Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
29 June 20231 July 2023

Resensie: “Vyf kleur blou” (Hein Viljoen)

 

 

Resensie: “Vyf kleur blou” deur Hein Viljoen. Naledi, 2023. ISBN 978 1776 172931

Resensent: Joan Hambidge

 

In die metafoor iets vrugbaars skuilgaan

 

I

Hein Viljoen is ‘n bekende literatuurwetenskaplike. Hierdie bundel (uitgegee deur Naledi) verklap ‘n teoretiese besinning met gedigte oor die liefde en alles wat ons daagliks besorgd maak. Slegte nuus, pynlike ontdekkings, afleggings én ouerword. Reis en landskappe …

As teoretikus het hy ‘n uitsonderlike artikel oor Elisabeth Eybers geskryf: ‘Die choreografie van ontwyking’: Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers.

Hy som op:

 

Hierdie artikel is ’n verkenning van die opvallende gebruik van woorde met die voorvoegsels on- en ont-, asook ander negatiewe, negativerende woorde, of terme van afstroping (soos die woord sonder en die agtervoegsel -loos, e.d.m.), in Elisabeth Eybers se poësie. Dit is ’n hermeneutiese ondersoek van die moontlikhede wat negativerende uitdrukkings bied, en na die rol wat hulle in haar poësie en poëtika speel. Eybers roep dikwels ’n alternatiewe wêreld deur negativering op. Dit is tekenend van haar digterlike ingesteldheid en haar poëtika.

https://literator.org.za/index.php/literator/article/view/1138 Besoek 29 Junie 2023

 

Daar is Alkant olifant (Van Schaik, 1998) saam met Chris van der Merwe wat handel oor verskillende leesmoontlikhede. By kongresse het hy bydraes gelewer oor die metafoor en ‘n gedig van Cloete laat oopwaaier. Sy projek oor die Simbolisme is ‘n baken.

Sy bydrae is enorm. Veral agter die skerms met literatuurwetenskaplike kongresse.

 

II

Vyf skakerings van blou: indigo, asuur, saffloer, siaan … en middernagblou.

Gershwin se Rapsody in Blue is hier:

https://www.google.com/search?client=firefox-b-d&q=gershwin+rhapsody+in+blue#fpstate=ive&vld=cid:2c109879,vid:eFHdRkeEnpM

Besoek 29 Junie 2023

Ons onthou almal hoe dit Woody Allen se liefdesode aan Manhattan (1979) begelei het.

Daar is verskillende stylgrepe: erns teenoor lighartigheid; spel teenoor religieuse ontwakings; natuur en die dood. Die slegte nuus van die pers. Die broosheid van die menslike bestaan met die gedig as enigste verweer.

Blou as die kleur van melancholie. Blou moskees. Blou ook ‘n kleur van helderte.

As hy skryf oor Eybers se choreografie van ontwyking, is dieselfde op hierdie bundel van toepassing. Met elke gedig daag hy die leser se intertekstuele kennis uit soos in “dekonstruksie-horries” (28) met ‘n sleutel dat al die boeke uiteindelik metaforiseer. In hierdie gedig neem hy jou na Medusa en Kristeva; Derrida en Marx. En natuurlik Cixous se lag van die Medusa. Met Paglia (en Bloom).

Teoretici in ‘n bloeddorstige riel – inderdaad. Elke teoretikus skryf teen sy of haar voorgangers in.

Soos elke digter, in Harold Bloom se terme, sy “precursors” uitdaag. A map of misreading (Yale University Press, 1975) en al Bloom se tekste oor die agonistiese en die spel met die reeds geskryfde waarteen die digter sig opstel, word hier geaktiveer. “twee variasies op Neruda” bevestig dit waarskynlik ten beste.

