I
Tans word digters genooi om gedigte róndom siekte (sogenaamde mediese gedigte) aan te bied op die Versindaba se webruimte vir ‘n wedstryd. En daar het al ongelooflike boeiende (en pynlike) verse verskyn oor hierdie onderwerp.
Illness as metaphor, soos Susan Sontag tereg opgemerk het.
Hendrik J Botha, ‘n narkotiseur van beroep, het ‘n studie geskryf oor die hele kwessie van dokters as digters in 2013.
https://open.uct.ac.za/items/18472eee-01e5-45dc-9f84-dbdaf0d7de7c Besoek 28 April 2024
Abstract
The objective of the essay is to examine the poetry of doctors who are poets in Afrikaans and are canonized poets in the Afrikaans literature. The poetry of ten doctors since 1838 was examined. Furthermore, the medical-scientific reflection in their poetry was reviewed where it appeared to be applicable. As an example of the medical-scientific reflection in poetry, the work of Gilbert Gibson is discussed based on the fact that his poetry represents the best and most extensive example of medical-scientific reflection in Afrikaans poetry. Finally, the poetry of Hendrik Botha is reviewed from a self-reflective angle by specifically comparing it to the poetry of Gilbert Gibson, especially regarding the thematical similarities and specifically the medical-scientific reflection as well as the difference in the approach between these two poets.
Dit is ‘n besondere insiggewende studie wat die hele kwessie histories ondersoek en verskillende stylsoorte uitwys.
By UCT is die vereistes vir die MA in kreatiewe skryfwerk ‘n portefeulje van gedigte én ‘n begeleidende essay. Dit is dikwels vir die uitgewer van hulp wanneer ‘n student deur ‘n gepubliseerde en ervare digter gementor is.
II
Botha skryf soos volg oor borskanker:
Borskanker
Toendertyd ‘n vonnis met skalpel
skêr en diatermie aangespreek:
tot op been en ribbekas gestroop.
Só word strelende kontoer
tot ‘n vlakte geplunder.
Daarna elke klier in die oksel gejag,
jou arm gru en geswolle nagelaat.
Deesdae speur ons haarfyn
deur ‘n naald vir selle; ontleed
om behandeling te beplan,
die gewas chemies verskrompel,
met kleurstof gemerk om deur
‘n minuskule snit te dissekteer.
Die kliere met radio-isotope
noukeurig nagespeur.
Wanneer alles verby is,
knoop jy jou bloes toe,
skud jou hare reg,
groet die arts agter sy lessenaar
amper as ‘n blote nagedagte.
Hendrik J Botha 03/2024
https://versindaba.co.za/2024/04/06/hendrik-j-botha-borskanker-m/ Besoek 28 April 2024
Die digter Franco Colin skryf weer vanuit die beroep as psigiater oor siekte waaruit hy gedigte maak:
Loep
Gryser, met sy oog van die loep geskei,
krap die man nou kop oor binnegoed
wat hy, verby die kamoeflage van fatsoen,
pak in die karapaks van ’n kwatryn.
https://versindaba.co.za/2022/05/20/resensie-skeletaal-franco-colin/ Besoek 28 April 2024
III
Eybers het uiteraard in haar ryk oeuvre dikwels oor siekte en besoeke aan dokters geskryf. Ons dink hier aan die klassieke “Röntgenfoto” (Die helder halfjaar, 1956).
Alles is tot essensie ingeperk, dig Eybers. En wanneer die X-straalfoto bekyk en geanaliseer word, mag al die vreugdes en verdriet dalk ‘n blote hersenskim wees?
Sy beskou die skelet as die essensie; die res is bysaak, te wete die hart, die kanale (bloed, limf, klier, ingewande), die geslagsorgane.
…, want geen portret
vlei meer as dié van die skelet
wat elke weekheid laat verdwyn
en elke deug presies omlyn:
Die skitterende gedig werk met ‘n beeld en toepassing. Essensie geplaas teen bysaak. En die stip konklusie: die organe is nie so sterk soos die skelet nie. Die implikasie is dat emosies, en dit wat ons voortdryf, uiteindelik ontersaaklik en vervlietend is.
https://maroelamedia.co.za/afrikaans/gedigte/gedig-rontgenfoto-2/ Besoek 28 April 2024
Opvallend hoe die ribbekas by Hendrik J Botha implisiet verwys na Elisabeth Eybers. Nes Franco Colin met die karapaks eweneens inspeel op Eybers.
Ironie is by hierdie digters ‘n opvallende stylaanslag.
By Eybers word uit pyn en afstandneem poësie gestook …
“uit liefde en ironie” (Versamelde gedigte, 379). En wanneer sy ‘n kritikus aanvat in “Kritiek” (uit Einder, 1977) wys sy op die gebrek aan ironie: “- geen skrefie vir ‘n splinter ironie”.
Ons gaan verder met hierdie onderwerp in ‘n volgende rubriek. En “Mammektomie” (uit Einder, 1977) word bespreek.
Joan Hambidge
29 April 2024
Bronne:
Colin, Franco. 2022. Skeletaal. Pretoria: Imprimatur.
Eybers, Elisabeth. 1990. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rouseau & Tafelberg.
Hambidge, Joan oor Sontag: http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=illness+as+metaphor Besoek 29 April 2024