Twee bundels met sterk verse
Resensie: wanneer woorde asemhaal deur Maritha Broschk EN swartland deur Rudolph Willemse.
Resensent: Joan Hambidge
I
Die belangrikheid van ‘n klein uitgewery mag nie onderskat of geminag word nie. So vind skrywers dikwels ‘n staning onder die sterre. En die hoofstroom is deesdae minder gedienstig om blote belofte te publiseer.
Naledi het die afgelope paar jaar bekende én bekroonde name gepubliseer. Ons dink hier aan Hennie Aucamp en Johann de Lange. Turksvy vang dan ook van die digters op wat weens druk publikasie-eise (en gebrek aan fondse) nie by NB of Protea kon publiseer nie.
Marlies Taljard som van die probleme soos volg op in ‘n gesprek met Yves T’sjoen:
Bogenoemde agente word toenemend onder druk geplaas omdat daar te min van dit en te veel van dat verskyn / geresenseer word / pryse wen / gevier word, ens. Die langtermyn gevolg kan wees ʼn skeefgetrekte kanon omdat dit wat verskyn / geresenseer word / befonds word en pryse wen nie noodwendig die beste literêre artefak is nie, maar die mees (polities) korrekte. Dus: hoe vry is enige agent wat binne die literêre sisteem optree? Hoe vry kan ons wees en word ons toegelaat om te wees? Big Brother speel ook internasionaal ʼn rol – kyk maar na groot pryse soos die Nobelprys (ʼn gesprek op sy eie!) Die oplossing van dié dilemma lê dalk eerder by filosowe as by letterkundiges wat steeds die “outydse” definisie van kuns in hulle agterkoppe het – kuns as kreatiewe uitset van ʼn begaafde kunstenaar, kuns as artefak wat voldoen aan formele genrevereistes, eerder as die produk van iemand wat ʼn gereg van ʼn resep af voorberei met voorafbepaalde of toegelate bestanddele, ongeag of dit die gehoor/eters se kulinêre smaak bevredig.
https://versindaba.co.za/2024/06/04/yves-tsjoen-cahier-van-een-lezer-19-vraaggesprekken-met-literaire-agenten-2/ Besoek 4 Junie 2024
Dit het alles ‘n impak op kanonisering.
Tog al is ‘n digter vernuwend of “anders”, sal opgeleide en kundige lesers die talent raaksien. In my studeerkamer staan verlore en vergete digters. Sommige gekanoniseer; ander nie.
Sopas het daar twee bundels op my tafel geland: wanneer woorde assemhaal van Maritha Broschk, ‘n debuut, en swartland van Rudolph Willemse, sy derde bundel.
II
wanneer woorde asemhaal (Maritha Broschk)
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Eerste uitgawe, eerste druk 2023. 94 bl.
Prys: R250.00
ISBN: 978-0-7961-1778-6
So word die bundel bemark:
Vir Maritha Broschk is woorde dit wat lewe skep en bevry. Wanneer woorde asemhaal, word die liefde sinvol en die dood draaglik. Sy vind aanklank by mededigters, skilders en komponiste wat alledaagse kwellings en verskrikkings tot skoonheid kan omtower. In hierdie verse verrys woorde triomfantelik uit die kerker van die mond om die leser mee te sleur en met nuwe oë na die lewe te laat kyk.
En verder:
Van haar gedigte is in versamelbundels opgeneem, waaronder Maskers en mure (2021) en die lewe is ’n asem lank (2023). In 2020 verwerf sy ’n tweede plek in AVBOB se landswye poësiekompetisie uit meer as 3 000 Afrikaanse inskrywings.
*
In die afgelope tyd het daar ‘n hele paar interessante (en onthoubare) bundels verskyn van debutante. Die gesprek met Alwyn Roux en Tom Dreyer se besoek aan die buiteland bevestig iets belangriks.
Sonja Loots voer ‘n belangrike onderhoud met Roux:
https://versindaba.co.za/2024/05/28/sonja-loots-in-gesprek-met-alwyn-roux-oor-weerskyn/ Besoek 9 Junie 2024
Ons het ook die afgelope tyd tweede bundels met besondere trefkrag beleef. Ek dink hier aan Martina Klopper se tweede een Kuborg (Imprimatur).
En Hein Viljoen se derde een Vyf kleur blou (Naledi).
https://versindaba.co.za/2023/06/29/resensie-vyf-kleur-blou-hein-viljoen/ Besoek 9 Junie 2024
Hierdie leser is onder die indruk van Broschk se tegniese beheer. ‘n Gedig (al is dit ‘n vrye vers) moet gehoor gee aan tegniek. ‘n Sonnet is iets anders as ‘n oktet. ‘n Ballade anders as ‘n kwatryn of distigon.
