Ontvlug
voor Cradock se biblioteek
huiwer sy vinger oor ’n vensterbank
se vars duiwemis en trek dan teen
elke donker wang ’n vaalwit streep
sprei sy arms en toiingjas wyd oop
soos ‘n voël in gewiglose vlug
kantel sy lyf regs, dan links en
sweef om die hoek van die gebou
in ’n voorstedelike agtererf
kring ’n seuntjie om en om met een
arm wyd soos ‘n eenvlerk voël
en in die ander hand hoog na bo
sweef ‘n vliegtuig in sierlike vlug
uit papier deur sy pa vir hom gevou
© Hannes Visser, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops