Flessies hoop
Op die oewer van die Londen-slagaar
wat van wes na oos sy kronkelkoers
reg deur die eiland-korpus baan
(invers met Covid se beloop), staan
ons afgemeet, gemaskerde bloeddraers, gespasieerd in lang toue:
wagtend in die winteraand se koue
om een-vir-een deur die St. Thomas-alkoof te gaan
en die gestuurde geneser daar te sien:
want sy woorde en helende hande
sal ons weereens hoop laat kry
al word net een ampul-pietsie toegedien
(vergoeding vir ons Petrus-pennies)
om die helse virus se bestaan
deur tenger bloedvaatjies te verslaan
© Meyervanrensburg