DNS-faktore: uitvlugkans?
Erflikheid word oorgedra
van generasie tot generasie deur twee lang stringe
DNS nukleotiede: (hanglere wat genome dra)
dwarsdeur elke plantsoort of diernasie,
word dit deur pare chromosome
van die ouers sinkronisties voortgeplant,
gesaai soos saadpluime wat afdaal
van baldakyne van die bome
en opbloei uit fertiele sand.
Esoteriese geheime lê
in elke nukleus-kluis verborge
wat ons nooit ontdek of ontwikkel
nie en baie onrustigheid en sorge
wat ek gereeld mee swoeg en sukkel
is hereditêr aan my oorgedra:
so: is my knaende gewoontes en dade
net te wyte aan my atavus voorsate:
my grootjie-groot-groot-oupa?
Het hy in die ver verlede se bestek
gelyk, geloop, gepraat, gedink soos ek?
En sou ek, deur patriargale lewens te bestudeer,
tot beter branding kom sodat ek intenser lewe, skilder, skryf
of het die oorerwingsleer
konsistent meer fasette om die lyf
as wat ek in my skrapende navorsing wil doen
om net myself daarmee te versoen?
Is alles terugneigend oorgeërf: in my natuur
se binneste gebrand soos ’n purgatoriumvuur
(dit kan dan dien as my verskoning)
of is my eie ekheid net gekoester deur my skoling?
© Meyervanrensburg