En hierdie digter begryp dit. Sy skryf eweneens mini-verse met trefkrag. Daar is ‘n gebed vir die aarde en ‘n aleksandrynse vers: “doodverlang” (83). En ‘n knap “snelsonnet” (46):
snelsonnet
Amy Winehouse drink wyn saam met Elvis
op die bad se rand in Genadeland
ruk die goue badprop uit Jim se hand
verdronke, nes Whitney, in faam se lis
hul pyl was oorvloed, hul boog die verhoog
teiken getref teen ‘n prys hemelhoog.
*
Oor die sogenaamde speedsnonnet vind ons die volgende:
Om een snelsonnet te zijn, dient een gedicht te voldoen aan deze volgende criteria:
- Het bestaat altijd uit een kwatrijn (4 regels), gevolgd door een distichon (2 regels).
- Als metrum dient de vijfvoetige jambe (10 of 11 lettergrepen, afwisselend onbeklemtoond en beklemtoond).
- Het rijm van het kwatrijn is ‘omarmend’ (rijmschema: A-B-B-A).
- De regels van het distichon rijmen op elkaar (rijmschema: C-C) maar nooit op een van beide reeds in het kwatrijn gebruikte rijmklanken.
- Na de laatste zin van het kwatrijn volgt een chute, zodanig dat het distichon de in het kwatrijn betrokken stelling relativeert.
https://nl.wikipedia.org/wiki/Snelsonnet Besoek 4 Junie 2024
“Sonnet van verwondering” is eweneens netjies aanmekaar gesit met ‘n treffende slot:
g’n meester is ek van Shakespeare-struktuur
my woorde is bloot deur Liefde gepuur (13)
‘n Heerlike spel met die konvensies van die Engelse sonnet vind ons hier. Die besondere knap akrostiese vers “Marilyn Monroe” (27) verdien vermelding waar die naam en van die lewensloop uitspel (uitspeel).
Hierteenoor is die vers oor Prinses Di te uitgesponne oor die”blinde jagtog na die ware self” (29).
Van die temas wat aangeraak word is die ervaring van ‘n kind se geboorte en die dood van ouers. Ons vind eweneens landskapverse, selfs ‘n gebed vir die aarde. Lykdigte vir diere, ervaring van demensie en die verlies aan vriende, depressie, ‘n mammogram. KI word besonder slim aangespreek en die impak van ‘n plaasaanval beskryf. Die digter waag ook haar hand aan ekfrastiese verse. Vroulike kwessies en vrouwees word onder die loep geneem (sonarfoto’s en ‘n gesprek met susters).
En dit is die indruk wat hierdie bundel laat: wel tegniese bedrewe, maar soms verse wat te emosioneel is vir hierdie leser.
III
swartland (Rudolph Wllemse)
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R250
Eerste uitgawe, eerste druk 2024. 92 bl.
ISBN: 978-0-6397-0329-9
swartland is Rudolph se derde digbundel en word deur twee bundels voorafgegaan – Kweekskool (1982) en middelman (2005). Rudolph beskryf swartland as verkenning van ’n geografiese, sosio-politiese en psigologiese ruimte in die konteks van verandering.
Rudolph Willemse is op 5 Julie 1958 te Blyvooruitzicht gebore. Hy studeer in die regte en die filosofie en verwerf onder meer twee meestersgrade in die regte. As prokureur werk hy daaraan om, deur strukturele verandering en wetskrywing, toegang tot finansiële dienste en behuising vir laer-inkomste-mense te vergemaklik. Hy word aangestel as uitvoerende direkteur van ’n finansiële instelling in 2008 en verlaat die korporatiewe wêreld in 2022. Rudolph is ’n kunsfotograaf en stal gereeld fotografiese werk uit. Hy woon saam met sy vrou, die konseptuele kunstenaar Emma Willemse, in Riebeek-Kasteel, waar hulle die eienaars is van Hoofstraat Conceptual, ’n kuns-en-musiekruimte. Sy het die omslae van Rudolph se digbundels ontwerp.
Sy debuut in 1982 (Kweekskool) is deur André P. Brink gestriem, maar genadiglik het die digter aanbeweeg.
In die jongste bundel is daar uiteraard ‘n gesprek met Ashwin Arendse se Swatland (Kwela) wat in 2021 verskyn het.
‘n Bundel wat opslae gemaak het in Afrikaans o.a. deur die bry-r-klank wat met ‘n ġ-simbool aandui, wat verwys na ghaynsimbool uit Arabies-Afrikaans.
‘n Wit digter en ‘n bruin een. Die haves en have nots. Standaard-Afrikaans versus ‘n variëteit.
Willemse as digter bemoei hom ook met die skryfproses soos in “wetsontwerp” (48) waar die digkuns en die regswêreld met presisie ondersoek word:
die miskenning van die pen
die dekonstruksie
van sak en as
Die digter se sosiale gewete is opvallend. Hy spreek figure soos Lourens du Plessis, die regsgeleerde, en Alan Paton aan.
In die vers oor (en na Paton) word die ellende van die “geliefde land” ondersoek.
