Besoek
My eerste besoek aan L
was laatnag in ‘n polisiesel.
Die dominee het gebel:
Die pa van daai nuwe kinders in jou skool
is opgesluit – sy vrou geslaan …
(Met dié aanmelding was Padre se plig gedaan)
Ons staan teenoor mekaar en hy maak verskoning
dat hy moeite is en ek hom so moet sien.
Sy gesig is bruin, sy hare en baard soos
liewe Jesus in stories en kinderbybels.
Sy oë is sag, soos sy stem
as hy op my vraag reageer:
Sy het ‘n demoon in haar gehad en
ek het gelees om ‘n demoon te verjaag
verg een harde hou op die krop van die maag.
Ek weet dit klink ekstreem, maar ek was
ter wille van die kinders genoodsaak
om haar rustig te maak.
Ons sit teenoor mekaar en vir sewe ure of meer
vertel hy van sy vrou se stryd met enigiets
wat sy in die hande kan kry om te drink.
Daardie dag was dit hoesstroop – drie bottels
gesteel by die plaaswinkel waar hulle ‘n huis huur.
Die vorige dag ‘n halfbottel gebedelde spirits.
Hy vertel van sy eie verslawing, maar dis goddank
voor hulle eersteling met rehabilitasie afgeweer.
Halftwee bring die polisiesersant koffie en beskuit
en sê my vrou het gebel om na my te verneem en
hy sal terugbel om te sê dit gaan nog ‘n rukkie neem.
(Op klein dorpies werk dinge só as jy skoolhoof is)
Ons staan teenoor mekaar en buite raak dit lig.
Hy neem my hand in beide van syne.
Dankie.
Ek vra of daar iets is wat ek vir hom kan doen.
Ja, bel asseblief my pa.
© Hannes Visser, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.
Dis ñ baie mooi, hartseer gedig Hannes.