 

Twee variasies op Neruda

 

Soutroos

No te amo como si fueras rosa del sal, topacio
o flecha de claveles que propagan en fuego

 

ek het jou nie lief soos ‘n soutroos of ‘n topaas nie

soos een of ander rinkelende halsketting nie

ook nie soos toermalyn of soos ʼn onvervangbare

superskaarse swart diamant nie

 

ek dra jou saam in my bloed

tot in die verste donkerste vesel

waar een sel stadig uitstulp na ‘n ander

 

my liefde vir jou vloei soos ‘n rivier

diep onder in ‘n onverkende grot

waar water druppeltjie vir druppeltjie

neerslaan in wit kalkformasies

 

soos ʼn alchemis stook my liefde

in die diepste stilste nag

uit swart poeiers en bitter konkoksies

swaar lood om tot silwer filigraan

 

tas ek na jou soos ‘n sonfakkel

in die verste buitenste donkerste ruimte

na die rand van ‘n gravitasiekolk

 

my liefde vir jou fluister in jou asemhaling

in my hand wat ek langsaam duim vir duim

uitstrek en om jou skouer vou

saam in die nag in ʼn donker kamer

 

 

Rivier

 

como en la piedra fresca
del manantial, el agua
abre un ancho relámpago de espuma,
así es la sonrisa en tu rostro,
bella

 

soos koel water stroom oor ‘n klip glimlag jy

die geur van water modder biesies en mos

die rivier is jy kabbelend sondeurdrenk

kaats jy skerwe son teen die bome op

 

biesies en watergras is jy

welig vasgesuig in die sagte modder

vislarwes krieseltjies grond

varswaterplankton klein garnaaltjies

dwarrel om jou wortels rond

 

boom is jy jou wortels diep in die nat wal

jou takke buig hoog maar deemoedig bo die gras

waar vinke aan jou takkies nessies kom weef

bye heeldag om jou blommeslierte zoem

 

die berg is jy groen van gras en doringbome

klippe rooi rotsvorms ruwe kranse

sagte rondings wat die vorms van jou bors herhaal

die kelk van jou heupe jou geheime vallei

 

as ek aan jou mond raak en in jou oë kyk

sien ek die aarde in jou oë water en lug

die son vlammend bo die horison oprys

https://versindaba.co.za/2021/11/30/hein-viljoen-twee-variasies-op-neruda-soutroos/

Besoek 29 Junie 2023

 

*

Die alchemistiese proses van intertekstualiteit soos hy dig via Neruda (waarmee hy tereg die Versindaba-prys verower het):

 

soos ʼn alchemis stook my liefde

in die diepste stilste nag

uit swart poeiers en bitter konkoksies

swaar lood om tot silwer filigraan

 

En via Uys Krige en al die ander vertalers en digters vir én oor Neruda. Vyf kleure of skakeringe of weergawes, want elke (her)digter is besig met ‘n interpretasie van ‘n gedig wat gelees is. Die mosaïek van intertekste (Kristeva).

As ‘n kenner van Jacques Lacan weet Viljoen hoe die “Sondag van ‘n kind” (Opperman) werk. Hy het immers die verskillende vlakke van die imaginaire, symbolique en Réel ondersoek. Die bestaan voor taal, die rape en klawergras (die simboliese orde) met die boek (die Réel) wat ‘n religieuse byeenkoms impliseer. Uit die oog van ‘n kind. (Indertyd iewers by ‘n kongres jare, jare gelede …)

En dit vind ons eweneens in die religieuse verse soos verwoord in “katedraalvensterlig” (124).

 

III

As Opperman met sy letterkundige laboratorium ‘n geslag digters beïnvloed het, kan ‘n mens hier die invloed van TT Cloete sien soos “in ‘n neutedop” (123).

By Cloete ook die “uit die hoek van my oog”, die tersyde, die satire en erns; die gesprek met voorgangers (Leopold, Nijhoff, ensovoort) soos die ontginning van klank.

Maar die digter Viljoen ondersoek die dinge in hul dinglikheid en betrek Freud (“vrou en moeder”, 114) – maar telkemale gee hy sy eie stem of weergawe.

Ook begeertes kom aan bod.

“Desire (fundamentally in the singular) is a perpetual effect of symbolic articulation. It is not an appetite: it is essentially excentric and insatiable” (Lacan, 1977: 278). Hierom verskillende verse oor vroue en begeerte soos haikoes vir vroue. Of gefnuikte vroulike begeerte in “vrou in diakensbank” (20).

Die manlike, fallologosentriese stem word gekritiseer (en verironiseer) in “mans om die braaivleisvuur” (67) en “(H)is (M)aster’s (V)oice” (99).

Stem en teenstem. Ironie en satire. Afstand en meelewing.

Bekende en minder bekende ruimtes: o.a. Antwerpen en Parys. In die ontluisterende “Parys” (65) gek geskeer met die beheptheid met kos.

