Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
23 April 202425 April 2024

Joan Hambidge. Eybers en Lynthia Julius

 

I

Lynthia Julius is gebore op Springbok en het grootgeword in Kimberley. Sy het ’n honneursgraad in filosofie en ’n meestersgraad in skeppende skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Uit die Kroes, haar aangrypende debuut uit 2020, is bekroon met ’n Suid-Afrikaanse Letterkundetoekenning (SALA). In 2023 ontvang sy die gesogte Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs.

Sopas het die tweede bundel Kinderlê verskyn. Die titel verwys na ‘n uitwissing van Nama-kinders in die 1800’s. Daar is ‘n monument opgerig by Steinkopf in die Noord-Kaap. Die titel verwys ook na die digter se beskrywing van ‘n swangerskap en aborsie. Die voorblad is ‘n blom (‘n kelk?), maar ook die chora of baarmoeder. Hiermee plaas sy haar gedigte volledig binne ‘n vroulike diskoers wat die leser neem na Julia Kristeva se komplekse teorieë oor taal en die verhouding met die (baar)moederlike.

In hierdie tweede bundel word die leser getref deur die gebruik van Gariep-Afrikaans en Nama wat afgewissel word met Standaard-Afrikaans. Verder is die leser eweneens bewus van die gesprek met ouer Afrikaanse digters. Parodie, teenstemme of palinodes of pastiches. Die hele santekraam is hier en veral Van Wyk Louw en Krog is die sterkste stemme.

Wat hierdie bundel aangrypend en besonders maak is die beskrywing van armoede en hoe sy as ‘n bruin vrou die patriargie ervaar. Met ‘n troostelose besoek aan ‘n inrigting.

Wanneer sy uit-die-hart-uit dig is sy op haar beste. Sy gee dan ‘n eerlike ervaring van vrouwees in al die geledinge: kind, moeder, geliefde.

Die digter teen wie sy haar plaas, is Antjie Krog.

En Krog is ‘n meesleurende, verruklike stem. ‘n Lolerei soos Ingrid Jonker. So die digter wat haar gebruik as teenstem, sal uiteraard haar digpassies moet ken. Die aanwesigheid van Krog by veral bruin vrouedigters behoef ‘n verdere ondersoek.

II

Karen de Wet se bloemlesing Vers en vrou gee ‘n blik op vrouwees. So het ek indertyd besluit:

En veral hoe Elisabeth Eybers stem gegee het aan verskillende vroue wat steeds werk in Afrikaans.   

 

 

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=karen+de+wet  Besoek 20 April 2024

 

 

Die eerste nag

 

Hoe veilig en stil is my kindjie se slaap,

die tastende handjies so vreedsaam gevou,

die soekende mondjie geslote en soet,

die ogies ‘n skemering van blank en blou.

 

Wat sal haar moeder nou vir haar bid

waar sy slaap in haar wiegie, so warm en wit?

 

Watter geheim sal sy vra dat haar kind

in die skadu van latere nagte mag vind?

 

Wat, in die nag wat eensaam is?

– Dat skoonheid gebore word uit gemis.

 

Wat, in die nag van kwelling en pyn?

– Dat die môrester dan die suiwerste skyn.

 

Wat, in die nag van liefdelus?

– Dat teerheid sterker as hartstog is.

 

Wat, in die nag van barensnood?

– Dat die lewe magtiger is as die dood.

 

Wat, in die nag wat die laaste sal wees?

– Dat wie die Lewe het niks hoef te vrees.

 

Want elkeen aan wie die nag dit verklaar

sal wysheid dieper as kennis bewaar.

 

Hoe veilig is nou nog my kindjie se slaap,

die tastende handjies so vreedsaam gevou,

die soekende mondjie geslote en soet,

die ogies ‘n skemering van blank en blou…

 

O duistere Nag, wees goed vir my kind

later, wanneer jy haar wakker vind.

 

Uit:  Die stil avontuur (1939).

 

– Dat skoonheid gebore word uit gemis. En hierop reageer Lynthia Julius met haar vers oor moederskap.

Hier is die  spreker in “Eerste nag” (73) is daar “malpille opgepak soos poppehuisiespeelgoed”, slapeloosheid en ‘n gesprek met die Jirre.

in die nag van geen slaap

van ‘n jy wat skyn soos maanlig

deur ‘n Mr Price Home-gordyn

 

Die pa is afwesig (met ‘n Jameson in die hand).

En dan die hartgrypende slot:

 

o onbekende nag, gee my Kind vir my

soos ‘n Kersgeskenk

later, waar ek vrede maak met haar koms

en jy my wakker pramgee vind

 

Die kind met ‘n hoofletter. Later in die bundel kjeent (102).

Die treffende gesprek met Eybers verplaas in ‘n ander sosiale werklikheid laat ‘n mens saamstem met Ronelda Kamfer op die agterblad:

Kinderlê is ‘n offer van teerheid. Julius besing, bely, breek en berou met dié bundel wat wys waarom sy so ‘n belangrike stem is.

 

III

Hierdie aangrypende vers staan in die debuut:

 

Kroes

I have bi-racial hair because I have bi-racial blood. I’m not talking
about that cute they met and fell in love blood. I’m talking about that
slave raped six times by the master birthing six mixed babies later
hung blood – Zora Howard

Mamma sê ek moet my kop nasien
(reguit maak; gladder, dunner, witter maak)
wie nog kroes is is aspris hoor ek
daar’s genoeg Dark and Lovely en Sunsilk
om die geskiedenis uit jou hare te vee
om jou te laat vergeet watter voorouers
by die wortels van jou hare deursingdans

net ’n bietjie BaByliss hier
’n bietjie blow-dry daar
net ’n bietjie laat sy ring tog net nie in jou hare vassit
as hy sy vingers deur hulle try liefkam nie

daar was ’n tyd toe ek in Kimberley in wou pas
toe ek Engels wou praat en manne met spike hare
en wit Golfie-karre nag soen

ek was te kroes om ’n Kimberley Coloured te wees
te glad om opreg Khoi te wees
te gemeng om wit te wees

ek het uit die as opgestaan met my kroes hare, Mamma
sukkel-sukkel die krulnukke in my hare uitgekam
en met die loskomsels op die kam besef:

fok glad wees
laat sy ring maar in my hare verstrik raak
ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie
kroes is kroes
kroes word nooit tot die wortel glad nie

 

Joan Hambidge

23 April 2024

Bronne:

De Wet, Karen (samesteller). 2020. Vers en vrou. Kaapstad: Human & Rousseau.

Eybers, Elisabeth. 1990. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rouseau / Tafelberg.

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Eybers en ander digters: Opperman
Joan Hambidge. Eybers en siekte →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. XXXIX
  • AVBOB Persverklaring
  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig

Nuutste kommentaar

  1. Cobus van den Berg on Krige Visser. parodie en ironie20 July 2026

    Dankie Krige. Ek lees dit oor en oor….sodat dit kan insink.

  2. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  3. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  4. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d