I
Waarom ‘n verwysing na Althusser?
Althusser, soos Derrida, is gebore in Algerië, en bly ‘n gesiene filosoof. Vir die doeleindes van hierdie gedig is die verbintenis met sy eggenoot relevant. In 1980 het Alhusser Hélène Rytmann (1910 – 1980) verwurg. Althusser is na ‘n inrigting vir geestesversteurdes gestuur vir drie jaar lank. Rytmann, ‘n sosioloog en politieke aktivis, was ‘n intellektueel en deel van die Franse Resistance.
Daar is verskeie narratiewe oor haar lewe as Jodin, uit ‘n Russies-Lituae agtergrond. Althusser het beweer sy is as kind seksueel gemolesteer. Sy was ook bekend as Hélène Legotien en die gesiene Britse romanskrywer John Banville het ‘n roman oor hierdie pynlike verhouding geskryf: Shroud (2002).
Die roman vertel die verhaal van Axel Vander, ‘n wewenaar. Hy reis na Turyn ontmoet ene Cass Cleave, ‘n navorser. Sy ontdek dat sy naam vervals is en dat hy in sy jeug anti-Semitiese artikels geskryf het voor die WO. Axel het iemand anders se identiteit oorgeneem, ‘n verdwene jeugvriend. Dalk reeds dood.
Ten spyte van alles wat Cass Cleave van hierdie man weet, raak sy tog betrokke by hom. En sterf tragies uiteindelik. (De Man se regte naam was Paul Adolph Michel Deman).
Die letterkundige leser besef onmiddellik dat hier verwysings is na Paul de Man en Louis Althusser.
II
So het ek indertyd oor De Man geskryf:
The Double Life of Paul de Man
by Evelyn Barish
Liveright, 534 pp., $35.00
The Many Betrayals of Paul de Man deur Tom Bartlett (Besoek 30 Mei 2024)
Lank na Derrida se verdediging van Paul de Man, die Yale-dekonstruksie-kritikus, verskyn daar ‘n biografie wat verdere aspekte van ‘n donker psige openbaar. Nie alleen was De Man ‘n kolloborateur in sy jeug nie, maar hy het ook sy wettige vrou in die steek gelaat. Hy het ‘n ander vrou ontmoet, met haar getrou, sonder om van sy vrou te skei. Die wettige vrou is verder nie onderhoud betaal nie en insinuasies van diefstal, onbetaalde rekeninge, leuens en wat nog, word vertel. Boonop – só word daar beweer – het hy aan Harvard studeer sonder ‘n regte graad. Hy het dokumente vervals en almal wol oor die oë getrek. ‘n Mens word by die lees van hierdie biografie bewus van ‘n pre- en post-bestaan en ‘n intellektueel wat homself letterlik “oorgemaak” het. Die insinuasies – met bewyse van sy pro-Nazi-koerantartikels gevind deur Ortwin de Graef – het sy intellektuele vriende geskok en verskeie teoretici het hom probeer verdedig, o.a. Derrida, Hillis Miller, en vele meer.
“The people that love de Man and continue to support him fundamentally say that there is no necessary connection between what a person does or says in his or her private life and what his or her ideas are,” said Barish. “I’m not of that position.”
Van die belangrikste reaksies is geskryf deur Derrida, Peter Brooks en vele reaksies op Derrida se kommentaar.
Reaksies op Derrida se verdediging “Like the Sound of the Sea deep within a Shell: Paul de Man’s War” opgeneem in Critical Inquiry 14 (Spring 1988: 590 – 652) is relevant.
III
Blindness and Insight (1971) en Allegories of reading (1979) is twee belangrike tekste binne die literêre teorie. De Man is in 1983 oorlede.
Hoe benader ons die kontroversie van goedskiks 200 anti-semitiese artikels? Of akademiese bedrog? Aantygings van “chicanerie”? Bigamis?
IV
De Man se belangrikste bydrae as teoretikus is die gedagte van “blindness and insight”, te wete die paradoksale teenstrydigheid tussen wat ‘n leser maak van (die) letterkunde en die uiteindelike interpretasie of afleiding wat daar ten slotte gemaak word. Die sogenaamde aporia van die teks is eweneens ‘n belangrike bydrae nes sy siening dat insig net vergestalt of “gevind” kan word wanneer die betekenis op sigself gedraai word.
Allegories of reading dra die subtitel Figural language in Rousseau, Nietzsche, Rilke and Proust. Dit het in 1979 in New Haven verskyn by Yale University Press. Ek het hierdie boek gelees in die tagtigerjare en tydens ‘n besoek aan Yale (in ‘n wintersvakansie), het Barbara Johnson sy lesings waargeneem weens ongesteldheid. Dit was 1984. Ek het in hierdie tyd van Bloom, Hillis Miller en Hartman se lesings bygewoon en almal was vol lof vir die werk van De Man. Ek het toe sopas my eerste doktorsgraad oor dekonstruksie voltooi, en ek (her)lees vandag die De Man-teks vol merkies gemaak tydens my navorsing in hierdie tyd.
