Beste Versindaba-lesers
Baie dankie aan ons lesers wat van die kommentaar-fasiliteit gebruik maak om opbouende kommentaar te lewer op plasings. Sulke kommentaar is vir alle skrywers en lesers belangrik en hou die gesprek oor meer ernstige letterkunde aan die gang. Met “opbouend” bedoel ek nie “prys” of “vergoeilik” nie, maar “goedbedoeld”, “kundig” en “ingelig”.
Versindaba is daarvoor bekend dat die inhoud hoofsaaklik gerig is op ernstige poësielesers en digters wat reeds gepubliseer het by hoofstroomuitgewers of gedigte van goeie kwaliteit lewer. Ons aanbod is hoofsaaklik gerig op lesers wat tot ‘n mate kennis dra van die teorie van gedigskryf en wat hulle voor- of afkeure kan verantwoord deur formeel, aan die hand van erkende norme, redes daarvoor te verskaf.
Skrywers en digters wat hier publiseer stuur dikwels gedigte of artikels waaraan hulle weer sal werk voordat dit in ‘n bundel of tydskrif gepubliseer word. Daarom is kommentaar deur iemand wat self dig of skryf, of iemand wat onderlê is in die teorie van skryf – ‘n ervare leser – noodsaaklik en verrykend.
Wat my egter die afgelope maande opval, is die hoeveelheid kommentare wat ek moes verwyder omdat dit kwetsend of beledigend van aard is of omdat die kommentator duidelik oningelig en onkundig is. Ek skryf dit toe aan die invloed van Facebook en die gebruik dat letterlik honderde aanhangers op een gedig sal kommentaar lewer – kommentaar wat eenduidig subjektief van aard is en dikwels uit minder as 5 woorde bestaan. Daar is ‘n rede waarom Versindaba nie ‘n like-knoppie het nie!
Die meeste gedigte wat ek op Versindaba plaas, moet (behalwe in die geval van kompetisies wat oop is vir alle lesers) voldoen aan konvensies wat deur letterkundiges en kundige lesers gebruik word om gedigte te beoordeel en die kwaliteit daarvan in te skat. Sulke gedigte is nie bedoel om slegs deur middel van emosionele reaksie (mooi – lelik – sleg – goed – onbeholpe – fantasties) van lesers beoordeel te word nie.
Daarom versoek ek lesers om, as hulle negatiewe kommentaar op ‘n gedig wil lewer, dié kommentaar te motiveer aan die hand van erkende poëtiese praktyke en teorie. Ek beklemtoon wéér: ek versoek nié dat alle kommentaar vleiend sal wees nie, maar waar die kommentator voel dat ‘n plasing nie meriete het nie of nie op standaard is nie, moet verkieslik nie van ‘n skuilnaam gebruik maak nie, en hou die kommentaar professioneel. Kommentaar soos “‘n swak gedig” is niksseggend en nutteloos. Versindaba is nie ‘n plek waar ons mekaar (onder skuilname) beledig nie, maar waar daar volwasse en sinvolle gesprekke oor ‘n bepaalde kunsvorm, met sy reëls, gevoer word.
In die vervolg sal ek alle negatiewe kommentaar wat sonder behoorlike motivering en onder ‘n skuilnaam gestuur word, verwyder.
Intussen nooi ek alle lesers uit om konstruktief deel te neem deur van die kommentaar-fasiliteit gebruik te maak.
Vriendelik.
Marlies Taljard
(Inhoudsbestuurder)
Ek stem volkome saam oor skuilname wat kommentaar en menings aanbetref. Ons kan nie in ‘n werklike gesprek (ja nie alle gesprekke is virueel nie) teenoor ‘n persoon gaan staan en ons mening anoniem lug nie, hoekom dit dan van agter ‘n rekenaar of slimfoon doen?
Die probleem met skuilname is dat dit niksseggend is. Skryf onder jou eie naam en lewer kommentaar. Kyk o.a. na die digkuns van Johann Lodewyk Marais wat eerste hier verskyn het. Versindaba is ‘n belangrike ruimte vir digters wat publiseer. Jy kan so afstand kry oor ‘n vers en dit telkemale verander en herbesoek. Hierom stuur ek verse in.
In die woorde van Eleanor Roosevelt: Jy kan my net beledig as ek besluit om die belediging aan te neem. So subtekste en fyn stekies was nog altyd met ons.
Maar as jy wil satiriseer: doen dit soos Peter Blum. Of krities wil wees: ken jou digkuns. Hier te lande en elders.