
Resensie: joernaal deur Clinton V. du Plessis. Naledi, 2023
Resensent: Marlies Taljard
Die digter Clinton V. du Plessis het in 2022 die nuus gehaal as wenner van die AVBOB-Poësieprys in die Afrikaanse afdeling. In 2019 was hy die wenner in LitNet se Vrouedag-skryfkompetisie met die aangrypende gedig “Ma, imagine net” waarin die strofe voorkom wat ook op die agterblad van joernaal verskyn:
Sê nou net jy kon skryf, ma
dink net,
dan kon jy aantekeninge maak van jou eie lewe:
vrugtefabrieke se handearbeid
joernale van vloerskrop
en bekhou en aanhou en uithou
ʼn bestaan met bittermin keuses:
ter wille van oorleef,
ter wille van ons.
In die bundel joernaal kom ook verskeie ander aangrypende verse voor. Ek dink aan die gedig “Selfie” waarin “[d]ie generasie sonder uitsig of insig / in townships se strate vol slaggate” beskryf word. Die slot lui só:
Ek het op ʼn skerm aanskou hoe
dié muur val, twee torings tuimel,
diktators se beelde verkrummel,
narre en kulkunstenaars verkies word tot presidente,
gletsers begin smelt.
Nou sien ek close-up, ʼn generasie sterf:
hashtagged, high & hooked.
Ironie is een van Du Plessis se sterkpunte, veral in politieke gedigte soos “Die taal se taai tameletjie”.
In enkele gedigte oor gedigmaak (Ars Poëtikale gedigte) word die digambag metafories voorgestel, soos in “Resepmatig” waarin die skryf van ʼn gedig vergelyk word met die maak van ʼn gereg.
Die politiek van Taal word op treffende wyse in die gedig “Die taal se taai tameletjie” verknoop met die naam Punt Janson – op sy tyd die adjunk-minister van Bantoe-onderwys wat direk verantwoordelik was vir die Soweto-opstande waarin skoolkinders in opstand gekom het teen Janson se besluit dat Afrikaans as medium van onderrig in alle Swart skole gebruik moet word in die onderrig van sekere skoolvakke. Die naam “Punt Janson” word as refrein sewe keer in die gedig herhaal. Hierdie is myns insiens een van die sterkste gedigte in die bundel. Ek haal weer die slot aan:
Ek was dertien en Afrikaans en ongewapen
en Hector was net twaalf
die gewere het dié land se taal gepraat, namens almal?
Punt Janson.
Punt.
In verskeie outobiografiese gedigte posisioneer die digter homself as “outsider”:
Ek is ʼn stoker, sonder lokomotief
ʼn roepman
sonder skofkaarte
ʼn kondukteur op ʼn spooktrein
ʼn vergete passasier op ʼn koue donker plein.
(Uit: “Leemte” – AVBOB-wenner, 2022)
Ook in die inleidingsgedig, “I am, I said” tipeer die digter homself as “outsider”:
Ek was buite die kring
wat luidkeels lof wou besing
wat ʼn vriend het ons in klieks
wat net glo tekste moet soos Grieks
ondeurgrondelik dig wees
aldus ʼn belese en berese boekgeleerde.
Hierdie uitspraak heel aan die begin van die bundel beskou ek as ʼn belangrike leidraad ten opsigte van bundelkwaliteit: die digter Clinton V. du Plessis is waarskynlik inderdaad die spreker in hierdie gedig wat homself distansieer van die “ernstige” beoefening van poësie en die standaarde wat gestel word aan bundels wat aanspraak maak op opname in die digterlike kanon van ʼn taal. Dit is natuurlik die digter se reg om in opstand te kom, maar die digkuns is nie ʼn stokperdjie wat die afgelope paar dekades ontstaan het en lukraak deur leunstoeldigters beoefen word nie. Die stilistiese eienskappe van poëtiese tekste kenmerk die genre as kunsvorm. Ernstige afwyking beteken dat sulke tekste nie as “poësie” geëien kan word nie. Die digkuns is ouer as die oudste geskrewe tekste en is grootliks geyk in styl. Deur skielik in opstand te kom teen stylkonvensies wat millenniums oud is, is soos om in opstand te kom teen rugbyreëls (wat natuurlik minder antiek is!) en skielik jou eie spel te wil speel – die skeidsregter gaan jou steeds straf! Wat jy speel sal nie as “rugby” beskou word nie!
‘n Vakman wat die beperkinge van sy bedryf (=die reëls) tot sy voordeel kan gebruik, kwalifiseer om ‘n Meester genoem te word. Soos die meesterbouer pilaargange, suile en die dakgewelf as ruggraat gebruik vir ‘n katedraal wat ‘n duisend jaar en langer moet staan.
Dit gesê, wil ek my beperk tot enkele opmerkings oor die bundel as geheel. Ek het gevind dat die digter nog nie Wellek en Warren se ou-ou reël “telling vs. showing” in literêre tekste onder die knie het nie. Gedigte is dikwels nie veel meer as uitgesponne betoë nie. Té dikwels skryf die digter verby die einde – gedigte is tog van suggestie en insinuasie afhanklik, anders as die akademiese teks of die hofbetoog wat feitelik en volledig en eksplisiet met materiaal omgaan en tot ‘n enkele logiese gevolgtrekking kom. Oor die algemeen is gedigte onafgewerk en kort dit ʼn baie streng redakteurshand. Indien die uitgewer wel van ʼn teksredakteur gebruik gemaak het en daarop aangedring het dat die digter homself streng by die aanbevelings hou, wil ek voorstel dat dié redakteur nie weer gebruik word nie – hoewel ek vermoed dat die digter (soos in die inleidingsgedig gestel word) homself nie gesteur het aan ʼn moontlike redakteur nie en die uitgewer nogtans die bundel uitgegee het. Dit is onaanvaarbaar.
Uit enkele gedigte in die bundel joernaal is dit duidelik dat Du Plessis wel aanleg het. Ongelukkig maak een of twee of selfs drie swaeltjies egter nie ʼn somer nie.
