Sonja (S): Baie geluk met die verskyning van jou debuutbundel, Alwyn. Die bundel bevat gedigte wat oor ’n tydperk van meer ’n dekade geskryf is, met van die oudste uit 2010. Was poësie in hierdie tydperk iets waarmee jy jou voortdurend besig gehou het, of eerder ’n bemoeienis wat gekom en gegaan het?
Alwyn (A): Poësie is iets waarmee ek my voortdurend besig hou, Sonja. Ná my PhD-studies in 2015 het ek vir ’n MA-verhandeling by Marlene van Niekerk en Willem Anker by die Universiteit van Stellenbosch aangeklop. Ongelukkig kon ek dit nie suksesvol deurvoer nie, want ek het te veel merkwerk by Unisa gehad en was akademies uitgeput na sewe jaar se navorsing oor Breyten Breytenbach en Lucebert se latere poësie. In November 2019 het ek egter by Louis Esterhuizen aangeklop en die Versindaba se Byderhand-kursus voltooi. Dit het my heelwat meer selfvertroue in die skryf van gedigte gegee en gelei tot die voltooiing van Weerskyn. Dit is die letterlike verhaal.
Die meer filosofiese perspektief is dalk van meer waarde. Ek is besig met die lees van ’n boek, getiteld The Book of Secrets: 112 Meditations to Discover the Mystery Within (1975[2012]) deur die Indiese geestelike, Osho. Alhoewel ek myself heeltyd gedurende hierdie periode met poësie besig gehou het, is dit feitlik onmoontlik om die heeltyd binne daardie kreatiewe vlam te moet leef.
“Look at a poet. When he is in his poetic mood he looks like a buddha; he forgets himself completely. The ordinary man in the poetic mood is as if he is no more there. So when a poet is in his mood, he has a peak – a partial peak. And sometimes poets have glimpses which are only possible with enlightened, buddha-like minds. A poet can speak like a buddha. For example, Khalil Gibran speaks like a buddha but he is not a buddha. He is a poet – a great poet. So if you see Khalil Gibran through his poetry, he looks like Buddha, Christ or Krishna.
But if you go and meet the man Khalil Gibran, he is just ordinary. He talks about love so beautifully – even a buddha may not talk so beautifully. But a buddha knows love with his total being. Khalil Gibran knows love in his poetic flight. When he is on his poetic flight, he has glimpses of love – beautiful glimpses. He expresses them with rare insight. But if you go and see the real Khalil Gibran, the man, you will feel a disparity. The poet and the man are far apart. The poet seems to be something which happens to this man sometimes, but this man is not the poet.
That is why poets feel that when they are creating poetry someone else is creating; they are not creating. They feel as if they have become instruments of some other energy, some other force. They are no more. This feeling comes because, really, their totality is not actualized – only a part of it is, a fragment” (Osho, 2012:158-159).
S: Hoe het jou digterskap in hierdie tyd verander? Was daar ontdekkings oor jouself of oor poësie wat die pad na publikasie help oopmaak het?
A: As mens van die standpunt uitgaan dat die lewe eers moet gebeur voordat mens gedigte kan skryf, dan is dit noodwendig dat jou digterskap met die verloop van tyd heelwat gaan verander. Omdat ek materiaal uit my eie lewe neem om gedigte te skryf, is dit onvermydelik dat ek oor verskillende fases van my lewe sal skryf. So is daar byvoorbeeld ’n verskil in aanpak tussen “’n Vreemdeling se graf” (10-11), wat ek aan die begin van hierdie tydperk geskryf het, en “Skielik is daar minder oor van my as vroeër” (82), wat ek in 2020 ná my pa se afsterwe geskryf het. Die aanvanklike fassinasie met die dood het plek gemaak vir ’n gevoel van ontnugtering by die dood van ’n geliefde. ’n Mens sou dus kon argumenteer dat ’n mate van volwassewording ingetree het.
’n Belangrike ontdekking wat ek op pad na publikasie gemaak het, is dat ek daarvan hou om gestruktureerd te werk. Ek geniet dit om deur leseenhede te werk wat sekere onderwerpe soos “konteks en resonansie” of “verstegniek” dek en dan daardie idees prakties toe te pas op die skryf van gedigte. Ek het al meer ’n vakman in die poësie geword eerder as om op blote “talent” te vertrou. Verder het ek besef dat konstruktiewe kommentaar vir my as individu baie belangrik is. Ek het in 2012 ’n poësiekursus by die Universiteit van Pretoria bygewoon, wat Joan Hambidge aangebied het. Sy het aan die begin van die werkswinkel genoem dat mens werk met mense se emosies en dat mens daarom respek moet hê vir ander deelnemers se werk in die werkswinkel. Ek herhaal hierdie advies telkens vir my eie kreatiewe skryfkuns-studente aan Unisa.
S: Dit blyk dat die reise wat jy onderneem ’n belangrike impuls is vir ’n hele aantal verse in Weerskyn. Sou jy dalk kommentaar wou lewer hieroor?
A: Nie dat ek daarop ingestel is om reisgedigte te skryf nie, Sonja, maar miskien omdat ek tydens reise baie meer ontspanne is as in die normale lewensgang. Ek reis altyd met ’n A5- of A6-notaboekie rond en maak seker ek vat ’n pen, potlood en uitveër. Om nuwe plekke te beleef, bring ’n sekere energie vorendag, en daardie aanvanklike gewaarwordings wat mens neerskryf op papier, word meermale gedig. Soms gebeur dit dat gedigte hulself selfs heel spontaan aanmeld. Ek weet nie of dit “’n belangrike impuls” is en of dit eerder ’n geval is van nou kan ek bietjie in ’n notaboek sit en krabbel terwyl ek by die trein se venster uitkyk en ons êrens heen ry sonder dat ek agter die stuur hoef te wees nie.
S: Die filosofie, met byvoorbeeld verwysings na werk van Martin Heidegger en Deleuze en Guattari, vind neerslag in sommige verse. Is dit, naas jou navorsing oor literêre teorie en letterkunde, vir jou ’n prominente belangstellingsveld? Hoe het jou gemoeidheid met die filosofie ontstaan?
A: Filosofie is beslis een van my prominente belangstellingsvelde, naas literêre teorie en letterkunde, maar ek is nie ’n puris nie. Ek hou daarvan om grensgebiede te verken. Dit is juis die plekke waar filosofie en letterkunde mekaar ontmoet wat my interesseer. Ek weet nie presies hoe ek hierdie belangstelling in filosofie ontwikkel het nie. As ek moet raai, kom dit waarskynlik van my ouerhuis af. My pa was ’n predikant en my ma ’n musiekonderwyseres. Daar is iets omtrent die teologie wat baie filosofies van aard is, en musiek beliggaam natuurlik die poësie. ’n Kombinasie wat klaarblyklik gelei het tot die bestudering van letterkunde en die skryf van gedigte. Dit is Wittgenstein wat gesê het, “Philosophy ought really to be written only as a form of poetry”. Op universiteit het ek drie mentors gehad: Hein Viljoen, Heilna du Plooy en Rita Swanepoel. Elkeen van hulle het my verder begelei in die literatuurwetenskap, liefde vir die poësie en kunsgeskiedenis. Onderliggend aan elkeen van hierdie vakgebiede, is die filosofie. Daarom dat ek ook in my PhD-tesis ’n hoofstuk aan Heidegger se kuns- en bewoningsfilosofieë ingesluit het.
S: “Van pyn is altyd iets te maak.” Sou jy, in die lig van hierdie openingsreël uit die gedig “Oggendlied”, iets kon sê oor die skryf van gedigte oor pynlike ervarings? Vind jy dat dit helend is om oor sulke gebeure en ervarings te dig, of twyfel jy?
A: Die verloop van tyd is die ding wat pyn ligter maak, nie noodwendig skryf nie. Tog is daar ’n ander manier om daarna te kyk. ’n Kollega by die hoërskool waar ek onlangs my proeftyd afgelê het, sê dat sy my digbundel as ’n dagboek beleef het. Dit het my herinner aan ’n praktyk om foto’s op verskillende fases van jou lewe te organiseer in ’n poging om ’n soort argetipiese reis aan te dui. So ’n praktyk lei besmoontlik tot individuasie. Gedigte oor verskillende fases van jou lewe het seker dieselfde effek as foto’s. In daardie opsig kan skryf wel ’n sterk psigoterapeutiese oefening wees, wat onbewuste aspekte van die self integreer met meer bewuste aspekte van die self.
Ek hardloop graag. Een van my hardloopmaats, het eendag toe ons gedraf het gevra of hy ’n poging kan aanwend om ’n analise van “’n Vreemdeling se graf” te maak. Hy meen die vreemdeling is vorige weergawes van die self wat afsterf om plek te maak vir nuwe weergawes van die self. As iemand wat nie enigiets met die letterkunde te doen gehad het nie, was ek nogal uit die veld geslaan deur sy analise. Vandag kan ek nie anders aan die gedig se betekenis dink nie.
S: Een van jou motto’s, uit Seamus Heaney, handel oor die skryf van poësie “to set the darkness echoing.” Dit is duidelik dat die duisternis in hierdie bundel onder meer die dood omvat. Kan jy kommentaar lewer oor die tematiese belang van die dood in jou bundel?
A: Ek het hierbo gepraat van die verskil tussen my aanvanklike fassinasie met die dood en die ontnugtering by die belewing daarvan. Die dood as tema in die bundel is voortdurend vanuit verskillende sienswyses aanwesig. Die karkas van ’n hond langs die pad in “Trappe van Vergelyking” (26) dra nie dieselfde gewig as die gedig oor die pa-figuur wat doodsberigte moes oordra aan geliefdes nie (28). Die intensiteit van die tematiek rondom die dood neem natuurlik toe met die Covid-19-pandemie, alhoewel die individuele verhaal binne die geskiedkundige gebeurtenis steeds ‘n prominente plek inneem.
Vir die een of ander rede dink ek nou aan Philip Larkin se gedig, “The Mower”:
The Mower
The mower stalled, twice; kneeling, I found
A hedgehog jammed up against the blades,
Killed. It had been in the long grass.
I had seen it before, and even fed it, once.
Now I had mauled its unobtrusive world
Unmendably. Burial was no help:
Next morning I got up and it did not.
The first day after a death, the new absence
Is always the same; we should be careful
Of each other, we should be kind
While there is still time.
Philip Larkin. “The Mower” uit Collected Poems. Bron:
Collected Poems (Farrar Straus and Giroux, 2001).
S: Van die kragtigste verse in die bundel handel oor jou oorlede pa. My persoonlike gunstelinge is “opdraandes is jou kos” en die diep ontroerende “saalopening”. Saam gelees skep hierdie verse die indruk van ’n bestekopname van ’n lewe, van die verhouding tussen ’n pa en seun, asook van die politieke kontekste wat die agterhang was waarteen dit alles oor jare afgespeel het (ek dink hier aan verse soos “voor 1994” en “diensplig”). Ek wonder hoeveel van hierdie verse is voor sy dood geskryf, en hoeveel daarna?
A: Die verse wat jy hier noem, het ek geskryf ná die dood van my pa. Hierdie verse het hulself by my aangemeld. Ek het nie vooraf lank gesit en dink dat ek hieroor gedigte wil skryf nie. Miskien is dit ’n manier waarop ek herinneringe onbewustelik aan die vergetelheid probeer ontruk het, om te onthou wie my pa vir my was toe ek nog ’n kind was.
S: Die titel is die eerste aanduiding van die bundel se volgehoue aandag aan die afwisselende teenwoordigheid en saambestaan van duisternis en lig, donker en weerkaatsings, dag en nag, droom en werklikheid, wolk en wêreld en miskien ook dood en (her)geboorte. Dit alles word geraam deur die eerste en laaste vers wat in gesprek staan met mekaar. Is ek op die regte spoor met hierdie interpretasie?
A: Ek hou van jou stelwyse: “die afwisselende teenwoordigheid en saambestaan”. Dit is vir my mooi, want die saambestaan van duisternis en lig, en donker en weerkaatsings, is iets wat mens op daardie wyse moet begelei. Dis George Bataille wat geskryf het: “It is possible that the impossibility of poetry is itself the condition of poetry.” Hierdie saambestaan van uiterstes, wat daarsonder nie sou gewees het nie, is integraal deel van die komposisie. Dit laat dink my nou aan ’n gedig wat ek in my matriekjaar geskryf het, veral die epigraaf geneem uit Matteus:
Naglied van die donkerte
As die lig in jou donkerheid is,
hoe groot is die donkerheid nie (Matt. 6:23)
Ons kontrei is wit papier,
en die heilige eensaamheid
waar ons mekaar toevallig raakloop
as karikature van verlore heiligheid.
Wie is jy dan –
die hede, toekoms of verlede?
Want ek het jou geken
as die antwoord op gebede.
S: Een van die mooiste weerkaatsings en/of omgekeerde beelde wat in die bundel voltrek word, is dat die verse oor die dood mettertyd plek maak vir verse oor nuwe lewe (die geboorte van ‘n kind). Sou jy kommentaar wou lewer hieroor?
A: Dit is ’n mooi beeld wat voltrek word in die bundel, alhoewel dit nie so beplan was nie. In daardie opsig is dit waar wat hul sê, “art imitates life”. Natuurlik probeer mens als om jou baba te kry om te slaap, en dan luister mens na Brahms se wiegeliedjie, oor en oor. Dan op ’n stadium gaan sit jy om iets te skryf, en wiegeliedjies skryf hulself. Mens sou nie vanuit die staanspoor kon dink dat hierdie ’n mooi weerkaatsing sou wees nie, maar vanuit die voltooide toekomende tyd, waarvan ons nou kyk, is dit tog mooi. ’n Omgekeerde beeld, voltrek.
S: Sou ’n mens die bundeltitel ook kon lees as ‘n kunsteoretiese toespeling op die hoeveelheid verse wat ander digters se werk herinterpreteer, in nuwe vorm giet en laat “weerskyn”?
A: Ja, ’n mens kan die bundeltitel lees as ’n kunsteoretiese toespeling op die proses waarin jy ander digters se werk herinterpreteer en dit in nuwe vorm giet, wat lei tot ’n unieke weerspieëling van hul invloed in jou eie verse. Theodore Roethke se essay, “How to Write like Somebody Else”, bied ’n insiggewende raamwerk om hierdie idee te verstaan en te waardeer. Roethke verduidelik dat die proses van nabootsing ’n belangrike leermeganisme is vir digters: “Is it an effrontery to summarize? Imitation, conscious imitation, is one of the great methods, perhaps the method of learning to write” (Roethke, 1965). Hierdie proses stel veral jong digters in staat om hul eie stem en styl te ontwikkel deur middel van die ontleding en aanpassing van ander digters se werk. Dit is juis hierdie proses van leer en aanpassing wat ’n belangrike rol speel in die skep van oorspronklike poësie, en wat die kern van my bundeltitel Weerskyn veronderstel.
S: Daar is soveel treffende en lieflike openingsreëls in jou bundel: “Ek sal my dae soos gewondes op ’n slagveld verpleeg”, “Die dood van my pa is soos die val van apartheid”, die reeds genoemde “Van pyn is altyd iets te maak” en selfs die tong-in-die-kies “My vriend se ouer suster se kamermaat se dogter.” Begin verse soos hierdie met ’n sterk openingsreël wat jou te binne skiet, of gebeur dit andersom?
A: Sonja, baie dankie vir jou kompliment oor die openingsreëls in my bundel. Ek moet erken dat ’n gedig dikwels vir my begin met ’n sterk openingsreël. Hierdie reël dien as ’n vonk wat die res van die gedig aan die brand steek. Elke openingsreël dra vir my ’n bepaalde krag en belofte, en dit is daardie krag wat my lei om die res van die gedig te skryf (ek skaar myself dikwels na die openingsversreël in die uitskryf van die gedig). Sonder daardie eerste reël voel ek dikwels verlore.
S: Jou aanpak is tegelykertyd tradisioneel (rym, ritme, die digterlike konvensies van tradisionele versvorme soos die kwatryn) en meer eksperimenteel (byvoorbeeld die gevonde vers). Hou dit verband met die eklektiese inspirasiebronne en intertekste wat in die bundel weerklink, met reaksies en verwerkings van sowel “ouer” en “nuwer” poësie asook “ou” en “nuwe” media?