Die dood (post-Covid) word aangespreek in “mense gaan dood om jou” (53). Daar is lykdigte vir die ouers in ‘n lang gedig vir die vader en ook vir die moeder waarin die verlies geregistreer word.
Daar is portretverse o.a vir Keith Jarrett en Anthony Bourdain. Op die man af.
“biddag vir reën” (12) tree nie net in gesprek met M.M. Walters nie, maar verklap iets van die digter se werkswyse: ‘n kritiese blik op mense, dikgevreet aan varkwange.
Jan Smuts word aangespreek en die verval (agteruitgang van die land) kom aan bod in “smuts-museum, riebeek” (16). In die treffende reisgedig “N1” word sowel Van Wyk Louw as gert vlok nel aangespreek (20). ‘n Reis deur die landskap en die Afrikaanse digkuns en die name wat nie vermeld word nie, tel die ingeligte leser op. Daarom hét die gedig ‘n opvolg: Willem Boshoff, Toast Coetzer, Johannes Kerkorrel … met die sluimerende geweld van hierdie land (22).
Die digter tree in gesprek met Roger Ballen en die hel, verneem ons, is die swartland in die somer.
Die ironies-sardoniese oog is opvallend in hierdie digbundel. Hy ontmasker pretensieuse name in ‘n gastehuis in Kaapstad en die Fascistiese bomwerper word die Fascistiese tandwerker.
Die spel met die rondeel word netjies uitgewerk in “sommige mense sê” (36) en hoe mense vernietig kan word deur verdagmakery.
https://www.dbnl.org/tekst/dela012alge01_01/dela012alge01_01_02814.php Besoek 11 Junie 2024
In die derde afdeling vind ons die vers “die galery” met ‘n Picasso-motto:” a museum is a collection of lies” (43). En dit is juis hierdie vers, die nar se grynslag, wat die ondergrond van hierdie bundel is. Net solank die Springbokke wen, dan sal ons in hierdie land oorleef, is ‘n satiriese blik op waardes en ‘n gebrek aan werklike omgee (47).
In die IVe afdeling is daar lykdigte – o.a. oor die ouers – en ‘n lament vir almal wat moes sterf sedert Covid (en daarna). Die gedig tree in gesprek met Johan van Wyk, ‘n onderskatte digter, se bundel uit 1981 Bome gaan dood om jou.
Daardie digter, hoe ironies dan, is nou ook oorlede.
Gaan lees Van Wyk weer, dan sien ‘n mens ‘n belangrike gesprek met hierdie digter.
https://johanvanwyk.oblogs.co.za/texts/bome-gaan-dood-om-jou/ Besoek 11 Junie 2024
In die Ve afdeling word die vrou (die geliefde) aangespreek. Ook met sardoniese humor: as die geliefde moet kies tussen hom en die budjie, staan hy dalk ‘n kans (65). En die hartseer “behoud” (68) oor ‘n verlore gedig en die skottel waaruit die honde nou water drink …
In die slotafdeling VI word daar ‘n wrang blik gegee op die self. “aflos” (73) word ‘n projeksie van die self se ouerword. Siekte (vrese vir die dood) word eweneens beskryf en in die genoeglike “met reëlmaat, gelyktydig” (79) word die boodskappe van bekende skrywers oopgemaak en bewaar in ‘n vers wat die tegelykertydsaspek beklemtoon. Jy lees iets; dit word ‘n gedig.
Die vers oor Leonard Cohen en die lig wat die spreker verkies, ten spyte van alles. ‘n Sterk eko-bewuste vers sluit die bundel.
Nou onlangs het Fred Pheiffer gevra of die Afrikaanse digkuns kwessies soos klimaatsverandering aanspreek. So is hy geantwoord in Die Burger:
In sy rubriek Woordewisseling: “Digters roer die siel in meeleef met die natuur” (DB 7 deser) vra Fred Pheiffer of daar al Afrikaanse digters is wat die tema van klimaatsverandering aangepak het. Bepaald ja. Daar is al by die Afrikaanse letterkunde kongres ‘n paar jaar terug hieroor gepraat. Ek verwys Fred Pheiffer na die Versindaba se webruimte: www. versindaba.co.za.
Afrikaanse digters soos Johann de Lange, Antjie Krog, Johann Lodewyk Marais, Hendrik J. Botha, Susan Smith en vele ander het al hieroor geskryf.
Veral Smith se Die aarde is ‘n eierblou ark, uitgegee in 2016, sal lig werp op die onderwerp. En die bloemlesing Ons klein en silwerige planeet van Johann Lodewyk Marais en A.D. Zuiderent, wat in 1997 verskyn het.
‘n Mens sou Willemse se naam kon bysit.
‘n Bundel met verskillende toonaarde: sardonies, wrang, melancholies, ironies, snaaks …
IV
Dus twee bundels met genoeg beduidende sterk verse vir die digkuns-liefhebber.
Joan Hambidge
Kaapstad
Junie 2024