Vrystaatse Desember
Die somer word ryp vir kuil, die blare geil gelaai,
‘n byekorf staan op aandag, die hout gevlek,
selle in die koek verseël is reeds tot vloei geswaai –
alle saad wat vrug veroorloof is, se tafel is gedek.
My jeug se somer het ek saans ver sien dwaal
in weerlig naderkom, die maanhaarrante skroei,
in ‘n gewonde by wat moeg die nes moet haal,
sy angel losgewring van met die motby stoei.
Afskeid kom met swerm vorm; hul vertrek
vertraag ek met sand wat ek boontoe gooi:
stofstorms laat hul net ‘n katbos voor die hek
om aan te kleef teen dié orkaan se buig en strooi.
Hul keer terug na waar hul geken word deur hul plek
met somer wat dit uitspel oor vergaan: “Hier bly ek.”
© Pirow Bekker, 2023