Jare later tel ek De Man weer op en bedink die vlakke van lees: letterlik, die allegorie van lees. Tersaaklik is dit dat die skrywer De Man die metaforiek van binne/buite takel, met ander woorde, die leser staan buite die teks en die betekenis word binne-in die teks vasgevang met die leser wat alles moet “oopmaak”.
Na soveel jare voel hierdie leser dat ‘n mens ten spyte van die donker kant van die figuur De Man moet fokus op die uitsonderlike en komplekse teoretiese bydrae. En die onverkwiklike geskiedenis eerder moet verdring sodat dit nie in die pad staan van jou interpretasies nie. En as dit wéér na vore kom eerder moet besef hoe hierdie negatiewe verlede hom juis gedryf het tot komplekse vrae oor lees en skryf.
De Man het telkens in sy tekste betekenis ontspoor (“dislocate”) en komplekse interpretasies gemaak van tekste.
In sy uitsonderlike lesing van Rilke (“Tropes”) skryf hy: “Neither love nor the imagining power of the deepest nostalgias can overcome the essential barrenness of the self and of the world” (23).
Om die buite-inligting te verdring, is egter onmoontlik. Daar is geen buite-teks nie, het Derrida gewaarsku en tekste roep ander tekste en interpretasies op.
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=paul+de+man Besoek 29 Mei 2024
V
Tans is die uwe besig om garage as ‘n tweede studeerkamer in te rig ná my aftrede as dosent aan die UK.
My navorsing gaan steeds voort; dus is ‘n indeksering en argivering van die boekery absoluut tersaaklik.
En so kom ek dan af op belangrike tekste wat John Stammers se gedig “Testimony” verder oopmaak: Jonathan Culler se Framing the Sign en Paul de Man se Allegories of Reading.
In sy debuut Panoramic Lounge-bar staan die gedig “There are some places beyond” opgeteken met ‘n verwysing na Freud:
… he was so intent
on knowing our whole story, on unearthing how exactly
we had come to be there together at that precise time,
(4)
Hier is die agtergrond Wene. Freud se stad.
In ”Testimony” is dit Dublin.
“What is it, after all, that is authorized?”,
you said, and gave an allusive nod,
with your feathered black fringe and Irish-blue eyes,
to Althusser whilst continuing to assert
recondite doctrines through unpursed lips
pinkened with cerise so that I tumbled
head-long into ideological concurrence with you:
I knew what you were talking about and I didn’t care.
Die digter Stammers weet van die troebelhede rondom Althusser, maar hy verkies om dit te ignoreer. Hy wil eerder fokus op sy tekste.
En dit is waarskynlik relevant vir lesers van teorie. Fokus op die tekste. En keer terug na die allegorie van lees.
Tans word al die belangrike Hitchcock-films weer beskou. Hoe die film vervaardig is en hoe Hitch jou altyd daarvan bewus maak dat die kamera die belangrikste verteller is: ouktoriaal.
So kom die digkuns, teorie en films bymekaar uit. Framing the poet.
Joan Hambidge
30 Mei 2024
Bronne:
Culler, Jonathan. 1988. Framing the Sign. Oxford: Basil Blackwell.
De Man, Paul. 1981. Allegories of Reading. New Haven: Yale University Press.
Hitchcock, Alfred. 1955. The Trouble with Harry.
Stammers, John. 2001. Panoramic Lounge-bar. Londen: Picador.
Craftsbury, Vermont
Op 27 September 1954
word Hitchcock gefnuik
deur swaar reën en geen blare
op die bome nie. Alles verfilm
in ‘n skoolgimnasium. Herfs gebladertes
toe sommer met gom aan die takke vasgeplak.
Boonop val ‘n kamera net-net vir onse Alfred mis;
sien hom presies op 22:14 minute in die film verby
‘n limousine stap waar ‘n ou man skilderye langs die pad ver-
kwansel vir ‘n appel-en-‘n-ui. Helaas geen ver-
kope nie in die vreemde The trouble with Harry ver-
maaklik snaaks; hierdie moordstorie met die lyk ver-
doesel en begrawe en opgegrawe; die kyker wonder wát ver-
domp maak hierdie Harry hier in Craftsbury, Vermont?
‘n Netjiese pastiche van moordverhale waar iets ver-
dwyn en weer verskyn: films (soos die lewe) ‘n faux-
monnayeur, ‘n konterfeitsel, ‘n af-beelding, ‘n ver-
beelding, ‘n knypseltjie wat hier omgekeerd uitmond.
© Joan Hambidge