A: Sonja, my aanpak in my poësie hou inderdaad verband met die eklektiese inspirasiebronne en intertekste wat in my bundel weerklink. Hierdie benadering is ’n direkte gevolg van my leeswerk wat my skryfwerk in verskillende rigtings stuur. Dit is dalk omdat ek steeds op soek is na my eie stem deur ’n groot klomp bronne te gebruik. Ek weet nie of dit altyd so sal wees nie, maar ek vermoed dat ek later meer vertroue in ’n sekere styl sal ontwikkel. Ek wil myself in elk geval genoeg tyd gee om talle style te verken en my eie te maak. Hoe dit ook al sy, as dosent in kreatiewe skryfkuns, stel ek myself en my studente voortdurend bloot aan resente poësiehandleidings. Enkele van die boeke wat ek byvoorbeeld vir my derdejaars aanbeveel het, sluit in:
- How to Write a Form Poem (2021) deur Tania Runyan
- The Art of Voice (2019) deur Tony Hoagland
- The Portable Poetry Workshop (2017), saamgestel deur Neil McLoughlin
- A Little Book on Form (2017) deur Robert Hass
- How to Write a Poem (2015) deur Tania Runyan
- To the Islands (2014) deur Anne Schuster en Erica Coetzee
- Metre, Rhythm and Verse Form (2006) deur Philip Hobsbaum, aanbeveel deur Marlene van Niekerk
- The Intimate Art of Writing Poetry (2000) deur Ottone M. Riccio, aanbeveel deur Joan Hambidge
S: Jy en die digter Tom Dreyer was onlangs op ’n digterstoer in die Lae Lande. Kan jy kortliks effens meer vertel, met ook iets oor hoe jou werk daar ontvang is?
A: Die boektoer was van 15 tot 21 Maart. Ons het ’n besige program gehad, maar dit was baie pret. Ons het nie regtig geweet wat om te verwag nie, omdat ons mekaar nie juis voor die tyd behoorlik geken het nie. Maar ek moet sê, vir my was dit ’n baie goeie geleentheid. Een vir die boeke. Want Tom is ’n enigma. Dit is min dat jy iemand kry wat te slim is om in menslike vorm geskape te wees. Hy is een van hulle. Daarom dink ek hy is eerder iets soos Breytenbach se boenk, “’n nuwe dier met 3 oë en 5 bene en dus altesaam 31 tone”.
Die Lae Lande het ons goed ontvang: Leiden, Amsterdam, Tilburg en Gent. In Leiden het ons saam met dr. Jos Damen op ’n fietstoer gegaan om die muurgedigte van Ingrid Jonker en Elisabeth Eybers te bekyk. In Amsterdam het ons by Perdu opgetree saam met Nachoem M. Wijnberg en Hannah van Binsbergen. Wijnberg het in 2019 die PC Hooftprys gewen en Van Binsbergen was die eerste debutant wat ooit die VSB-prys gewen het. Dié aand was ’n intieme gesprek met ongeveer twintig mense in die gehoor. Dit was lieflik. Ek voel half jammer vir almal wat nie daar kon wees nie.
Tilburg het uitgehaal en gewys. Carina van der Walt het ons onthaal. Voorheen het sy die Weverhuisje gehad, waar talle Afrikaanse digters gaan kuier het. Sy het ons op ’n toer deur die stad na drie muurgedigte geneem. By elkeen van die muurgedigte het voormalige stadsdigters van Tilburg hul gedigte voorgelees en iets oor die gedig se agtergrond vertel. Die digters het Jasper Mikkers, Nick J. Swarth en Jace van de Ven ingesluit. Daardie dag het ons ook ’n werkswinkel met dié en ander digters en visuele kunstenaars in LocHal gehad, die openbare biblioteek in Tilburg, wat werklik ’n argitektoniese belewenis is.
Daarna is ons na Gent, waar ons ’n middaguurgesprek met dr. Martina Vitackova in die Fakulteitsraadsaal gevoer het. Dr. Janien Linde van die Noordwes-Universiteit het ook ’n referaat aangebied oor relasionaliteit en teoretiese verskuiwings in die lees van Pieter Odendaal se Ontaard (2023). Die volgende oggend het ons ’n Samespraak-geleentheid by die Poëziecentrum op die Vrijdagmarkt gehad. Prof. Jürgen Pieters, literatuurwetenskaplike aan die Universiteit Gent, het met ons ’n onderhoud gevoer.
Die digterstoer het al my verwagtinge oortref en ons is reeds in die beplanningsfase van ’n muurgedigteprojek in Suid-Afrika wat moontlik die lig gaan sien. Hou maar dop!
Dankie hiervoor Sonja. Jy vra die regte vrae. Ek is gaande oor hierdie bundel.
Voornemende digters moet hierdie lees. En leer.