In heerlike kwatryne weet die digter dat die emosie moet “gekoel” raak (“kwatryn”, 69) en Opperman word heilig-lekker opgestuur in “Stellenbosch” (69). Oor “inspirasie” (68) word ons vermaak met die digter voor ‘n urinaal:

ek pis maar my deeltjie by: ‘n dun geel straal

Daar is “n Smolletjie vir Small” (108) en ‘n puik “middelwêreldgedig” (100), ‘n aweregse ars poetica.

Blum is hier oor die “monnemente”(81) en satiries skerp is “Mzansi (onner innie syde)” (77).

Spreektaal, verhewe taal, digterlike taal in vele woordspeletjies.

Die koronavirus (en ander demone) is die bose ondergrond van die bundel met selfs ‘n moderne Raka en Koki (46).

‘n Lang “Ode in blou” (85) gebaseer onder meer op Michel Pastoureau se Bleu: histoire d’une coleur (Seuil, 2002).

Odes, kwatryne, ‘n amperse distigon, elegieë, haikoes …

En ‘n heil die leser (35) ook (ons hoor hier “Groot Ode”)  …

“The meaning of a poem is another poem …”

En die digkuns is eweneens ‘n vorm van literatuurkritiek.

 

IV

Dit is ‘n belangrike bundel. Dit praat op verskillende vlakke. Vir my is die digter Hein Viljoen op sy beste in die korter verse soos die prag vergestaltings oor Noorweë – ‘n blou land as daar al ooit een was.

 

Bronne:

Bloom, Harold. 1975. A Map of Misreading. Yale University Press: New Haven.

 

–    1973. The Anxiety of Influence. Yale University Press: New Haven.

Lacan, Jacques. 1966/1977. Écrits – a Selection. Translated by Alan Sheridan. Londen: Tavistock.Ragland, Ellie. 1995. Essays on the Pleasures of Death. From Freud to Lacan. New York: Routledge.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Die ars poetica Deel I
Joan Hambidge. Kringloop →

2e gedagtes oor “Resensie: “Vyf kleur blou” (Hein Viljoen)”

  1. Joan Hambidge says:
    3 July 2023 at 06:25

    Beslis nie sous rature nie. Daar is etlike ander dansers ook in hierdie gedig. Die resensent het gevoel eerder nie na Hambidge verwys nie. Elders ook in die gedig “teddiebere” met o.a. ‘n verwysing na Kladboek en Fourie Botha.

    Die leser kan self verder deelneem aan hierdie dans en besluit of hy/sy die bont hemp wil skeur …

    Reply
  2. Alwyn Roux says:
    29 June 2023 at 19:57

    En in “dekonstruksie-horries” (28) Medusa en Kristeva; Derrida en Marx. En natuurlik Cixous se lag van die Medusa. Met Paglia en (belangrik) Hambidge. Om welke rede het die resensent haarself hier “onder uitwissing” geplaas?

    Ek stem saam, ‘n belangrike bundel.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie

Nuutste bydraes

  • Christa Kleynhans. Omgekeerde Borduurwerk
  • Christa Kleynhans. Oggend inventaris
  • Miel Vanstreels. Weer eens
  • Marc Tritsmans. Snoek in het riet. Vert. Daniel Hugo
  • Miel Vanstreels. Nege-en-sewentig

Nuutste kommentaar

  1. Dewald Koen on Resensie: Vers & Kapittel III (Daniel Hugo)14 October 2026

    Dankie, Joan. Ja, Daniel se kennis is inderdaad verbysterend.

  2. Joan Hambidge on Vertaling: Marc Tritsmans “Hoe ik het wil zeggen”. Vert. Daniel Hugo14 October 2026

    Puik vertaling.

  3. Anzé Bezuidenhout on Anzé Bezuidenhout. Versteende onthou12 October 2026

    Baie dankie vir jou saamlees en kommentaar Gert

  4. Anzé Bezuidenhout on Pierce van Tonder. my vuurvliegie-gedagtes12 October 2026

    Absoluut tasbaar en puik gedoen!!

  5. Anzé Bezuidenhout on Anzé Bezuidenhout. Versteende onthou12 October 2026

    Baie dankie Versindaba vir die plasing en blootstelling

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d