “Bu‘l-‘Al¯a was used by Maulana to mean ‘so-and-so’”; see Nicholson’s Commentary on Math. 3:776, “a konya bestowed ironically on any foolish boaster.” Dit verklaar hoekom ‘n klap teen die kop moet kry.