Versoek
moet my asseblief nie
eendag só laat wag nie
op ‘n traliebed, bedek met ‘n jurk
in ‘n grys kamer van ‘n grou gang
en fyngedrukte piesang en jogurt
met ‘n plastieklepel en babataal
deur ‘n deugtelike versorger
in ‘n rolstoel in ‘n skemerkamer
met vuilbruin sunfilter gordyne
en televisiebeelde sonder klank
of uitgestoot deur die tuine
tot onder ‘n wilg om te welk
asseblief
nie só nie
wanneer my eindronde aanbreek
laat kom vir my die s’accabadora
met haar hamer van olyfhout
in swart wol verhul en met
haar wiegelied voor die
sagte uitklophou
© Hannes Visser, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.